Uit en tuis: ’n e-pos uit Duitsland

31/07/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Duitsland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Duitsland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het.

Hierdie week gesels ons met Jolene Harley wat in Duitsland woon.

Ons drie is van Centurion – gebore en getoë. Quentin werk al van sy studentejare af vir Siemens Medies. Tydens sy opleiding in Erlangen, Duitsland, kon ons so ’n bietjie deur Europa reis. Daar was egter nog soveel wat ons graag wou sien en beleef, en wat ons met ons dogtertjie wou deel. Met ’n Suid-Afrikaanse salaris is oorsese vakansies eenvoudig onbekostigbaar. In 2022 het Siemens vir Quentin ’n aanbod gemaak wat ons nie kon weerstaan nie, en ons droom het waar geword: om Europa te beleef.

Omdat Quentin ’n werklike werksaanbod gehad het, was die proses makliker. Jy moet egter deur ’n paar hoepels spring om na Duitsland te verhuis. As jy jou eggenoot/te wil saamneem, moet hulle onder andere hul A1 in Duits slaag by die Goethe Instituut. Ek het net drie maande gehad om basiese Duits te leer. Ek wou bitter graag oorkom – en waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Jy kan ook met jou eie werksaanbod aansoek doen of met ’n Blou Kaart jou eggenoot vergesel. Daar is baie reëls – gans te veel vir hierdie spasie. Die regering wil seker maak dat eggenote na hulself sal kan omsien as iets sou gebeur. Baie van die reëls het ook verander ná die laaste stemmery in Duitsland. Emigrasie is tans ’n warm patat in baie Europese lande. Maak dus baie seker van al die reëls voor jy die groot sprong waag.

Ons het redelik maklik ons voete gevind. Dit is ’n maklike en moderne land om in rond te beweeg – alles werk. Die taal is egter ’n reusestruikelblok, veral in kleiner stede soos Erlangen. Party Duitsers weier eenvoudig om Engels te praat, en dis soms beter om maar net jou vinger te gebruik. Dit het te doen met hul trots op hul taal en identiteit. Ek dink hulle moes hard daaraan werk om weer trots te wees as ’n nasie. Hulle is glad nie so onvriendelik soos mense dink nie en kan ongelooflik hulpvaardig wees as jy vriendelik is. Selfs al praat jy vreeslik gebroke Duits, waardeer hulle dit as jy probeer.

Die klomp Suid-Afrikaanse Siemens-werkers kuier so nou en dan, veral as kollegas vanuit Suid-Afrika hier is vir opleiding. Ons het einde Mei vir die eerste keer saam gebraai. Dit was heerlik! Ons groep is omtrent ’n kosmopolitiese verteenwoordiging van al die kulture uit Suid-Afrika – maar Suid-Afrika bind ons saam. Natuurlik gesels almal oor die moontlikheid van terugkeer. Meeste stem egter saam dat ons sal bly waar ons kinders hulself vestig. Behalwe vir Siemens, vestig ander Suid-Afrikaners hul ook hier omdat Adidas en Puma se hoofkwartiere naby is – in Herzogenaurach. Ons het selfs studente raakgeloop wat aan die universiteit FAU verdere studies doen. Jy hoor Afrikaans op die vreemdste plekke!

KOO se tamaties en uie in ’n blikkie … en Beacon se malvalekker-Paaseiers! Een van die dames by die braai was onlangs in Suid-Afrika vir ’n troue en het ’n boks eiers saamgebring. Dit is amper verorber! Sy het die laaste paar vir ons dogtertjie geskenk, want sy was só opgewonde oor die soethappie.

Dis ongelooflik kindervriendelik. Instansies en feeste doen baie moeite met kinders. Daar was onlangs by Siemens se ope dag hope aktiwiteite vir die kleingoed. Die kinderspeelparke is om van te droom. Buitelugaktiwiteite word aangemoedig en daar is oral kinder- én hondevriendelike parke. Honde is orals welkom, mits hulle opgelei is. Jy betaal spesiale lisensies en belasting vir honde. Hier kan jy selfs middernag veilig met jou hond gaan stap. Duitsers is baie lief vir stap en klim – en daar is die mooiste plekke om te verken. Fietsry is ook groot, en met vandag se e-fietse kan jy die wêreld verken. Daar is oral herlaaistasies vir e-fietse én motors. Ons het self drie aangeskaf – kos ’n plaas se prys! Hier is streng reëls vir fietsryers: as jy gereeld oortree, kan selfs jou motorlisensie weggeneem word. En gepraat van lisensies – as jy binne ses maande oorskakel, word ’n Suid-Afrikaanse lisensie net so aanvaar. Ek dink hulle besef: as jy in Suid-Afrika kan bestuur, kan jy orals bestuur!

Stap, fietsry en swem! Daar is lieflike, skoon en bekostigbare openbare swembaddens. Dis net ongelooflik vol as dit warm is – en jy het maar altyd jou narre. Ongelukkig word rook en drank daar toegelaat, wat dit nie altyd aangenaam maak nie. Maar die plekke om te stap is rêrig besonders. Ek dink nie ons sal in ons leeftyd alles kan verken nie.

Ons is nogal braaf en geniet die nuwe uitdagings. Ons is ook ongelooflik aanpasbaar en heel gelukkig met net mekaar vir geselskap.

Ons praat net Afrikaans. Ilke neem ook Afrikaans as derde taal by haar gimnasium. Iemand êrens in Bavaria neem verantwoordelikheid daarvoor – ons was so dankbaar! Die skool het baie moeite gedoen om iemand te vind. In Duitsland moet jy drie tale neem om toelating tot ’n gimnasium (en later universiteit) te verkry. Daar is ander roetes, maar dit is moeiliker en neem langer. Ons werk egter hard daaraan om Duits magtig te word. Om Afrikaans te wees, help nogal – baie van ons woorde het ’n Germaanse oorsprong.

Quentin bak beskuit en het boerewors vir die braai gemaak. Dit was blitsig opgeëet!

Ek het ’n WhatsApp-groepie wat ek noem: Boerekaskenades in Duitsland.

Ek is baie rustig. Die angstigheid wat ek in Suid-Afrika beleef het, is iets van die verlede.

Ek dink die klimaat in Europa verander vinnig – en mens moet mooi dink voor jy dit as bestemming oorweeg. Kyk deeglik na die immigrasiereëls – dit het baie verander en word strenger. Dit gesê: dit is steeds ’n ongelooflike plek as jy hou van die bekoring van ou stede en ’n ryk geskiedenis.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan. AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels