Natuurhoekie 77: Kom kuier saam in die Wildtuin!

07/07/2025
| Deur Alana Bailey
Natuurhoekie 77: Kom kuier saam in die Wildtuin!

Hierdie tyd van die jaar trek baie mense se harte bos of veld toe. Sommige gaan jag, ander gaan kuier in een van die land se pragtige wildtuine. Kom verbeel jou vandag jy reis saam met André en Katie Christof in die Nasionale Krugerwildtuin. André vertel:

Ons is een jaar aan die einde van Mei vir twee nagte se oorslaap in Olifants Ruskamp in die Nasionale Krugerwildtuin bespreek.

Die kamp is bo-op ’n voetheuwel van die Lebomboberge geleë, wat strek vanaf Hluhluwe in KwaZulu Natal in die suide, deur Swaziland tot by Punda Maria in die noorde van die park. Aan die oostekant van die kamp strek die bergreeks tot in Mosambiek, waar dit as die Montes Libombos bekendstaan.

Die Olifantsrivier vloei uit die weste onderkant die kamp al langs die bergreeks verby tot in Mosambiek, waar die Rio dos Elefantes (wat die naam dáár is) later by die Limpoporivier aansluit.

Ons trek die oggend vroeg by die huis weg en gaan twee uur later by Orpenhek die Krugerwildtuin binne. Dit is ’n lieflike oopgetrekte dag, daar is nie ’n wolkie in sig nie, die lug is so ’n pastelblou, soos dit net daardie tyd van die jaar in die Laeveld kan wees. So nege-uur se kant nuttig ons toebroodjies wat Kate vroegoggend vir ons by die huis ingepak het met ’n koppie koffie, tien kilometer voor Satara Ruskamp langs die Nsemanidam.

Later gaan ons vlugtig by die kamp aan, loop ’n draai deur die winkel, vertoef ’n oomblik by die aandenkings en die boeke, neem so een of twee in die hand.

Daarna sit ons die rit voort.

Die knoppiesdoring-maroela-savanne strek van Krokodilbrug in die suide tot by Witpenswatergat (wat 5 kilometer noord van Satara geleë is). Van daar af strek die struik-knoppiesdoring-savanne weer verder met die uitgestrekte oop grasvlaktes, die wuiwende grasse so ver as die oog kan reik, tot by die omstreke van die Ngotsodam (18 kilometer noord van Witpenswatergat) en Nyamarhi-watergat, net noord van die dam. Die dam is so 10 jaar gelede gesluit en die keerwal vernietig.

Ons het daar in die verlede dikwels tarentale teëgekom wat wintermaande in sulke lang stringe oor die veld na die watergat toe hardloop.

Dan het ons weer by tye yslike troppe buffels daar dopgehou wat op pad na die dam toe was. Die dowwe dreuning van hul hoewe op die harde aarde soos hulle hangkop oor die veld aankom met die geluid wat al harder raak, was net iets ongeloofliks om te ervaar.

Hoendervleis!

In Ngotso-noord se omgewing beloer ons elkeen met ’n suiglekker in die kies kleefdoringstruike, met hulle dorings wat soos horinkies aan die takke sit.

Dié tyd van die jaar is die kleefdorings se takke kaal, dit staan daar plate op plate op die grasveld. Dit is bladwisselende struike met veelvuldige stamme, wat ook in ’n boomvorm met ’n skraal kroon kan voorkom. So ’n boom kan tot 5 meter hoog raak. In die somermaande wys die spierwit dorings pragtig op teen die dubbelveervormige saamgestelde blare met die kleinste veeragtige blaartjies, dan dra dit sulke klein donserige, ronde, goudgeel blommetjies.

’n Tydjie later hou ons op die brug oor die breë uitgestrekte Olifantsrivier stil en klim uit die kar, bly om bene te kan rek. Ons gaan bekyk die rivier vanaf die ellelange staalreëlings langs die kant. Dié maak elke nou en dan oor die lengte daarvan so ’n harde, metaalagtige klapgeluid wat sommer vir ’n paar sekondes in die lug bly hang.

Kleinwindswaels klief in sulke swerms weerskante van die brug die lug in. Elke nou en dan vlieg daar sommer ’n klomp bo ons verby. Tjirrrrr, tjirrrrr, tjirrrrr, tjirrrrr, kwetter dit soos hulle agter insekte aan swenk. Van hulle duik onderdeur die brug, dan jaag hulle weer aan die anderkant in die lug op agter die kossies aan.

Regs van die brug sien mens net rotse en die water wat teen die linkerkantse oewer verby sterk in die rivier af vloei. Anderkant die brug, stroomop, is daar ’n magdom kolganse wat op ’n ry af lê. Op ’n yslike groot sandbank naby die water sit van die mannetjies en maak kopknikbewegings, terwyl hulle nou en dan ook sulke hees blaasgeluide maak.

