Taalheld 15: D.F. Malherbe – uitnemende romanskrywer en kampvegter vir Afrikaans
DeurAlana Bailey
In die wonderlike Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein is die studeerkamer van D.F. Malherbe heringerig. Dit lyk kompleet of hy enige oomblik daar gaan instap en sy pyp opsteek! Eenkant hang ’n geraamde nota in sy handskrif wat jy maklik kan miskyk, maar wat die hoër onderwyslandskap in Suid-Afrika onherroeplik verander het. Daar staan:
Kennisgewing
Studente word tans toegelaat
om Afrikaans als medium
te gebruik bij alle eksamens
van die Universiteit van
Suidafrika.
D.F. Malherbe
2/8/18

Dit was letterlik die begin van die amptelike gebruik van Afrikaans as hoër akademiese en wetenskapstaal.
Wie was hierdie man met die passie vir Afrikaans? Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry, moet ons by die begin begin.
Daniël François Malherbe is op 28 Mei 1881 in Daljosafat gebore. Sy pa was Petrus Jacobus Malherbe, ’n wynboer en een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners. Die jong Malherbe het dus van jongs af die ontwikkeling van Afrikaans eerstehands beleef.
Tydens sy skooljare aan die Hugenote Gedenkskool het hy onder andere vir A.G. Visser en Totius as maats gehad. Hierdie skool was die eerste amptelike Afrikaanse skool en is op sy pa se plaas opgerig. Daarna het Malherbe ook twee jaar lank by die Hoër Jongenskool in Wellington skoolgegaan.
Na skool het hy plaaslik aan Victoria-kollege (later die Universiteit van Stellenbosch) en die Universiteit van Kaap die Goeie Hoop (later die Universiteit van Suid-Afrika) gestudeer, waarna hy sy studies in die buiteland aan die universiteite van Halle en Freiburg in Duitsland voorgesit het. Sy vernaamste fokus was tale en taalkunde. In dié tyd het president Steyn hoofsaaklik weens gesondheidsredes tyd in Europa deurgebring en hy het dikwels by die president gekuier. Waarskynlik was dit waar sy liefde vir die Vrystaat begin het. In 1905 het Malherbe sy doktorsgraad in Duitsland behaal en daarna na die Kaap teruggekeer om diens as lektor aan die Hugenote-Seminarie op Wellington te aanvaar. Sy intreerede hier was ’n wetenskaplik gemotiveerde pleidooi dat Afrikaans as taal erken moes word.
Soos sy pa, het hy ook betrokke geraak by die Afrikaanse organisasielewe. In 1907 was hy byvoorbeeld ’n stigterslid van die Afrikaanse Taalvereniging in Kaapstad. In 1910 is hy as professor in Moderne Tale aan die Grey-Universiteitskollege (later die Universiteit van die Vrystaat) in Bloemfontein aangestel, waar hy in 1918, toe die nota geskryf is, ook die eerste professor in Afrikaans as vakgebied sou word. Daar het hy hom onder meer beywer daarvoor om Afrikaans as onderrigtaal in Vrystaatse skole in te voer.
Daniël was nie net ’n skrander akademikus nie, maar ook ’n skrywer van formaat. In 1913 verskyn die roman Vergeet niet uit sy pen. Dit word beskou as die eerste Afrikaanse roman met letterkundige waarde. Verskeie ander bekende romans sou volg, waarvan Hans-die-skipper waarskynlik die bekendste is. Vir laasgenoemde het hy in 1930 die Hertzogprys ontvang. Hy skryf onder meer ook Bybel- en historiese romans met temas soos die Groot Trek en die Basotho-oorloë. Die romans het meestal ’n sterk Christelike inslag en verskeie gee ook ’n blik op Afrikaner-boerderygemeenskappe.
Buiten romans het hy ook dramas, novelles, kortverhale, tydskrifartikels, berymings van verskeie Gesange en gedigte geskryf en werke uit onder meer Duits in Afrikaans vertaal. Hy het selfs William Shakespeare se The Merchant of Venice as Die Koopman van Venesië in Afrikaans die lig laat sien. Taalkundige werke, soos sy Afrikaanse taalboek, wat verskeie herdrukke beleef het en ’n eerste poging was om Afrikaanse grammatika te omskryf, het ’n groot impak op die ontwikkeling van die taal gehad. Hy was verder ook een van die medewerkers aan die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) en het Die Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme saamgestel.

Van die hoogtepunte in sy loopbaan sluit in dat hy van 1929 tot 1934 en weer in 1941 as rektor van die Grey-Universiteitskollege gedien het. In 1942 is hy aldaar tot ereprofessor benoem. Sy tyd aan dié instelling was wel nie sonder kontroversie nie. In 1938 is hy naamlik deur die destydse rektor, R.B. Saayman, geskors. Die grondliggende rede vir die skorsing was skynbaar dat Malherbe en andere die uitbreiding van die universiteit as enkelmedium Christelike instelling voorgestaan het, terwyl ’n ander groep op die kampus eerder ’n tweetalige neutrale instelling wou bou. Malherbe was nie net ’n befaamde redenaar nie, maar ook iemand wat nie gehuiwer het om hom sterk uit te spreek oor kwessies soos hierdie wat hom na aan die hart gelê het nie. Die studente se steun vir hulle professor was egter só oorweldigend dat sy skorsing weldra opgehef is.
Malherbe het verskeie leiersposisies in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns beklee, insluitend as voorsitter daarvan, en advies met betrekking tot die vertaling van die Bybel in Afrikaans gegee. Uiteindelik sou hy drie keer die Hertzogprys ontvang en is vier eredoktorsgrade aan hom toegeken.
Hy word onthou as iemand met ’n sterk geloof in God. Hy en sy eerste vrou, Mynie (née Mostert), het vyf kinders gehad. Na haar dood is hy met Louisa (Lulu) Blignaut getroud, maar na slegs veertien maande, is sy ook oorlede. Hy is daarna vir ’n derde keer getroud. Sy bruid was die weduwee Ivy Lubbe, wat hom uiteindelik sou oorleef.
Selfs na sy aftrede het hy in die Vrystaat gebly, maar ook ’n strandhuis by Kleinmond besit, wat hy “Hans-die-skipper” genoem het.
Malherbe is op 12 April 1969 in Bloemfontein aan ’n hartaanval oorlede, maar sy nalatenskap leef voort in die groei en bloei van Afrikaans.
Lees ook: Taalheld 14: Paul de Groot – grondlegger van Afrikaanse toneelkuns



















