Natuurhoekie 75 – Uiloogmotte

06/05/2025
| Deur Alana Bailey
Natuurhoekie 75 – Uiloogmotte

Deur Alana Bailey

Baie mense gril vir motte, maar hou van skoenlappers, wat eintlik nie sin maak nie. Motte het wel die nare gewoonte om soms teen ’n mens vas te vlieg, maar hulle is enige tyd net so mooi en fassinerend as skoenlappers. Beide behoort aan die orde Lepidoptera, waarvan sowat 90% motte en 10% skoenlappers is. Nuwe spesies word gedurig ontdek.

Hierdie tyd van die jaar kom uiloogmotte (Cyligramma latona) wyd deur Afrika voort. Ons vind hulle soms in ons huise, kampeerders kry hulle in tente en selfs die lugredery Safair het onlangs ’n foto van een op ’n vliegtuig gedeel met die grappige opmerking dat hulle uiteindelik die “reisgogga” opgespoor het.

Uiloogmotte is besonder aantreklik en nogal groot – hulle vlerkspan kan tot 10 cm wyd wees. Hulle larwes se voedsel is akasiabome.

Daar is motte wat bedags aktief is en ander weer snags. Soos skoenlappers speel motte ’n belangrike rol om plante te bestuif.

Uiloogmot (Foto: Alana Bailey)

Omdat hulle ryk aan proteïene is, eet alle soorte diere hulle, van voëls, vlermuise, paddas, akkedisse en klein soogdiere, tot selfs mense! Om vyande af te skrik, gebruik motte verdedigingsmeganismes soos die kolle op die uiloogmot se vlerke wat ’n jagter moet laat glo dat hy nou in ’n aggressiewe uil vasgeloop het en eerder moet verbyhou. Ander spesies is meesters op die gebied van kamoeflering en kan byvoorbeeld boombas naboots. Daar is tot motte wat ultrasoniese klanke maak wat vlermuise verwar en weghou.

As jy motte wil aanlok, kan jy natuurlik snags net ’n lig aanlos, maar as dit nie werk nie, kan jy ook ’n mengsel van ryp piesangs, melasse en bier aanmaak, dit teen bome verf en kyk wie opdaag om saam te eet!

Was jy onlangs op ’n buitelug-ekskursie in die buiteland? Deel jou staaltjies met ons en merk (“tag”) ons in jou mooiste natuurfoto’s. AfriForum Wêreldwyd ontdek graag saam hoe die natuurlewe lyk in alle uithoeke van die wêreld.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels