Deur Johan Nortje
In Britse militêre terme noem hulle hierdie ’n Chinese parlement. Almal, ongeag rang, word ’n geleentheid gegun om hul mening te lug. En ek wonder of iemand die ironie hierin raaksien.
Die huisvergadering – basies maar net ’n herinnering dat groepsregte in tye van nood voorkeur bo individuele regte geniet. Rudi, die klaskaptein van die vergadering, is aan die woord: “Onthou julle, ons almal is nou in dieselfde bootjie. Probeer om nie Netflix te kyk as Riël met sy vrou in Duitsland skype nie – dis weens die bandwydte. As jy kruideniersware koop, koop vir almal.”
Ek loer op my G-Shock vir die digitiale tyd. ’n Vriend het dit met ’n besoek aan Amerika vir my gekoop. Die wysers het onlangs tot stilstand gekom. Die ding kan blykbaar enigiets oorleef, behalwe ’n ongestempelde waarborgkaartjie.
“As jy siek word, moet jy in jou kamer bly.”
Ek wonder vir ’n oomblik hoe die kamerarresding gaan werk. Miskien sal een van ons ’n uitsnysaag moet gebruik om ’n gat aan die onderkant van die kamerdeur te maak om kos só deur te stoot.
Chris, ’n finansiële ontleder, sit agteroor in sy stoel en lag: “Ons gaan mekaar nou regtig leer ken.”
En daarmee sluit ons die vergadering af.
Die volgende oggend klop ek aan Chris se kamerdeur sodat hy vir die derde keer vir my kan verduidelik wat die implikasies vir die land (en veral vir my) is, ingeval die afgraderingsagentskap Moody’s besluit die tyd het nou aangebreek. Ek sal my woorde mooi moet kies, aangesien hyself die afgelope tyd effe moody is.
Ek dink aan die woorde van die einste vriend vóór sy vertrek na die VSA en ná ons geluister het na ’n gesprek oor die radio oor verbruikers en koopkrag. Hy het my aangestaar en gesê: “Ek dink nie hierdie gesprek is op ons van toepassing nie.”
“Hoe so?” het ek gevra.
“Ons is nie verbruikers nie. Ons val in die klas van misbruiker,” het hy gesê terwyl hy sy dogter se gebruikte babadoek soos ’n netbalspeler in die asdrom gooi.
Net toe ek weer aan die deur wou klop, lui my sel met ’n boodskap. Dis Chris: “Gaan vir die tyd plaas toe … Sterkte.”
Ek oorweeg dit om terug te antwoord en te verduidelik hoe die hele sink-saam-met-die-skip-ding werk. Maar kort voor lank is ek sélf in die kar op pad na my suster-hulle toe met ’n kattebak vol kos waarvan die vervaldatums gevaarlik naby aan verstryking is. Nadat ek self ’n innerlike dinkskrum gehou het om my drie verblyfopsies tydens die inperking te oorweeg, het dié een die meeste sin gemaak. Die ander keuses sou emosionele afsondering én inperking ingesluit het.
Ek het verwag daar sou druk verkeer tussen Pretoria en Johannesburg wees, maar die hoofpad is stiller as wat ek verwag het. Twee ure later stop die kar by hulle huis. My verwelkomingskomitee is twee vet, reggemaakte waghonde (wat wag vir die kosbakke) en ’n driejarige kind wat skree as sy iets soek. Ek laai my goed af en suiker op versoek vir ’n laaste keer na die winkel. Op pad terug besluit ek om ’n ompad te ry.
Deur die kar se ruite lyk die wêreld soos die laaste toneel van ’n rolprent wat gedemp is. Daar is leë parke met geroeste klimrame sonder kinders wat speel. Straatop sluit ’n man sy winkel. Dalk is die volgende keer wat dit oopgesluit word wanneer die skuldinvorderaar sy rondtes moet doen. Straataf sit koerantverkopers op stapels wat veels te hoog is vir goeie verkope. Dit herinner my aan daardie Sondae as kind toe jy nie geraas kon maak nie en die stil swye moes bewaar.
Ek draai by die oprit in, onseker oor wat in die volgende paar weke voorlê en of ek die regte keuse gemaak het om hierheen te kom. Maar ek weet, die beste teenmiddel vir hierdie soort stilte is om te praat en nie stil te bly nie.