Uit en tuis: ’n e-pos uit Dallas

07/01/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Dallas

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Landi Jacobs, wat saam met haar gesin in Dallas woon.

Hallo Landi, dit is heerlik om met jou te gesels!

Ons is oorspronklik van Rooihuiskraal in Centurion, Pretoria. Ons het vir baie jare daar gewoon, en ek en my man, Emile, het albei in Johannesburg gewerk. Emile, ’n datawetenskaplike by ’n internasionale konsultasiemaatskappy, het reeds ’n jaar tevore begin dink aan die moontlikheid om oorsee te werk, aangesien dit groot voordele vir sy beroep sou inhou.

In 2018 het ons verneem dat ons huis, saam met ongeveer 1 400 ander huise in Centurion, deel van ’n grondeisaksie was. AfriForum het destyds daaroor berig. Dit het ons genoop om ernstig oor emigrasie te begin dink, en teen die einde van 2019 het ons in Dallas geland. My man se maatskappy was geskok oor die grondeis en was dadelik bereid om ons te help verhuis na een van hul ander internasionale kantore.

Ons was albei as jongmense voorheen in Texas, en met Dallas se groeiende ekonomie, aangename klimaat en vriendelike mense, was dit ’n maklike keuse.

Ek en my man, Emile, het mekaar op universiteit ontmoet en is in 2007 getroud. Ons het twee kinders: Leané, wat 15 jaar oud is, en ons seun Charl, 10 jaar oud.

Ons woon in Allen, ’n stad sowat 30 minute noord van Dallas se middestad. Die area is vol parke en staproetes, wat dit heerlik maak vir die kinders – hulle kan skool toe stap en vrylik met hul fietse rondry. Leané is deel van die Lowery Freshman Center se swemspan. Die Freshman Center is ’n afdeling van die hoërskool waarheen alle graad 9-leerders gaan, waarna hulle van graad 10 tot 12 die hoofhoërskool bywoon. Allen het slegs een hoërskool vir dié grade.

Charl het intussen ’n uitstekende lacrosse-speler geword, en ons is ongelooflik trots op albei kinders. Verlede jaar het ons ook ’n hondjie aangeneem, Noel, ’n Amerikaanse Cocker Spaniel — sy regeer beslis die huis!

My man werk steeds vir ’n internasionale konsultasiemaatskappy en is tans Director of Data Engineering and Infrastructure vir hul alternatiewe data-afdeling. Ek werk as Senior Instructional Designer vir ’n lugversorgingmaatskappy in Richardson, sowat 25 minute van ons huis af.

Die werkkultuur hier verskil heelwat van Suid-Afrika s’n – dit is baie meer konserwatief en gestruktureerd.

Die leefwyse is vinnig en besig, maar ook baie veilig. Die kinders het vryheid om fiets te ry en by die park in ons woonbuurt te gaan speel. Die Amerikaanse kultuur fokus sterk op kinders, en ouers spandeer baie tyd om hul kinders na buitemuurse aktiwiteite te vervoer. Daar is geen skoolsport by laer- en middelskole nie; alle sport vind buite skoolverband plaas.

Dit is beslis goedkoper om in Texas te leef as in Suid-Afrika. Die lewenskoste is relatief laag in vergelyking met ander Amerikaanse state. Salarisse strek verder, rentekoerse is laer, belasting is minder, en daar is nie uitgawes soos privaat sekuriteit of skoolfondse nie.

Ons het verrassend maklik ingeskakel. Ons het ’n groot Suid-Afrikaanse vriendekring, maar het van vroeg af besef hoe belangrik dit is om in die Amerikaanse kultuur te integreer. Binne die eerste maand nadat ons aangekom het, het ek deel van ’n vrouegroep geword wat gereeld bymekaar gekom het vir wyn en kuier. Tydens Covid het dit Skype-vergaderings geword, maar vandag is hulle van my naaste vriende.

Deur die kinders se skole en sportaktiwiteite het ons ook baie goeie Amerikaanse vriende gemaak. Ons het vinnig by ’n kerk ingeskakel, wat ’n groot rol speel om mens tuis te laat voel. Amerikaners is oor die algemeen baie verwelkomend en gasvry.

Daar is heelwat dinge wat anders werk as in Suid-Afrika, onder meer kar- en huisversekering, mediese versekering, ’n posdiens wat werklik goed funksioneer, en die feit dat Amerikaners nie saam met jou tot by jou motor loop na ’n kuier nie.

Die grootste aanpassing was egter dat familie so ver is. Dit was veral moeilik oor die afgelope drie jaar, toe ek beide my ma en pa aan kanker verloor het. Ek het nooit gedink ek sou albei ouers so vinnig na mekaar verloor nie. In 2024 was ek twee keer in Suid-Afrika, en slegs ’n paar dae nadat ek weer in Dallas geland het, is my ma oorlede. Enigeen wat sê emigrasie is die maklike uitweg, het waarskynlik nog nie self daardeur gegaan nie.

Ons het al verskeie Amerikaanse state besoek. In 2022 het ons as gesin Mexiko toe gegaan, die kinders was mal daaroor. Ons beplan ook ’n Europese vakansie volgende jaar en was al ’n paar keer terug in Suid-Afrika.

Ons het geleer dat ons saam, as gesin, enigiets kan aanpak. Met ’n positiewe ingesteldheid en die besluit om dit te laat werk, kan ’n mens baie uitdagings oorkom. Ons het ook geleer om minder bekommerd te wees oor wat “ander mense” dink, en eerder op onsself en ons gesin te fokus.

Dit bly vir ons ongelooflik belangrik. Ons praat uitsluitlik Afrikaans by die huis, kuier steeds saam met Suid-Afrikaanse vriende, kyk in groot groepe na die Springbokke en probeer gereeld die Suid-Afrikaanse Potjie in Texas bywoon. Alhoewel die kinders nou “Amerikaans” grootword, werk ons hard daaraan om hul Afrikaanse wortels te versterk.

Ons maak gereeld ons eie boerewors, droëwors en biltong, en daar is altyd mieliepap en Aromat in die koskas.

Ja, daar is heelwat Suid-Afrikaanse winkels – fisies en aanlyn – waar ons produkte soos Mrs Ball’s, mieliepap en selfs Windhoek Lager kan kry. As iets nie beskikbaar is nie, raak mens kreatief en maak jou eie weergawe, soos biltongspeserye of melktert.

Van die winkels waar ons graag koop, is Brett’s Biltong, Biltong USA, Night Sky Lamb, Cornerstone Farms Texas, Beef Country en Aubergine Foods.

Nuwe uitdagings, nuwe avonture.

Ek het kalmer en rustiger geword. Ek is van nature ’n angstige mens, maar ek is beslis meer ontspanne sedert ons hier woon. Die enigste groot bekommernis is werksekerheid, aangesien Texas ’n employment at will-staat is. Ek het ook geleer dat klein probleme nie die moeite werd is om oor te tob nie.

Om oorsee te verhuis is nie maklik nie, maar dit is ’n ongelooflike avontuur. As jy besluit om die stap te neem, doen dit voluit. Moenie ’n “agterdeur” oop hou om terug te gaan nie – dan sal jy nooit werklik integreer of ’n sukses daarvan maak nie.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels