Nuwe NGV-konsepregulasies toon weereens hoe onhaalbaar beoogde stelsel vir SA is

11/03/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Nuwe NGV-konsepregulasies toon weereens hoe onhaalbaar beoogde stelsel vir SA is

Die gebrekkige konsepregulasies vir die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) het volgens AfriForum opnuut bevestig dat die Suid-Afrikaanse regering nie daartoe in staat is om só ’n komplekse stelsel van stapel te stuur of te bestuur nie. Weens die talle hofgedinge wat teen NGV gebring is én die staat se geweldige begrotingstekort, was dit reeds te betwyfel of die minister van Gesondheid enigsins moes voortgaan om konsepregulasies te publiseer. Nou voorsien die gepubliseerde konsepregulasies boonop nie enige duidelikheid oor wat Suid-Afrikaners van dié stelsel kan verwag nie.

Louis Boshoff, veldtogbeampte vir gesondheid by AfriForum, sê sommige van die regulasies is só swak geskryf dat dit selfs minder detail bevat as die oorspronklike artikels van die NGV-wet. Ander regulasies en subregulasies is bloot verwarrend of so onduidelik verwoord dat daar verskeie interpretasies daarvan kan voortspruit. Subregulasie 25(7) stel byvoorbeeld dat voorstelle van die advieskomitee deur die minister goedgekeur en dan deur die fonds geïmplementeer moet word, terwyl artikel 56(1) van die NGV-wet slegs stel dat die fonds direktiewe kan uitvaardig om die wet te implementeer. Dit is dus onduidelik wat presies die rol van die minister, die advieskomitee en die fonds is.

“Die NGV-wet is van die begin af gekritiseer as vaag en dubbelsinnig en daar is gehoop dat die regulasies meer duidelikheid sou bring oor hoe die stelsel veronderstel is om te funksioneer, maar nou het die konsepregulasies niks bygedra om groter duidelikheid te vestig nie,” sê Boshoff. “Hoe kan daar verwag word dat ’n minister en gesondheidsdepartement wat nie eers goed deurdagte regulasies kan skryf nie, die hoogs komplekse stelsel uiteindelik moet bestuur?”

AfriForum gaan in die komende weke volledig kommentaar op die konsepregulasies indien, maar benadruk dat die NGV-wet eerder as ’n geheel geskrap moet word. “Die afgelope jaar het dit baie duidelik geword dat regulasies – selfs goeie regulasies – nie kan opmaak vir swak of diskriminerende wetgewing nie. Soveel te meer bied hierdie lae gehalte regulasies geen oplossing nie,” sluit Boshoff af.

Deel op

Nuutste artikels