’n E-pos uit Nieu-Seeland: Ons ervaringe in Nieu-Seeland

28/09/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
IMG_20201229_133938-scaled

Deur Heila du Plessis

Ons bly tans in Rangiora, 26 km noord van Christchurch. Ons het 2006 geëmigreer na Nieu-Seeland en het met feitlik niks begin – $10 000 in die sak en ons reistasse.

Andries het by Holcim ’n werksaanbod gekry en ons moes drie maande wag vir ’n werksvisum. Tydens dié wagtyd het ons by my broer in Auckland gewoon, ons mediese ondersoeke gedoen en die area in en om Auckland verken. Ons het ’n eerste tweedehandse motor aangeskaf en getoer. Nieu-Seeland is ’n pragtige land.

Nadat ons werksvisums uitgereik is, het ons vertrek na die Suideiland, na ’n klein dorpie aan die pragtige weskus wat my so laat verlang het na die tuinroete in die Kaap – net so asemrowend mooi.

Hier het ons geleer dat reistyd per motor in tyd gemeet word, nie per kilometer nie. Ons het ook in Wellington gebly – nege ure per motor van Auckland. Moeg en tevrede het ons die aand gepraat oor die reis, die “desert road”, die pragtige berg wat ook ’n ski-oord is, wat my soos ’n kind gefassineer het. Dit is iets wat ons mos nie ken as jy van die Hoëveld kom nie.

Die volgende môre het ons opgewonde uitgesien na die veerboot oor Cook’s Straight na die Suideiland. Dit was Mei 2006 en winter, die suidelike Alpe verrys spierwit en is asemrowend mooi. Dit was koud op die veerboot en ek het nie lank buite vertoef nie. Die rit is drie ure, die sitplekke op die veerboot was gemaklik en die uitsig pragtig. Ons het 10:00 die oggend in Picton aangekom en van daar die pad gevat Nelson toe. Ons het vertoef in Nelson en vis en skyfies by ’n hawekafeetjie geëet. Westport was 300 km van Nelson en ons het gereken dit sal ons drie ure per motor neem tot daar. Ons het die kafee-eienaar gevra hoe lank sal ons ry na ons bestemming en met ’n skok verneem dit sou vier tot vyf ure neem. Boonop het dit begin reën … stortreën. Wel, ons het vertrek en moes toe agterkom dit is ’n erge kronkelpad deur die bergpasse; en met die swaar reën kon ons nie vinnig ry nie.

By ons bestemming aangekom, moeg en koud, was ons dankbaar vir die moteleienaar wat die verwarmers aangeskakel het. 

Ons het ’n maand in die motel gebly en het ’n firmahuis gekry ’n entjie uit die dorp. Ons het Suid-Afrikaanse vriende ontmoet en het meer tuis gevoel. Ek het baie na my kinders in Suid-Afrika verlang en het in Mei 2007 in Witbank gaan kuier. 

So het Andries sy kontrak deurgewerk en ons is terug Auckland toe, maar ná twee jaar terug na die Suideiland na ’n buurdorp van Westport, Greymouth (genoem na die rivier wat uitmond in die see.)

Andries het ’n goeie werk by ’n firma gekry. Die dag toe ons intrek het Andries gesien die voerpyp wat die water in die groot tenk uitlaat het uitgetrek. Ek was besig om uit te pak in die kombuis, die huis was net buite die dorpsgebied op ’n “lifestyle block”. Andries het 3 m ver van die enorme watertenk afgeval, en ek kon in daardie stadium niks hoor nie, want die radio het gespeel.

Hy is die volgende môre werk toe waar hy inmekaargesak het. Nadat hy weer kon opstaan is hy hospitaal toe gestuur om die ortopeed te sien. Hulle het toetse gedoen, x-strale geneem en het gesê hy is reg om te werk. Die volgende dag het dit weer gebeur en by die hospitaal het ’n ander ortopeed hom getoets. Hy kon niks voel op sy linkerbeen nie en is verwys vir ’n MRI-skandering van sy nek in Christchurch. Dit het getoon hy het agteroor geval en die werwel in sy nek het sy rugmurg met twee derdes afgesny, en dat sy senuwees wat die linkerbeen beheer nie werk nie.

Hy is geregistreer onder ACC, (Nieu-Seeland se ongevallediens) en is deur dr. Ronald Boet, ’n Suid-Afrikaanse neuroloog geopereer. Sy herstel het lank geneem, ek het nie gewerk nie en ons het besef ons sal moet verhuis na Christchurch om nader aan die spesialiste te wees. Om van die weskus af te reis neem vier ure oor die berge, en as dit sneeu word die paaie toegemaak.

Ek het werk gekry by tandheelkundige dienste vir buitepasiënte. Andries is ’n wandelende wonderwerk, ons Hemelse Vader het ons deur dit alles gelei. Ons kon ná agt jaar in Nieu-Seeland ons eie huis koop. Ons is baie dankbaar dat ons hier is. Andries was in Suid-Afrika afgelê en was twee jaar sonder werk – dit was die groot rede waarom ons geëmigreer het.

Dit is ons storie, en ek is dankbaar om dit met julle te deel. 

Vriendelike groete uit Nieu-Seeland 

Heila en Andries du Plessis 

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels