Kersfees oorsee bring altyd ’n mengsel van verlange, verwondering en nuwe ritmes. In ’n land soos Nieu-Seeland, waar soveel kulture en gelowe saamleef, kry Kersfees sy eie unieke geur – ’n kombinasie van ou tradisies wat saam oor die water kom en nuwe gewoontes wat stilweg deel van jou familie se storie word. Ilze Dreyer vertel hoe hulle Kersfees vier tussen Kiwi-volstruise, Pavlova-oorloë en die rooi prag van die Pohutukawa-bome.
Sedert ons in Nieu-Seeland woon, het Kersfees vir ons ’n nuwe betekenis begin kry. Party dinge bly soos ons dit nog altyd gedoen het, en ander gewoontes het spontaan deel geword van ons lewe hier. Dis ’n mooi mengsel van dit wat ons saamgebring het uit Suid-Afrika en dit wat ons hier ontdek. Hier is hoe ons dit ervaar.
Ons Kersgewoontes en -tradisies
In ’n land met soveel kulture en gelowe leef daar baie verskillende Kerstradisies. Tog hou óns vas aan dit waarmee ons grootgeword het.
Op Oukersaand hou ons ’n lekker kuier vol speletjies en pret, en dis wanneer ons geskenke uitdeel. Op Kersdag kom ons ná kerk weer bymekaar vir ’n rustiger dag waar ons net saam kan wees en die hart van die fees vier.
Feestelike etes: Koekstruif, pavlova en Kiwi-Kersham
In ons huis is daar een ding wat nooit kan verander nie: Daar moet ’n koekstruif wees –ongeag die planne. Ons vrouens besluit dan ook saam wat elkeen gaan maak, en uiteindelik beland daar ’n tafel vol egte boerekos voor ons, of dit nou braaivleis of koue vleise is.
Die pavlova is groot hier. Die Kiwi’s glo natuurlik dit is húlle skepping – ’n debat wat al jare tussen hulle en die Aussies aan die gang is! Teen Desember vul die klaargemaakte meringue reeds die rakke; jy hoef net room en vrugte by te sit.
Nog iets wat hier gewild is, is die “Christmas Ham”. Dis baie soos gammon, maar tog anders, en almal raak ongelooflik kreatief met glaseersel. Een jaar het my vorige werkgewer vir elkeen van ons so ’n ham as Kersgeskenk gegee!

Kersliggies: ’n Nuwe tradisie wat bygekom het
Die Kiwi’s is baie lief vir liggies. Omdat Diwali teen die einde van Oktober gevier word, begin die liggies al vroeg verskyn en raak winkels se rakke net voller en voller.
Ons was nog nooit mense wat ons huis met liggies versier het nie, maar sedert ons hier is, koop ons elke jaar een of twee nuwe liggies. Dis iets kleins, maar dit het deel geword van ons Kersgevoel hier.
Hoe ons kontak hou met familie in Suid-Afrika
Ons probeer altyd op Oukersaand of Kersdag video-oproepe maak, afhangend van elkeen se planne. Dit bly vir ons belangrik om daardie oomblik van saamwees oor die skerm te hê. Ons deel baie foto’s op die familie-WhatsApp-groep: die kos, die voorbereiding, die kinders, die lekkerte. Dit hou ons naby, al is ons ver.
’n Stukkie Kersfees van die Eiland af
Nieu-Seeland het ook sy eie “Kersboom”: die Pohutukawa. Soos Pretoria in Oktober pers skitter van Jakarandas, kleur hierdie bome die landstreke rooi en groen vanaf November. Dit sit jou outomaties in die Kersgees en bring ’n warm vreugde wat herinner aan hoe mooi nuwe tradisies kan wees.

Kersfees hier voel vir ons soos ’n mengsel van tuis en nuut. Ons hou vas aan dit wat vir ons sin maak, maar ons leer ook om die mooi in die nuwe te sien. Elke jaar bou ons ’n bietjie verder aan tradisies wat só uniek is soos ons reis. Ons is gewortel in waar ons vandaan kom, maar oop vir dit wat ons hier ontdek.
Hoe vier jy Kersfees?
Ons wil graag hoor van jou tradisies, resepte, mooiste liggies, snaaksste stories en warmste herinneringe. Deel dit met ons – jou verhaal kan iemand anders se Kersfees oorsee net ’n bietjie meer na huis laat voel.
Lees ook: Kersfees oor grense heen: Warm herinneringe en nuwe tradisies



























