Uit en Tuis: ’n E-pos uit Frankryk

01/09/2021
| Deur AfriForum Wêreldwyd
IMG-8492-scaled

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Louise Uys wat in Frankryk woon.

Praat julle nog Afrikaans?

Ja, ons praat nog Afrikaans by die huis. Ons kinders praat net Frans by die skool, maar kan vlot Engels ook praat as gevolg van TV-programme, en hulle het elke week vir een uur ’n Engelse klas. Ons oudste was in ’n internasionale skool waar hy Engels as eerste taal gehad het en Frans as tweede taal.

Wat is die vreemdste dinge om aan gewoond te raak?

  1. Kinderpartytjies is nie so groot en indrukwekkend nie. Mammas koop sommer ’n koek by die supermark, ’n boks vrugte wat in seisoen is en ’n sappie vir elke kind. Mammas of pappas laai die kinders by die partytjie af, al ken hulle nie die ouers nie, en dieselfde geld vir speelafsprake. Kinders kuier oor en weer en die ouers ken mekaar net van groet by die skool.
  2. Kinders gaan vanaf die ouderdom van 3 jaar voldag skool toe, van 08:30 tot 16:30.
  3. Daar is nie petroljoggies nie, dus moet ’n mens self brandstof ingooi.
  4. Jy pak jou eie inkopies in sakke as jy iets koop.

Het julle nog kontak met Suid-Afrika en sal julle ooit terugkom? 

Ons familie bly almal nog in Suid-Afrika. Ons mis hulle vreeslik baie en mis die Suid-Afrikaanse kultuur baie, en ons weet nie waarheen ons paadjies ons eendag sal lei nie. Vir nou is ons nog in Frankryk en ons is baie gelukkig hier.

Kry julle kans om te reis?

Ja, gereeld. Ons probeer as ons ’n kans kry om oor naweke nuwe dorpies om ons te verken. Dit is so mooi om deur die strate te loop, die dorpies se geskiedenis op te soek en alles wat mooi is te ervaar: gekleurde houthortjies voor die vensters, kliphuisies en -paadjies, en so baie ou geboue wat so ryk is aan geskiedenis en wat so mooi onderhou word. Tydens vakansies probeer ons bietjie deur Frankryk en Europa toer. Ons was al in ’n paar pragtige plekke soos Nice, Parys, Aix-en-Provence, Cannes, Como-meer, Frejus, Zurich, Heidelberg, Colmar, Straatsburg, Switserland, Milan, Le Grau-du-Roi, Munchën, Rottenbergh, Nieuwenstein, Camargue, Antibes, Avignon, Carcassonne en Lugano.

Waarvan hou julle die meeste van julle lewe daar?

Die vryheid om te kan lewe. Ons gaan stap graag in parke as ’n gesin of gaan doen staproetes. Ons kinders kan buite in die strate fietsry en ons kan dorp toe loop. Ons het nie diefwering, alarmstelsels of elektriese heinings nie.

Was dit moeilik om daar aan te pas?

Ja, die taal was ’n groot struikelblok. Ons het die eerste twee jaar egter in ’n Franse dorpie gebly wat baie meer Engelssprekende mense gehad het wat van Amerika, Kanada en die Verenigde Koninkryk af gekom het. Kinders leer baie vinnig die taal aan, maar vir my as ’n tuisteskepper was dit moeilik om te integreer en die taal te leer. Dit het ons so twee jaar geneem voor dit gevoel het asof Frankryk ons “huis” is. Die feit dat ons nie so gereeld Suid-Afrika toe gegaan het nie, het dit makliker gemaak om ingeburger te raak. Ons het eers ná ’n jaar weer vir ons familie gaan kuier.

 

Woon jy in die buiteland? Ons wil van jou hoor. Stuur gerus ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za

Deel op

Nuutste artikels