Uit en tuis: ’n e-pos uit China

12/11/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit China

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met Suid-Afrikaners wat hul voete oorsee gevind het – of vroeër daar gewoon het. Hierdie week kuier ons in die Verre Ooste saam met Stefan Alwyn Walker, ’n trotse Suid-Afrikaner wat saam met sy vrou en seun in China woon.

Ek is van Newcastle in KwaZulu-Natal en my vrou, Chantelle, is van Krugersdorp – maar ons het mekaar hier in China ontmoet.

Aanvanklik het ek in 2018 hierheen gekom om skool te gee nadat ek deur ’n moeilike tyd gegaan het. Ek het toevallig ’n onderwysgeleentheid op Facebook raakgesien, aansoek gedoen sonder groot verwagtinge – en vier maande later was ek op ’n vliegtuig. Hier het ek vir Chantelle ontmoet, ook ’n Suid-Afrikaner.

Ons het in 2019 vir vakansie huis toe gegaan, net toe die wêreld toegemaak het. In 2023, toe alles weer oop is, het ons besluit om terug te keer. Ons hou van die mense en kultuur hier, jy sal verbaas wees hoe baie Chinese en Afrikanergebruike ooreenstem. Maar bowenal was dit ’n besluit vir ’n beter lewe vir ons seun, Dawid, want die lewenskoste in Suid-Afrika het eenvoudig ondraaglik geword.

Ek is tans besig om saam met ’n vriendin ’n klein onderneming te bou wat fokus op vertalings, Engelse en Chinese klasse, en om mense te help wat in China wil kom skool gee. Chantelle gee Oral English aan graad 1 tot 7 by ’n dubbelmediumskool en Dawid is in die kleuterskool by dieselfde skool.

Mense in China werk ongelooflik hard, maar maak ook tyd vir rus. Van 12:00 tot 14:00 is dit amptelik rustyd – selfs kinders slaap dan in die klas. Reëls is streng en voorkoms tel baie, maar buitelanders word dikwels met begrip hanteer omdat hulle weet ons kom uit ’n ander kultuur.

Daar is eenvoudig geen vergelyking met Suid-Afrika nie. As jy bereid is om soos die Chinese te leef, is die lewe hier baie goedkoper.

Ons koop alles op TaoBao – dink Takealot en Amazon, maar baie groter. Ons huur ’n drieslaapkamerwoonstel vir sowat R30 000 per jaar en Chantelle se skool gee vir ons ’n behuisingstoelae wat selfs meer is as die huur.

Water, elektrisiteit en gas kos sowat 500 RMB per maand, en gesonde kos is goedkoop en volop. Vars produkte is op elke straathoek beskikbaar, wat die lewe eenvoudig en lekker maak.

Ons is ’n hegte groep Saffas wat kontak hou via WeChat. Daar is selfs ’n bystandsgroep vir Suid-Afrikaners in nood. Ek is self al daaruit gehelp toe ek in die hospitaal was.

In ons “klein” stad, Nanchong (met net tien miljoen mense!), is ons sowat tien buitelanders – sewe van hulle Suid-Afrikaners. Al sien ons mekaar nie gereeld nie, is daar ’n sterk gevoel van gemeenskap en lojaliteit.

Ek mis die reuk van die grond ná reën – iets wat ek glo uniek aan Suid-Afrika is. Ek wens ek kon dit bottel en in my huis spuit wanneer ek verlang.

Beslis! Die taal, die maniere, selfs om met eetstokkies (chopsticks) te eet – alles was vreemd. Aanvanklik voel jy soos ’n kind wat weer moet leer om basiese dinge te doen. Gelukkig maak tegnologie en vertaaltoepassings dit makliker, en met tyd begin jy verstaan en aanpas.

Ons hou van geskiedenis en kultuur. Onlangs het ons die antieke waterwiel in Lanzhou en die Terracotta Warriors in Xi’an besoek – asemrowend mooi!

Ons stap graag deur parke, doen KTV (karaoke met vriende), en geniet straatkos by aandmarkte. In China is daar altyd iets aan die gang – kinders wat speel, mense wat dans en ’n oorvloed van geure en klanke.

Om veilig te voel is kosbaar. Ons het besef dat mense wêreldwyd meer ooreenstem as wat hulle verskil. Familie is nie net bloed nie, dis die mense wat vir jou opdaag wanneer jy hulle nodig het. Toe ek in die hospitaal was, het vriende ons kind vir twee weke versorg – dis ware gemeenskap.

Ek praat gereeld Afrikaans, veral met my familie in Suid-Afrika – en wanneer Dawid my geduld toets! Chantelle en Dawid praat hoofsaaklik Engels, maar Dawid, vyf jaar oud, is reeds vlot in drie tale: Engels, Afrikaans en Mandaryns.

Ons kry nie Suid-Afrikaanse produkte in ons stad nie, maar daar is verskaffers reg oor China wat biltong, boerewors en speserye stuur. Ons gebruik plaaslike produkte en maak ons eie “huis”-smake.

Ons dokter is ’n Chinese vrou vir wie ons baie lief is, en ek leer vir Dawid self Afrikaans – my ma was immers vir 40 jaar ’n Afrikaanse onderwyseres.

My ma. Ons praat elke dag , soms meer as een keer. Sy was al hier vir ’n besoek en ons hoop om haar en my broer weer volgende jaar te sien. Ek mis hulle verskriklik, maar ek voel eenvoudig nie veilig genoeg om weer in Suid-Afrika te gaan woon nie.

My grootste verandering is my lewensuitkyk. Ek besef die wêreld is groter as die prentjie waarmee ek grootgeword het, en dat aanpassing jou sterker maak. Elke dag leer jy iets nuuts en met die regte ingesteldheid kan jy enigiets oorkom.

China is nie vir sussies nie. Jy moet ’n dik vel hê en lus wees vir avontuur. Mense gaan eerlik wees oor jou voorkoms en leefstyl, dis nie ongeskiktheid nie, dis net hul kultuur.

En moenie alles glo wat jy aanlyn lees nie; vra eerder iemand wat hier woon. Baie sal sê jy “hardloop weg”, maar jy kies uiteindelik wat die beste vir jou gesin is. Dis jóú toekoms.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels