Natuurhoekie 76 – Flora

29/05/2025
| Deur Alana Bailey
Instagram: Leon Kluge

Foto: Instagram/ Leon Kluge

Suid-Afrika se floraskatte word wêreldwyd bewonder. Dit is pas weer deur twee internasionale oorwinnings bevestig.

Die eerste hoogtepunt was die Suid-Afrikaanse uitstalling by die Royal Horticultural Society se Chelsea-blommeskou in Londen, Engeland. Die span van die tuinboukundige legende, Leon Kluge, het ’n goue medalje losgeslaan met ’n asemrowende uitbeelding bestaande uit die land se unieke plantspesies.

Vanjaar se uitstalling was die grootste nóg afkomstig uit Suid-Afrika. Die Indiese en Atlantiese Oseaan het as inspirasie daarvoor gedien. Meer as 25 000 plaaslik gekweekte blomme moes na Engeland vervoer word en met die hand gesny en gerangskik word om die uitstalling te skep. Tussen twee berge blomme is ’n stroompie uitgebeeld met kenmerkende amberkleurige water, soos die stroompies wat deur fynbosryke areas vloei. In die natuur het die hoë tannieninhoud van die plante die water se kleur tot gevolg. Om die skakering van die uitstalling se stroompie reg te kry, is honderde sakkies rooibostee daarin geweek. Saans wanneer die besoekers huis toe gegaan het, het vossies deur die terrein gedwaal. Leon vertel op sy Facebookblad dat hulle nogal baie van die rooibosteewater gehou het en gereeld daarvan gaan drink het. Dalk is hulle pelse nou ekstra welig en blink as gevolg daarvan!

Van die proteaspesies wat by die skou te sien was, word ernstig bedreig – ironies genoeg juis deur kompetisie met onder meer die verbouing van rooibostee. Die delikate disas, Suid-Afrika se eie orgidees, het besoekers harte gesteel.

Volgens Leon vier die rangskikkings van fynbos en ander plante “die blommandjie van Afrika”. In die sowat vier dekades wat aan die skou deelgeneem word, is dit die 39ste medalje wat ’n Suid-Afrikaanse uitstalling verwerf – ’n rekord om op trots te wees. Beeldmateriaal van die uitstalling is onder meer op Leon se Facebookblad te sien.

Foto: Instagram/Zoalize Jansen van Rensburg

Die tweede prestasie is by die 72ste Mej. Wêreldkompetisie in Hydarabad, Indië behaal. Mej. Suid-Afrika, Zoalize Jansen van Rensburg, het die gesogte Wêreldontwerperstoekenning vir die Afrika-streek gewen met ’n rok wat ook proteas uitbeeld. Dit is ontwerp deur Juan William Aria en is gemaak van satyn met kunswerkafdrukke en handgeborduurde blommotiewe op. Die klassieke rok is ’n huldeblyk aan die lewendige flora van Suid-Afrika wat veerkragtigheid, skoonheid en nasionale trots simboliseer. Volgens die ontwerper vier dit ook die land se diversiteit, geworteldheid, dapper skeppendheid en nederigheid.

Suid-Afrika tel onder die tien lande met die grootste konsentrasie plantspesies in die wêreld. Ongeveer 20 401 verskillende soorte is al hier gedokumenteer en die bogenoemde prestasies dien om ons opnuut van die skoonheid en uniekheid daarvan bewus te maak.

Was jy dalk by die Chelsea-blommeskou of hou jy die Mej. Wêreldkompetisie dop? Laat weet ons wat jy daarvan oor die algemeen, en van hierdie twee inskrywings in die besonder dink?

Deel op

"*" indicates required fields

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels