Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Vandeesweek gesels ons met Samantha Jansen van Nieuwenhuizen, wat in Auckland, Nieu-Seeland woon.
Hallo, Samantha! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Auckland, Nieu-Seeland te gaan woon?
Ons is oorspronklik van Middelburg in Mpumalanga.
Ons het Nieu-Seeland toe getrek vir ’n beter toekoms vir ons gesin. My man het toevallig werk in Auckland gekry en dit is hoekom ons oorspronklik in Auckland kom bly het. Ek het vier maande daarna werk gekry in Auckland en toe het ons maar hier wortel geskiet.
Auckland is baie groot en ons bly tans in ’n klein plaasdorpie met die naam van Waiuku.
Vertel ons meer van jou gesin.
My gesin bestaan uit myself, Samantha (35), my man, Lehan (34) en ons twee kinders, Simoné (11) en Lehandru (7). Ons het ook ’n hondjie Clover (3) en twee goudvisse.
Was dit moeilik om aan te pas, of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
In die begin was dit moeilik vir my gewees. My man het dadelik begin werk en ek het by die huis vasgesit met die twee kinders. Ons het toe nie ’n kar gehad nie en die weer was onaangenaam, so ek was vir die eerste drie weke huisgebonde. Maar daarna het ons goed aangepas. Ons het baie ander Suid-Afrikaners ontmoet en ons het ons baie goeie vriende hier gehad wat sowat ’n jaar voor ons hiernatoe verhuis het. Hulle het ons ongelooflik baie gehelp. Vandaar af het vriende familie geword.
Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir jul kinders? Van watter Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?
Ons huistaal is nog Afrikaans en albei my kinders kan Afrikaans verstaan en praat. Dalk nie so goed as wat hulle sou kon as ons nog in Suid-Afrika gebly het nie, maar hulle kan hulself help. My seuntjie noem dit nou wel nie Afrikaans nie maar “South African”.
Ons luister nog baie Afrikaanse musiek en my kinders het elkeen nog Afrikaanse boeke wat hulle elke nou en dan lees.
Hoe vorm of behou jou kinders ’n verhouding met hul grootouers? Hoe gereeld sien julle as familie mekaar?
Ons maak maar staat op WhatsApp-video-oproepe soos baie ander immigrante. My skoonma-hulle woon ook nou hier in Hamilton, Nieu-Seeland. Ons sien hulle so een keer elke twee maande. Verder het ons die ander ouers gesien toe ons in 2023 in Suid-Afrika gaan kuier het. My ma-hulle het hier kom kuier oor die 2024-Kerstyd en my pa-hulle sal oor die 2025-Kerstyd vir ons kom kuier.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag?
Ek is ’n projekbestuurder vir Terra Cat (Barloworld Cat se kleiner sussie). Ek is in die “Power Systems”-afdeling. Ons installeer kragopwekkers vir die “councils”, hospitale en baie verskillende eilande reg oor die Australiese gebied. My dag begin 05:30 in die oggend en eindig enige tyd tussen 21:00 en 22:00 in die aand. Hier is take in en om die huis wat die gesin se verantwoordelikheid is. Ons het nie ’n huishulp of tuinier nie. Daar is maatskappye wat die dienste aanbied, maar hulle is baie duur. So meeste mense doen dit maar alles self.
Hoe vergelyk die lewenskoste in Nieu-Seeland met die van Suid-Afrika?
Lewenskoste in Nieu-Seeland is baie hoër as in Suid-Afrika. Maar ons lewenstyle is baie beter. Ek sê maar altyd dat in Suid-Afrika verdien en betaal jy in rande en in Nieu-Seeland verdien en betaal jy in Nieu-Seelandse dollars. So ’n presiese vergelyking is baie moeilik. Kos en klere is min of meer dieselfde pryse, afhangend van jou smaak en keuse in klere en kos. Om ’n huis hier te huur of te koop is baie duur.
Hoe verskil die kossoorte in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?
Die kossoorte is baie dieselfde hier as in Suid-Afrika. Ons het net nie so ’n groot verskeidenheid nie. Daar is ook ’n paar goed wat mens nou weer hier kry wat jy nie in Suid-Afrika kry nie. Die benaming van die produkte is ook soms anders. Vleis proe hier baie anders as in Suid-Afrika. Ek moet sê dit was vir my die moeilikste aanpassing.
Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun? Indien wel, lys asseblief die ondernemings in jou antwoord.
Ja, daar is ’n paar plekke wat ons graag ondersteun. As mense huis toe verlang en net lus is vir iets anders dan gaan ons na die volgende plekke toe:
SA Shops (soos ons hulle noem):
- Mama Africa – Pukekohe
- Ossewa Biltong en Boerewors – Pukekohe
- At Food Culture – Highland Park & Hamilton
- Inside Africa – Highland Park
- The Lekker Shop – Hamilton
- Suid-Afrikaanse restaurant en “food truck”: Bush Fire Bar and Grill – Hamilton
- Chakalaka SA Street Food – Enige nagmarkte en geleenthede
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
