Uit en tuis: ’n e-pos uit die Kerseiland

01/12/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit die Kerseiland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Ida Otto wat op Kerseiland (Christmas Island) woon.

Ons is oorspronklik van Middelburg, Mpumalanga. Ek het my man, Dickie Otto, daar ontmoet, ons is daar getroud en beide ons kinders is in Middelburg gebore.

Ons het nie direk na Kerseiland geëmigreer nie. In Julie 2008 het ons na Perth, Australië verhuis. Begin 2010 het ons ons permanente burgerskap ontvang en Dickie het besluit om van beroep te verander. Hy het ’n werksaanbod aanvaar by Christmas Island Phosphates, en in Oktober 2010 het ons na die eiland verhuis. Dit het gevoel soos ’n tweede immigrasie, want die eiland is so ver van die vasteland af geleë.

Ek werk die afgelope 12 jaar as ’n geallieerde gesondheidsterapie-assistent. Die eiland word vier keer per jaar besoek deur ’n spraakterapeut, arbeidsterapeut en fisioterapeut. Hulle sien kinders wat na hulle verwys is en stel dan terapieprogramme op. Ek gebruik daardie programme en bied weekliks sessies vir die kinders aan.

Ek het my eie klaskamer in die skool en werk nou saam met die onderwysers om die kinders te help om hul doelwitte te bereik.

Die eiland is net 135 km² groot en van ons huis af is alles binne vyf minute se ry bereikbaar. Dit gee ons genoeg tyd om ná werk te gaan snorkel, stap, fietsry, kajak of selfs gou met die boot uit te gaan om vis te vang.

Voor Covid-19 het ons elke jaar saam met ons kinders op ’n vyf week lange vakansie gegaan. Dit was baie spesiaal en ons koester al daardie herinneringe, veral nou dat ons kinders uit die huis is.

Ek en Dickie het mekaar in Januarie 1998 ontmoet, is op 16 Januarie 1999 getroud, en ons dogter, Mirka, is op 4 Januarie 2000 gebore. Ons seun, Marco, is op 1 April 2003 gebore.

Hulle het albei die grootste deel van hul skoolloopbaan op die eiland voltooi. Mirka het in 2017 matriek voltooi en daarna na Perth verhuis, waar sy vir Dewald Craig, ook ’n Suid-Afrikaner, ontmoet het. Hulle is op 16 Januarie 2021 getroud. Jesus het hulle in November 2022 geseën met ’n seuntjie, Enzo, en in Junie 2025 met ’n dogtertjie, Zaylee. Ons is so geseënd om ouma en oupa te wees.

Marco het in 2020 matriek voltooi en in 2021 in Perth met sy elektrisiënopleiding begin. Hy het aan die begin van 2025 gekwalifiseer as elektrisiën. Hy en sy meisie, Kiara Buurman, is al agt jaar saam, ek glo sy sal een of ander tyd ons skoondogter word.

Ons is tans drie Suid-Afrikaanse gesinne op die eiland en kuier minstens een keer per maand saam vir ’n braai. Omdat die eiland so klein is, loop ons mekaar oral raak.

In ons tyd hier het ons ook gesinne sien kom en gaan, dis deel van die eiland se ritme.

Geloof in Jesus, of sal ek eerder sê, die gebrek daaraan. In die eerste jaar na immigrasie het ons ’n paar keer gedink dat ons eerder moet terugtrek Suid-Afrika toe, want alhoewel ons kinders dalk ’n beter toekoms in Australië het, staan ons ’n groot kans dat Jesus hulle gaan verloor aan die wêreld.

Die verhuising na Kerseiland het dit selfs moeiliker gemaak, aangesien die meerderheid inwoners Moslems of Boeddhiste is. Maar die Here het ons herinner dat dit ons plig as ouers is om ons kinders van Hom te leer.

Ons het elke geleentheid gebruik om oor Jesus te praat, en saam met hulle gegroei in geloof. Ek kan met dankbaarheid sê: my kinders ken en kies Jesus.

Die eiland is bekend vir sy jaarlikse rooikrapmigrasie, maar daar is nog baie meer om te beleef. Visvang is groot hier, en as die see kalm is, gaan die bote uit – dan word daar gesnorkel, geduik of sommer net in die water gekuier.

Daar is talle staproetes en afgesonderde strande; die eiland is vulkanies en ongelooflik mooi. Wanneer dit reën, speel ons aanlyn speletjies saam met ons seun in Perth. Ek hou ook van legkaarte en Christelike fiksie – dit hou my ure lank besig.

Die bevolking is hoofsaaklik Maleisies en Chinees, dus is die restaurante en supermarkte oorwegend Asiaties. Kos kom per skip elke drie maande van Australië of Maleisië af. Dis nogal iets om aan gewoond te raak wanneer jy produkte in Chinees of Maleis moet ontsyfer. Google Translate is jou beste vriend!

Ons mis natuurlik Suid-Afrikaanse disse. Ek bak en brou dus self, want daar is geen tuisnywerhede nie. Wanneer ons in Perth is, koop ons grootmaatvleis, boerewors, skilpadjies, biltong en droëwors by Kalahari in Willeton, ons gunstelingwinkel.

Kos is oor die algemeen duur op die eiland, veral vleis en vars produkte. Ons koop dikwels gevriesde groente omdat dit goedkoper is.

Ons het geleer om nie op ons eie kragte staat te maak nie, maar op Jesus. As jy besluit om aan te pas en dit in Sy hande plaas, kan jy enige situasie hanteer. Ons het ook besef hoe afhanklik ons as gesin van mekaar is – ons dra mekaar.

Ons hou vas daaraan. Geen taal kuier of lag so lekker soos Afrikaans nie, en geen taal dra soveel warmte oor nie. My kinders en skoonseun praat steeds Afrikaans en Kiara leer dit praat. Sy verstaan al baie, al antwoord sy soms in Engels. Uit respek vir haar, skakel ons oor na Engels as sy saamgesels.

Soos genoem, koop ons Suid-Afrikaanse produkte in Perth en neem dit saam terug. Daar is selfs ’n Afrikaanssprekende verpleegster op die eiland wat ons help met vertalings wanneer ons by die dokter moet uitkom.

In Perth self is daar baie Afrikaanse professionele mense – dokters, tandartse, onderwysers – maar hulle is altyd vol bespreek, want Suid-Afrikaners lewer puik diens.

Sonder twyfel: familie. Wanneer jy immigreer, besef jy eers die ware waarde van familie. Ons droom nog steeds daarvan om hulle nader aan ons te bring. Ek mis ook die ATKV-oorde en die Krugerwildtuin met sy varswaterdamme en kampeerplekke.

Ek het geestelik en emosioneel gegroei. Ek kyk met nuwe oë na die wêreld en heg meer waarde aan mense en oomblikke as aan besittings.

My man sê altyd: as jy jou huwelik wil toets, immigreer. Ons advies: moenie emigreer tensy julle albei 100% toegewyd is nie. Doen jou huiswerk en probeer voorberei, maar weet jy kan nooit ten volle gereed wees nie.

As jy immigrasie suksesvol wil maak, werk deur die uitdagings. Met Jesus kan julle enige berg oorkom, al moet jy ’n tonnel deur hom grou. En moenie bang wees om hulp te vra nie, dis hoe jy groei.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels