Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Vandeesweek gesels ons met Carma Engelbrecht, wat nou al vir vyf jaar in Auckland, Nieu-Seeland woon.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ons is die vyf Engelbrechts: ek, Carma, my man Erich, ons oudste seun Liam (byna sewe jaar oud), Lukah (drie en ’n half jaar oud), en ons geliefde hond Frankie, wat vanjaar nege word en saam met ons geëmigreer het.
Liam is in die Wes-Kaap, by Louis Leipoldt, gebore, terwyl Lukah in Nieu-Seeland die wêreld ingekom het. Op daardie stadium was ons nog op werkvisums, en daarom kon Lukah nie as ’n Nieu-Seelandse burger geregistreer word nie – iets wat vir ons belangrik was, aangesien ons wou seker maak hy behou sy Suid-Afrikaanse burgerskap.
Ek is ’n haarkapster, en my man is ’n IT-bestuurder. Ons lewe is besig met twee energieke seuns en die konstante uitdaging om werk en gesinslewe in balans te hou – alles op ons eie. Tog leer mens vinnig aanpas, want daar is eenvoudig geen ander keuse nie.
Ons woon tans in Red Beach, Auckland, naby die see, en spandeer soveel tyd as moontlik buite. Die buitelewe hier is ongelooflik en beslis een van die lekkerste aspekte van Nieu-Seeland!
Hoe het jy die emigrasieproses ervaar, en watter verrassings het dit ingehou?
Daar is geen manier om jou volkome voor te berei vir die emigrasieproses nie. Jy dink jy is gereed en skep vir jouself ’n prentjie van hoe dinge gaan verloop, maar in werklikheid is dit baie moeiliker as wat jy jou kan voorstel.
Vir elke gesin is die proses anders. Ons het in fases getrek: my man het eerste gegaan, en vier maande later het ek en Liam hom gevolg. Ons het net tien dae voor die Covid-inperking in Nieu-Seeland aangekom – onbewus van die uitdagings wat voorlê. Daardie tyd was ’n emosionele wipwarit.
My man se pa is oorlede in ons eerste jaar hier, en hy kon nie na Suid-Afrika terugkeer vir die begrafnis nie. Ons moes die diens op YouTube kyk, wat bitter moeilik was. Niemand kan jou voorberei op daardie tipe ervaring nie.
Wat was die grootste aanpassing vir jou in Nieu-Seeland?
Een van die vreemdste dinge vir my was die kraam- en gesondheidstelsel. In Nieu-Seeland word swanger vroue deur vroedvroue opgepas en sien hulle eers op 32 weke ’n ginekoloog of verloskundige – iets waaraan ek glad nie gewoond was nie. Aangesien ek komplikasies tydens my swangerskap ervaar het, het dit vir my uiters stresvol gevoel.
Nog ’n groot aanpassing was die gebrek aan Christelike invloed in skole en ander instellings. Gelukkig het ons ná ’n ruk besef daar is wonderlike Afrikaanse Christelike kerke hier, soos ACK (Afrikaanse Christen Kerk), waar ons nou gereeld kerk toe gaan.
Die koskultuur was ook vir ons vreemd. Nieu-Seeland het nie werklik tradisionele disse soos wat ons in Suid-Afrika ken nie. Hulle het wel ’n paar interessante lekkernye en roomyse, maar niks wat werklik kan vergelyk met waarmee ons grootgeword het nie.
My wenke vir aanpassing:
- Reik so gou as moontlik uit na ander mense. Dit help om ’n gemeenskap te bou.
- Luister na ander se ervarings, maar vorm jou eie opinie. Nie alle raad is op jou situasie van toepassing nie.
- Glo dat jy enigiets kan hanteer – veral met die Here se leiding.
Hoe verskil die werkskultuur van Suid-Afrika s’n?
As haarkapster is die werkskultuur nie drasties anders nie, maar die vergoeding is baie beter. Hier word ek per uur betaal, en Nieu-Seeland se minimum loon is baie hoër as Suid-Afrika s’n. In Suid-Afrika het ek ’n kombinasie van ’n basiese salaris en kommissie verdien, en ek moes baie langer ure werk om ’n ordentlike salaris te verdien.
Nou werk ek minder ure, maar verdien steeds genoeg om gemaklik te leef – ’n groot verbetering in my lewenskwaliteit.
Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?
- Hoe baie verskillende kulture hier is en hoe goed mense saamleef.
- Ek het nie geweet van somertyd totdat ons hierheen verhuis het nie – dit was vir my heeltemal nuut.
Wat wens jy kon in jou tas pak toe jy geëmigreer het?
Ek wens ek het meer medisyne saamgebring – iets wat baie emigrante seker sal sê! Daarbenewens sou ek liewer nie soveel bagasie saamgesleep het nie, want ek moes ’n belaglike bedrag vir oorgewig bagasie op die lughawe betaal. Dit sou goedkoper gewees het om hier nuwe goed aan te skaf.
Gelukkig is ons bederf met Suid-Afrikaanse winkels wat produkte soos speserye en lekkernye invoer – iets wat ons baie waardeer.
Sal julle ooit terugkeer na Suid-Afrika?
Definitief! Ons beplan om ná ons ons Nieu-Seelandse burgerskap ontvang het, steeds ons Suid-Afrikaanse burgerskap te behou sodat ons kan terugkeer.
Baie mense kritiseer ons vir hierdie besluit, maar vir ons voel dit eenvoudig nie soos huis nie. Ons woon nou al vyf jaar hier, en hoewel ons baie aangepas het en groei beleef het, is ons hartsplek steeds Suid-Afrika.
Emigrasie is bittersoet – dit het uitdagings, maar dit leer jou ook waardering vir jou herkoms. Ons is dankbaar vir die mense wat ons hier ontmoet het, maar ons glo steeds dat ons uiteindelik terug sal gaan.
Ons vertrou in die reis wat die Here vir ons beplan, en glo dat alles op die regte tyd sal uitwerk
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Auckland, Nieu-Seeland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