’n Ent van hulle af gewaar ons ’n klomp aasvoëls wat daar rondstaan. Die meeste is witrugaasvoëls, heelwat waarvan die vlerke met swart punte en donkerbruin binnekante oopgesprei is. Hulle koppe en lang, bykans kaal rubberagtige nekke is met donse bedek en sierlike wit vere sit tussen die skouers onderaan die agterkant van hul nekke.

Dan is daar ook ’n paar swartaasvoëls en ’n Egiptiese aasvoël, wat maar ’n klein soort aasvoël is.

Die swartaasvoëls het massiewe snawels, kaal pienk koppe, groot, vlesige velvoue aan die kante van hul nekke, hoofsaaklik donker vere en wit dye. Hulle het ’n vlerkspan van tot 3 meter en staan amper 1 meter hoog.

Twee witkopaasvoëls loop so ’n ent uitmekaar tussen die klomp deur. Hulle gee sulke lang treë soos hulle vooroor gebuk stap, die koppe laag tussen die skouers deur laat sak. Hulle het veerlose, bykans driehoekige koppe. Bo-op die wit kop is ’n klein sagte wit kuif. Verder het hulle krom skerpgepunte snawels, wit vere onder die lywe en om die onderbene, en kragtige, skerp, geboë kloue. Hul bobors, rug en vlerke is bruinbont, terwyl hulle pense en ondervere wit is, wat pragtig met hulle swart stertvere kontrasteer. Die pote is ’n ligte pienk.

Maar wat van ’n gesig het die witkopaasvoël om te aanskou! Hy het ’n donkerrooi bek en ligblou washuid, bruin oë, en die rooskleurige tint langs sy meestal veerlose nek en gesig skep ’n virtuele pastelreënboog!

Kate het vroegoggend by die huis vir ons ’n ligte middagete ingepak wat ons anderkant die afdraai na Olifantskamp onder koeltebome langs die rivier wil gaan nuttig. Ons trek daar weg en volg die pad al teen die voetheuwel van die Lebomboberge.

In die omgewing van die afdraai na Balule Satellietkamp gewaar ons baie na aan die regterkant van die pad ’n Sharpe se grysbokooitjie wat tussen sulke lang, droë, ligvaalbruin grasse staan en met gespitste ore oor die veld uitkyk.

Ek gaan hou toe baie versigtig ’n entjie van haar af stil.

Dit is ’n klein, skugter bokkie met ’n bonkige lyfie en skouerhoogte van seker nie meer as veertig sentimeter nie. Sy het digbehaarde verlengde pels by die agterlyf en groot oortjies. Die ryk rooibruin pels met wit strepies in die hare op die rug en die sye gee haar ’n grysagtige voorkoms; haar oogringe, snoet, keel en onderkant is ’n gebroke wit.

Ons het Sharpe se grysbokkie nog maar net een maal tevore gesien, aangesien hulle hoofsaaklik naglewend is en in versteekte habitatte aangetref word. Hulle hurk dikwels laag op die grond terwyl hulle hardloop of wanneer hulle opgejaag word. Die mannetjies het stomp horings, wat wyd gespasieer is.

Na ’n wyle, draai sy ’n oor na die een kant toe, ook haar kop soos sy luister, dan draai sy haar kop weer na die ander kant toe, terwyl sy ook die regteroor na agter draai, daarna kyk sy weer voor haar uit, maar nou met beide ore plat teen haar kop getrek. Ons kan die pragtige wit haartjies binne haar ore sien, die roesbruin van haar pels wat soos ’n aar daardeur na die punte toe oploop, na die een kant toe in drie vertak en dit soos blaartjies laat vertoon.

Die volgende oomblik lyk dit of sy, kop omlaag, wil weghardloop. Sy trap vas, skud haar kop terwyl sy koes, wikkel haar stert ’n paar maal vinnig. Daarna gaan staan sy vir ’n oomblik roerloos, loer gebukkend met sulke groot, ronde, blink ogies in ons rigting en skud sy haar kop dat die ore so flap.

Skielik kry die ooitjie ’n bevlieging. Sy draai blitsvinnig na agter om haar boud te lek, draai terug, spring weg, dan steek sy weer bykans onmiddellik vas, loer weer kop omlaag na ons kant toe, kom orent en wikkel die stertjie. Nou trek sy die spiertjies, dan bewe die velletjie by haar skouer en by die blad, terwyl sy so ’n slag met die tongetjie teen die kant van haar bek lek.

Dan is dit weer tyd vir ons om verder te ry …

Lees ook: Natuurhoekie 76 – Flora

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels