AfriForum Wêreldwyd word mediese sorg al duurder. Wanneer ’n mens reis, is reisversekering vir veral mediese noodgevalle noodsaaklik, ongeag hoe jonk en gesond jy mag wees.
Die eerste saak om in gedagte te hou, is dat eerlikheid noodsaaklik is. Gesels met ’n kundige oor die rede vir die reis. ’n Mens is geneig om te kyk na die tydperk wat die versekering geldig sal bly, maar lees dan nie verder of dit ook geld wanneer jy nie gaan vakansie hou nie, maar vir jou werk reis of ’n kursus gaan bywoon.
Die afgelope tyd was daar heelwat berigte oor jong Suid-Afrikaners wat in die buiteland beseer is of selfs gesterf het en nie oor enige versekering beskik het nie. Vriende en familie moes hulle tot skarebefondsingsplatforms wend om te probeer sorg vir die beseerdes, of om hulle of die oorledenes se oorskot te repatrieer. Versekering kan jou geliefdes hierdie trauma spaar.
Die tweede kwessie is om seker te maak wat die polis waarop jy besluit, uitsluit. Dit mag wees dat dit ski (op water of sneeu) as ekstreme sportsoort definieer, en behandeling vir enige besering wat jy opdoen terwyl jy dit beoefen, uitsluit. Jy mag dalk al jare lank ski en dit nie as gevaarlik of ekstreem beskou nie, maar die polis se woord is wet en gaan ongelukkig bepaal wie vir die operasie vir daardie geskeurde ligamente gaan betaal.
Dieselfde geld vir bestaande mediese toestande. ’n Goeie plan is om voor jy vertrek ’n brief by jou dokter te kry wat bevestig dat jy ten spyte van jou toestand, byvoorbeeld ’n hartkwaal of epilepsie, kan reis, asook dat jy onder mediese behandeling is wat die toestand volkome beheer.
Hou in gedagte dat enige insident waarvoor behandeling vereis word, so gou as moontlik aangemeld moet word. Hou die polisbesonderhede by jou en maak seker dat iemand anders ook daarvan bewus is, sodat hulle namens jou met die versekeraar kan kontak maak as jy dalk nie in staat sou wees om dit self te doen nie.
Reisversekering is normaalweg veral net vir noodgevalle. Gaan dus direk na ’n hospitaal se ongevalle-afdeling, eerder as om eers ’n dokter te soek.
Sorg dan dat jy ’n volledige mediese verslag vir jou eis kry. As jy moet huis toe vlieg, mag dit ook vir die lugredery nodig wees om te weet dat dit nie ’n risiko is om jou aan boord te neem nie.
Hou ook in gedagte dat baie versekeraars gaan vereis dat jy eers self alle koste betaal en dan jou eis indien. Voldoende fondse in ’n toeganklike rekening vir noodgevalle is ’n goeie strategie.
Om slim te reis, bly die lekkerste!
Deel op
Nuutste artikels



















