deur Alana Bailey
Met die vestiging van ’n verversingspos aan die Kaap in 1652, was die voorsiening van gemaalde graan aan die plaaslike gemeenskap en besoekende skepe ’n belangrike taak. Aanvanklik is ’n tipe perdemeul gebruik om die maalwerk te doen. By gebrek aan perde, is osse ingespan om dit aan te dryf. Veediefstal het die taak bemoeilik en dus, met hulle kennis van die aanwending van windkrag, het Kaapse koloniste besluit dat windmeulens die ideale antwoord bied. Ongelukkig het die Kaap se hewige windstorms dit dikwels beskadig en dan het die maalstene tot stilstand gekreun. In 1717 het die Nederlandse owerhede dus besluit dat spesialis messelaars, skrynwerkers, bakstene en materiaal na die Kaap gestuur moet word om ’n meul op te rig wat die elemente beter sou kon weerstaan. Só is die sogenaamde “Oude Molen” opgerig. Dit het deur die eeue tot niet gegaan en vandag kom net die naam nog op Kaapse kaarte voor.
Heelwat plase het teen die einde van die agttiende eeu om die Kaapse hawe teen Tafelberg se hange uitgestrek. Plaasname uit dié tyd het in die name van hedendaagse woonbuurte oorleef, byvoorbeeld Oranjezicht en Vredehoek. In hierdie vrugbare omgewing het families soos die Smutse, Van Bredas en Hofmeyrs vooruit geboer.
Mettertyd is meer meulens opgerig – ook wat in privaatbesit was. Die bekendste van hulle is die kleinerige Mostert se meule, wat in ongeveer 1796 op Welgelegen, die plaas van Dirk Gysbert van Reenen, opgerig is. Van Reenen se dogter is later met ’n Mostert getroud en sodoende het die meule aan sy naam gekom.
Teen 1873 het die meule ophou werk en begin verval. Vanaf 1935 is dit egter deeglik met regeringsbefondsing en steun van die Nederlandse regering gerestoureer. Chris Bremer van ’n Nederlandse meulewerke maatskappy in Groningen se omgewing het spesiaal na die Kaap gereis om die groot taak aan te pak. Hy het gevind dat die meeste onderdele van die meule behoue gebly het en het gepoog om soveel as moontlik daarvan te herstel en behou. Onderdele wat ontbreek het, is in Nederland vervaardig en na Suid-Afrika verskeep.
Op 1 Februarie 1936 is die meule in werking gestel deur Nederland se gevolmagtigde minister en buitengewone gesant, dr. H.A. Lorentz. Dit was deel van ’n seremonie waar die destydse eerste minister, generaal J.B.M. Hertzog, ook teenwoordig was. In 1940 is dit tot nasionale monument verklaar. In 1986 het die windas gebreek en die seile neergestort, maar dit is onder die toesig van die departement van Openbare Werke herstel. In 1993 het ’n groep erfenisentoesiaste die organisasie “Vriende van Mostert se meule” op die been gebring. Hulle het met die departement onderhandel en in 1995 is die meule teen ’n koste van sowat R245 000 deur dieselfde firma gerestoureer wat in 1935/6 onder die toesig van Chris Bremer die taak verrig het. Herstelwerk is ook weer in 2015 gedoen – foto’s daarvan kan op die meule se amptelike webwerf – http://www.mostertsmill.co.za – gesien word.
Mostert se meule het uiteindelik die enigste oorblywende werkende windmeul suid van die Sahara in Afrika geword. In onlangse jare was die meule dikwels op Saterdae oop vir die publiek om eerstehands te sien hoe dit werk, maar in 2020 het COVID-19 inperkings verhoed dat die demonstrasies voortgaan. Die meeste besoekers aan Kaapstad het dit van die snelweg se kant gesien – ’n kompakte herinnering aan ’n vergange era in ons geskiedenis.
Op Sondag, 18 April 2021, het dieselfde wind wat soveel eeue lank die meule aangedryf het, egter in ’n vyand verander en ’n veldbrand wat oorkant die snelweg teen die hange van die berg ontstaan het, na die meule laat versprei. Groot skade is aangerig, maar dit kom tog voor asof heelwat van die oorblyfsels herbruik sal kan word. Planne vir die herstel van die meule is reeds in volle swang, maar die koste kan maklik meer as ’n halfmiljoen Euro bedra, skat die Groningse firma wat vir die restourasieprojekte van 1935/6 en 1995 verantwoordelik was.
Lede van die publiek wat graag ’n bydrae wil maak, kan ’n skenking in die organisasie, Vriende van Mostert se meule, se bankrekening inbetaal. Die besonderhede is: Standard Bank, lopende rekening “Friends of Mosterts Mill”, nommer 077 441 672. Die takkode is 051001. AfriForum sal beslis tot die projek bydra.
Vanuit Nederlandse geledere is ’n skarefondswerwingsprojek ook van stapel gestuur. Dit is dalk ’n makliker opsie vir mense met buitelandse bankrekeninge. Sien https://www.gofundme.com/f/mosterts-mill-restoration-fund?qid=6cd82a94549618199c2779274ed42ef0.
Het enige lesers dalk spesiale herinneringe aan die kosbare ou gebou, of mooi foto’s daarvan? Laat weet ons gerus by Wêreldwyd en help asseblief dat dit vir die nageslag herbou en bewaar bly.