Geskryf deur Zey Small en Deirdré Norval
Suid-Afrikaners vier taal, tradisie en samehorigheid tydens ’n onvergeetlike markdag in Saskatoon.
Ons kan met dankbare harte sê dat die Suid-Afrikaanse Mark wat Saterdag 27 Julie 2025 in Saskatoon, Saskatchewan plaasgevind het ’n reusesukses was!
Ongeveer 2 000 mense vanaf reg oor Kanada het opgedaag om die sowat 40 stalletjies van uitstaande gehalte te ondersteun. Besoekers so ver as Ontario, Alberta en Manitoba het spesiaal die langpad aangepak om deel te wees van hierdie jaarlikse fees. Buiten Suid-Afrika was ander Afrikalande soos Zimbabwe, Lesotho, Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Ghana ook verteenwoordig.
In die Prêries kon mens die warm hart van Afrika voel klop. Soos in die verlede het die inwoners van Saskatoon ons verkopers, veral die kos, gretig kom ondersteun. Sommige omdat hulle ons mense en ons heerlike kos ken, ander bloot uit nuuskierigheid.
Die son het oor ons geglimlag en die briesie het net genoeg gewaai om die hitte te breek en die aangename geure van boerewors, sosaties, kerriebrood (bunny chow), kerrie en rys en pannekoek rond te dra. In die agtergrond het Afrikaanse musiek ons herinner aan die 100 jaar herdenking van Afrikaans as amptelike taal hierdie jaar. Daar was ook oulike plakkate met Afrikaanse gesegdes, Afrikaans se ontstaan en advertensies om jou te herinner aan hoe kleurvol die wêreld se jongste taal nou eintlik is.
Op versoek het ons ook hierdie jaar kuiertafels verskaf waar mense sommer vroeg in die dag al gesmul het aan die heerlikste kos en drinkgoed, gekuier het met ou bekendes asook nuwe vriende, en ’n wyle gerus het voor hulle verder die mark verken het.

Vir diegene met kompetisie in hul bloed, was daar geleentheid om deel te neem aan rugby, netbal, ’n sokkiekompetisie (met eregaste Jo Black en Appel as beoordelaars) en selfs ’n koekie-eet-kompetisie vir die tieners. Ouers kon die jonges loslaat om hul op die springkastele te geniet en van al die energie ontslae te raak.
Daar was ou gunstelinge, soos gemmerbier, Hertzoggies, beskuit, melktert, koeksisters, biltong, droëwors en nuwe lekkertes soos melktertgegeurde roomys, beestalgroom (beef tallow cream), biltongroomkaas, malvapoeding- en Romany Creams-beskuit.
Laastens kan ons regtig sê dat die handwerktafels hierdie jaar puik was en die goeie verkope van hul produkte het weereens getuig dat daar ’n diep waardering bestaan vir iets wat deur iemand self gemaak is uit ’n liefde vir ons kultuur.
Pragtige hekelwerk, tafellinne, macramé, tradisionele batik van Zimbabwe, mooi linne en sakke met Kuba-materiaal van die Demokratiese Republiek van die Kongo, biltongkaste vir die wat smag na hul eie biltong in die verte, Shweshwe-sakke, draadproteas en houtwerk, aromatiese seep en 3D-produkte en vele meer.
Die Suid-Afrikaanse gemeenskap se hande staan vir niks verkeerd en hul kreatiwiteit ken geen perke nie! Ons het selfs ’n 100 jaar herdenkingsmunt die lig laat sien, die breinkind van Johann Malan en ontwerp deur Zey Small!
Die markdag is afgesluit met ’n konsert, aangebied deur promotor, Arno Nel van SA Events in Kanada en die VSA, in samewerking met AfriForum Wêreldwyd. Die gees was groot en mense het heerlik saamgesing en langarm gedans terwyl Jo Black en Appel ons vermaak het. Kanadese het opgemerk dat ons Suid-Afrikaners se kos baie lekker is en dat ons voorwaar ’n jolige klomp is. Ons is huis toe met dankbare harte en hernieude hoop en moed om die lewe vir onsself lekker te maak hier op die Kanadese Vrystaat-vlaktes!
Ons sien opgewonde uit na 2026 se mark!

Wat gebeur naby jou?
Het jy geweet AfriForum Wêreldwyd bied ’n gratis diens waar jy enige (Suid-)Afrikaanse byeenkomste of feeste op ons platform kan bemark? Stuur gerus ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en laat weet ons van enige lekker Afrikaanse byeenkoms in die buiteland.
























