Uit en tuis: ’n e-pos uit Auckland, Nieu-Seeland

10/09/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Auckland, Nieu-Seeland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Kristie Townsend wat in Auckland, Nieu-Seeland woon.

Hoe het jy die emigrasieproses na Nieu-Seeland ervaar?

Die emigrasie na Nieu-Seeland was die uitdagendste vir ons, dis net ek en my man wat oorgekom het. Dit was vir ons baie moeilik met my skoonma en skoonpa wat so ondersteunend was deur die hele proses en om hulle nie naby te hê nie. Dit was geestelik baie uitdagend en isolerend met geen netwerk nie. Die tuisnywerhede net om die draai in Rustenburg, was nou skielik weg en in die begin voel jy soms verlore en begin bou aan jou nuwe lewe en wie jy is in ’n nuwe land. Jy groei as mens van binne en buite.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Die vreemdste om aan gewoond te raak, was die smaak van vleis en melk. Ook die kulturele aanpassing, die kultuurskok was vir ons baie moeilik, die oorskakel van rande na dollars en die aanpassing om in dollars te werk en te besef hoe min die rand werd is.

Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Ek wens ek kan my skoonma en skoonpa in my tas gepak het! Ongelukkig is vlugte en visums vreeslik duur sedert die Covid-19-pandemie. Ek het my skoonma gesien met ons dogtertjie, Claire, se eerste verjaarsdag en dit het vir my en my man baie beteken.

Jy het genoem dat jy twee kinders het van vier- en ses-jarige ouderdom. Hoe het hulle in die nuwe land aangepas?

Ons het twee woelwater kinders. Hulle is al twee hier in Nieu-Seeland gebore, so hulle word kiwi groot en doen baie goed in hulle skole. Engels is die taal waarin ons die meeste gesels. Hulle praat vlot Engels en ook Maori wat hulle leer in die skool en by die Maori-liedjies.

Hoe vorm of behou jou kinders ’n verhouding met hul grootouers? Hoe gereeld sien julle as familie mekaar?

Ons kinders praat oor video-oproep elke week met hulle oupie en oumie. Hulle oupie en oumie kan nie wag om te hoor wat aangaan in die skool en hoe mooi hulle grootword en wat gebeur nie.

Hoe verskil die skoolstelsel in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?

Die skoolstelsel verskil baie teenoor Suid-Afrika. Daar is geen huiswerk nie en hier in Nieu-Seeland is hulle meer gefokus op play to learn – deur speel, leer hulle meer en vorm so hulle fondasie. In die kindies werk dit ook so, in die laerskole is hulle meer gefokus op skryf, lees, klanke en daar is ook buitemuurse klasse om van te kies soos musiek as hulle ouer is. Die onderwysers is in konstante kontak met die ouers en as hulle ouer word, begin hulle hul werk op hulle Chromebooks te doen.

Jy het genoem dat jy ’n onderwyseres is. Hoe verskil onderwys in Nieu-Seeland tenoor onderwys in Suid-Afrika? Moes jy enige ekstra kursusse doen of was al jou kwalifikasies geldig toe jy aansoek doen vir werk in Nieu-Seeland?

Gelukkig het NZQA my kwalifikasie aanvaar en ek kon dadelik geregistreer het, al wat ek nodig gehad het, was om my Engelse vereistes te vervul en dan kon ek werk as ’n geregistreerde juffrou in die kleuterskole en oorskakel na laerskool. Hier kan jy registreer vir ’n kleuterskooljuffrou of laerskooljuffrou. Dit is beter om te registreer as ’n laerskooljuffrou want dan kan jy werk in die kleuterskole en in die laerskole. Ek hoef gelukkig geen ekstra kursusse te gedoen het nie; my kwalifikasie is geldig hier en ek kan werk as ’n juffrou nadat ek geregistreer is. Die skole hier begin 08:45 en eindig 15:00. So opstaantye is later as waaraan ek as kind gewoond was. Ek weet vir laerskool moet jy ’n kursus voltooi tydens jou registrasie en dan kan jy werk by ’n laerskool hier.

Hoe verskil die werkskultuur in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika.

Die werkskultuur is baie anders as in Suid-Afrika, hier is ’n balans tussen familietyd en werkstyd. Hulle is meer gefokus rondom familie en familietyd, en baie van die plekke, mooi parke en kampterreine is kindervriendelik. As jy klaar is by die werk, los jy jou werk by die werk en spandeer tyd saam met jou familie. Jou werk verstaan as jy familienoodgevalle het en dat jy ’n familie het.

Hoe verskil die kossoorte in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?

Die vleis het baie snaaks en anders geproe toe ons hier aangekom het. Ons het vinnig gewoond geraak en ek en my man is baie lief vir oosterse geure. Baie van die disse van Suid-Afrika soos jou braaistukke en bredies is baie dieselfde hier ook. Hulle vleis is vreeslik duur, alles is baie duur. Die lewenskoste is baie hoog hier. Pavlova-en-vla-tert is hulle nageregte, ons hou nie baie van pavlova nie. Ons hele gesin geniet wel enige poeding en my kinders raak met tyd gewoond aan die kos en poedings. Hier is hulle groot op vrugte en gesond eet en ons kinders het grootgeword met vrugte as hulle fondasie. Hulle geniet dit baie om vrugte te eet.

Wat doen jy vir ontspanning in Nieu-Seeland?

Ek geniet dit om te gaan kamp saam met my familie asook om te skryf, te bak, te verf en in my groentetuin besig te wees en te swem. Ek en my man geniet dit baie om tyd saam met ons kinders deur te bring. Ons hou ook daarvan om Nieu-Seeland te gaan verken en nuwe plekke te besoek.

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong kan koop?

Ja, daar is twee Suid-Afrikaanse winkels in ons dorpie in Pukekohe. Ons het Ossewa hier en Mama Africa. Al twee winkels verkoop biltong, vetkoekdeeg asook al die Suid-Afrikaanse lekkernye. Hulle verkoop ook koeksisters en melkterte en selfs Peppermint Crisp-tert.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Immigrasie toets jou emosioneel, en dit toets jou huwelik. As jy nie sterk is in jou besluit nie, gaan dit nie werk nie. Jy moet 100% seker wees van wat julle wil hê en hoe julle voel en die doelwitte wat julle saam wil bereik. Dit verg werk van al twee in die huwelik. Vandag is ek trots op my en my man, ons het deurgedruk en harde klippe saam gekou en is deur baie hier. Dit laat jou alles meer waardeer en laat jou besef dat kommunikasie baie belangrik is. Ons is amper kiwi-burgers en ons is baie opgewonde daaroor. Immigrasie is wat jy daarvan maak en mens moet oopkop wees en reg wees vir die wipwarit.

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Tauranga, Nieu-Seeland

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels