Nuus vir mense wat tydelik met buitelandse voertuie na Suid-Afrika kom
Deur Alana Bailey
Vanaf 1 Junie 2026 vereis die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) dat alle voertuie wat in die buiteland geregistreer is, op SARS se reisigersbestuurstelsel (TMS of SARS Traveller Management System) verklaar word voordat hulle Suid-Afrika binnekom of verlaat.
Die redes vir hierdie besluit, is onder meer om doeanebedrywighede by punte van binnekoms in die land te moderniseer, meer moeitevry te maak en terselfdertyd nasionale sekuriteit te beskerm.
Waar buitelandse voertuie tydelik in die land ingebring word, kan tydelike invoerpermitte wat vir ses maande geldig bly, uitgereik word.
Die permitte is ook nie net vir een reis in daardie tyd geldig nie, maar mag vir verskeie grensoorgange gebruik word, sonder dat dit nodig sal wees om met elke oorgang van voor af aansoek te doen. Gereelde oorgrens reise vir wettige redes soos werk, studies, besigheid of mediese sorg raak nie die geldigheid van die permit nie, solank dit geldig bly en betyds hernu word voor dit verval.
SARS besef mense haat administratiewe prosesse en het die stelsel daarom probeer ontwerp om nakoming so maklik as moontlik te maak.
Inligting oor doeane se tydelike invoervereistes is beskikbaar by https://www.sars.gov.za/customs-and-excise/.
Die maklikste opsie vir reisigers met buitelands-geregistreerde voertuie sal wees dat die vorm aanlyn voltooi word voordat hulle by die grens aankom, maar tog sal SARS ook steeds reisigers by grensposte help wat dit nie vooraf kon doen nie. Hulle moet net weet dat die proses dan veel langer gaan neem.
Wanneer reisigers dit wel vooraf gedoen het, moet hulle steeds by die grens by doeane vir verifikasie, prosessering en inspeksie (waar vereis) aanmeld.
SARS benadruk dat nakoming van hierdie nuwe maatreël nie opsioneel is nie. Voertuigeienaars wat nie buitelands-geregistreerde voertuie verklaar nie, of wat vals of onvoldoende inligting verskaf, sal wetstoepassingsgevolge in die gesig staar.
Meer inligting is beskikbaar by https://www.sars.gov.za/travellerdeclaration/ en https://www.sars.gov.za/customs-and-excise/ of deur die SARS MobiApp.
Deel op
Nuutste artikels



















