Nuwe aanlyn platform help gesinne wêreldwyd om hul kinders Afrikaans te leer
Een van die grootste bekommernisse vir Suid-Afrikaanse gesinne wat hulself oorsee vestig, is hoe om hul kinders se moedertaal lewend te hou. Afrikaans is vir baie meer as net ’n kommunikasiemiddel, dit is deel van identiteit, kultuur en familie-erfenis.
’n Nuwe aanlyn platform, RecruitZA Afrikaans, is onlangs bekendgestel met die doel om hierdie uitdaging prakties aan te spreek. Die platform verbind gesinne wêreldwyd met gekwalifiseerde Afrikaanse onderwysers vir persoonlike, interaktiewe aanlyn lesse.
Volgens die inligting wat beskikbaar gestel is, is die platform spesifiek ontwerp met Suid-Afrikaanse gesinne oorsee in gedagte. Dit neem faktore soos tydsoneverskille, uiteenlopende taalvlakke en gesinsroetines in ag.
Wat bied die platform?
RecruitZA Afrikaans stel die volgende kenmerke beskikbaar:
- Gekwalifiseerde onderwysers wat deeglik geverifieer is en oor toepaslike kwalifikasies en ondervinding beskik.
- Aanpasbaarheid by verskillende tydsones, sodat lesse wêreldwyd geskeduleer kan word.
- Interaktiewe aanlyn lesse via Zoom, ondersteun deur gestruktureerde leermateriaal.
- Gereelde vorderingsverslae om ouers op hoogte te hou van hul kinders se ontwikkeling.
- Buigsame betalingsopsies, insluitend weeklikse en maandelikse subskripsies.
- ’n Streng verifikasieproses om ’n veilige leeromgewing te verseker.
Hoe werk dit?
Die proses om te registreer en te begin leer is volgens die platform eenvoudig:
- Ouers skep ’n gratis rekening en voeg hul kinders se profiele by.
- Hulle kies uit ’n lys geverifieerde onderwysers wat by hul behoeftes en skedule pas.
- Lesse word bespreek en aanlyn aangebied via interaktiewe Zoom-sessies.
Vir wie is dit bedoel?
Die platform is gerig op twee hoofgroepe:
Ouers oorsee wat graag wil hê hul kinders moet steeds Afrikaans kan praat, lees en skryf hetsy as moedertaal of as deel van hul kulturele erfenis.
Gekwalifiseerde Afrikaanse onderwysers, in Suid-Afrika of internasionaal, wat aanlyn lesse aan kinders wêreldwyd wil aanbied.
Meer inligting
Gesinne en onderwysers wat belangstel, kan meer inligting bekom of registreer by: www.afrikaans.recruitza.global.
Navrae kan gerig word aan steven@recruitza.global.
AfriForum Wêreldwyd deel hierdie inligting ter ondersteuning van inisiatiewe wat daarop gemik is om Afrikaans as moedertaal oor grense heen te bevorder en te versterk.
Lees ook: Afrikaans oor grense heen: Hoe kinders hul moedertaal kan behou, waar ook al hulle woon



















