Wie het al wakker geword in die nag en die roep van naguiltjies gehoor? Dit is seker een van die mees ikoniese klanke van die bos in Afrika, soos die roep van die visarend en ja … van hadidas!
Die naguiltjie (Caprimulgus pectoralis) is ’n klein voëltjie wat op die meeste van snawel tot stertpunt maar sowat 25 cm lank word. Wanneer die kuikens uitbroei is hulle ongeveer 5 cm in lengte en weeg in die omgewing van 5 gram. Hulle kom wydverspreid in Afrika suid van die ewenaar voor en verkies grasvelde of woudagtige areas waar hulle na hartelus vlieënde insekte kan vang deur soos valke daarop af te duik. Soos van hulle naam afgelei kan word, is hulle op hulle besigste tussen sononder en dagbreek.
Twee eiers word gewoonlik twee keer per broeityd (Augustus tot Oktober) gelê en die kuikens is dadelik redelik selfversorgend wanneer hulle uitbroei. Neste word op sanderige kolle onder bome of struike gebou. Hulle gespikkelde bruin voorkoms help om hulle te kamoefleer wanneer hulle broei.
Benewens die kenmerkende roep, maak hulle ook ander geluide om onder meer mekaar teen gevaar te waarsku of kuikens weg van gevaar te lei. Tydens die broeityd is hulle minder geneig om te sing, omdat hulle dan nie aandag na hulle neste wil trek nie.
Pare bly lewenslank saam en sal hulle nie sommer te ver van die gebied vestig waar hulle uitgebroei het nie – hulle is nie trekvoëls nie. Omdat hulle so wyd verspreid voorkom, word hulle tans nie as bedreigd beskou nie.
Verskillende soorte naguiltjies (nightjars in Engels) kom wêreldwyd voor. Is daar van hulle in jou omgewing?
Lees ook: Natuurhoekie 77: Kom kuier saam in die Wildtuin! – AfriForum Wêreldwyd



















