’n Stil hunkering na die bekende – sonder oordeel

09/06/2025
| Deur Sue-Ann de Wet
’n Stil hunkering na die bekende – sonder oordeel

Emigrasie gaan dikwels gepaard met groot veranderinge – ’n verskuiwing na ’n nuwe leefwêreld met onbekende roetines, ander gewoontes en ’n vreemde ritme van die alledaagse. Aanvanklik is daar soveel om te leer en te verken, maar soos die eerste nuwigheid begin wyk, maak die aanvanklike avontuur plek vir realiteit, en kom daar dikwels ’n ander gevoel wat jou onverwags betrap: ’n stil, diepe hunkering na die bekende – na die taal, geure, mense en maniere. Die wêreld wat jou gevorm het.

Dit is nie altyd iets wat hardop gesê word nie, want daardie heimwee is kompleks, soms selfs met skaamte of oordeel omhul – veral wanneer dit kom van ander emigrante of familie wat agtergebly het.

Verlange sonder oordeel

Om iemand se verlange af te maak as swakheid, sentimenteel of onrealisties is om ’n belangrike deel van die menswees te misken. Om te mis wat dit beteken om jouself te herdefinieer in ’n nuwe kultuur terwyl jy steeds lojaliteit voel aan ’n ander wêreld – een met bekende geluide, geure, mense en plekke.

Die verlange na ’n ou gunsteling-TV-program, ’n bakkery se vars beskuit, jou ouma se kombuis of net die manier waarop mense “ja-nee” sê – dit klink klein, maar is gewortel in iets groter: die behoefte aan behoort.

En tog is dit juis hierdie ervarings van verlies en herinnering wat jou menslik maak. Jy mag verlang. Jy mag ’n traan pik vir ’n Kaapse sonsondergang, al is jy nou in ’n Europese winter. Jy mag mis wat vir ander net “kleinighede” is. Dit is nie ’n swakheid nie – dit is jou storie.

Die ander oordeel: Kritiek van binne die diaspora

Baie emigrante ervaar dat hul hunkering na die bekende nie net van binne kom nie, maar ook van buite aangevat word – deur kritiek van mede-emigrante wat dalk reeds langer weg is, of wat verkies om ’n “laat die verlede los”-houding aan te neem. Of van geliefdes tuis wat mag sê: “Jy het mos gekies om weg te gaan.”

Hierdie oordeel – hoe subtiel ook al – kan ’n mens se innerlike worsteling versterk. Daarom is dit belangrik om ruimte te maak vir eerlike emosies sonder om dit te vergelyk, te regverdig of weg te wens.

Wenke om die verlange draaglik te maak

Hier is ’n paar praktiese maniere om jou hunkering na die bekende op ’n gesonde manier te hanteer:

1. Skep nuwe roetines, maar hou jou ou tradisies lewendig
Hou vas aan klein rituele wat vir jou sin maak: Maak Saterdag steeds braaidag –  al is dit nou met wors van ’n Duitse slaghuis en bak ’n melktert op ’n Sondag. Vier jou kultuur op klein maniere: luister na Afrikaanse musiek op pad werk toe of lees vir jou kinders stories in jou moedertaal.

2. Wees eerlik oor jou emosies

Skryf in ’n joernaal of deel met ander wat dieselfde pad stap. Jy hoef nie alles “in te hou” nie. Om te praat oor jou verlange help om dit te verstaan – en om dit meer verdraaglik te maak.

3. Bou ’n nuwe gemeenskap
Soek mense – plaaslik én van jou eie agtergrond – wat verstaan waardeur jy gaan. Sluit aan by plaaslike diaspora-gemeenskappe of aanlyn groepe. ’n Geselsie met iemand wat verstaan hoe dit voel om biltong in hul tasse te smokkel, kan wonderwerke doen vir jou gemoed.

4. Moenie vergelyk nie

Emigrasie is nie ’n kompetisie oor wie die vinnigste aanpas of die minste verlang nie. Moenie jou reis met ander s’n nie vergelyk nie.

Fokus op verbindings – met jou nuwe gemeenskap én met jou wortels – sonder om een bó die ander te plaas.

5. Wees geduldig en gee jouself tyd
Aanpassing neem tyd – dit is nie ’n resies nie, dis ’n reis met omdraai’e, afdraaipaadjies en verrassings.

Daar is nie ’n regte tydlyn vir wanneer jy “oor dit moet wees” nie. Soms neem dit jare – en dit is oukei.

Om te emigreer is nie net ’n verandering van land nie, dit is ’n reis van identiteit, herinneringe, verlies en groei. As jy soms stil hunker na die bekende – sonder woorde of met trane wat jy nie altyd kan verklaar nie – weet: jy is nie alleen nie. En jy hoef nie te kies tussen jou nuwe lewe en jou ou een nie. Jy mag beide liefhê, beide mis, en tussenin leef – sonder oordeel.

AfriForum Wêreldwyd: waar jy ook al woon jy is deel van die familie

AfriForum Wêreldwyd verstaan die verlange en uitdagings van emigrasie. Ons is daar om jou te help om verbind te bly – met jou kultuur, jou taal, jou mense. Deur ons wêreldwye netwerk van Afrikaners bied ons platforms waar jy jou storie kan deel, nuwe vriende kan vind, en toegang het tot praktiese hulp – van administratiewe kwessies soos dubbele burgerskap en dokumentasie, tot emosionele aanpassing en die behoud van jou Afrikaanse identiteit in ’n nuwe omgewing.

Of jy nou pas geëmigreer het, of al jare weg is maar steeds verlang na Afrikaans op ’n Sondagoggend – ons is hier vir jou!

Deel op

"*" indicates required fields

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels