Uit en tuis: ʼn e-pos uit Guernsey

09/12/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ʼn e-pos uit Guernsey

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week kuier ons by Antoinette en Fanie van Zyl, wat op die prentjiemooi eiland Guernsey woon – ’n klein maar besonderse plek met ’n unieke karakter en gemeenskapsgees.

Hallo Antoinette, dit is heerlik om met jou te gesels!

Ons is oorspronklik van Bloemfontein. Aanvanklik was die plan om net vir ’n jaar of so oor te kom. My suster en haar man het reeds in Guernsey gewoon en dit het vir ons gelyk na ’n rustige plek om ’n nuwe begin te maak.

Ek werk halfdag vanaf eenuur as sekretaresse en my man werk by die hospitaal waar hy skofte doen. In die oggende bak ek vir ’n koffiewinkel – net om besig te bly. My kleinkinders hou my ook besig tussenin! Guernsey is ’n rustige plek; niks hier is ooit ’n gejaag nie.

Ons is ’n gesin van vier. Toe ons oorkom Guernsey toe, het my dogter in Suid-Afrika agtergebly om matriek klaar te maak. My seun het sy skoolloopbaan hier voltooi – dit was ’n groot aanpassing vir hom. Sowat vyf jaar gelede het my dogter ook by ons aangesluit. Albei my kinders is met Engelse eggenote getroud, en ek is nou die trotse ouma van drie dogtertjies – met ’n seuntjie op pad!

Ja, beslis. Ons het ’n lekker groep Suid-Afrikaanse vriende met wie ons gereeld saamkuier en braai. Dis heerlik om nou en dan net weer in Afrikaans te kan gesels.

Om ver van geliefdes af te wees, veral tydens siekte of wanneer iemand sterf, is die moeilikste. Guernsey se behuisingsreëls was aanvanklik ook vreemd – daar is ’n “local market” en ’n “open market”. As jy nie met ’n lisensie inkom nie, moet jy in die duurder “open market”-huise bly. En dan natuurlik – die weer! Die winters is lank, grys en nat, wat mens soms nogal onderkry.

Ons kuier graag in Afrikaans en hou van braai. Verder stap ons baie langs die see en kranse – die strande is pragtig. Oral is daar klein koffiekiosks waar jy net kan stop vir ’n warm drankie en die uitsig geniet.

Antoinette se man, Fanie, sê Guernsey het gou vir hulle soos huis begin voel. “Die eiland is sowat een uur se vlug vanaf Engeland,” vertel hy. “Dis net 16 kilometer lank en het ’n bevolking van sowat 64 000 mense. Guernsey het sy eie regering, bekend as The States, en selfs sy eie geldeenheid. Dit lyk anders as dié van die Verenigde Koninkryk, maar is gelykstaande aan die pond en word daar ook aanvaar.”

Wat hom die meeste beïndruk het, is hoe veilig en gemeenskapsgedrewe die eiland is. “Mense plaas sogenaamde hedge veg boxes – houtkissies met deurtjies – buite hul huise. Antoinette en ander Suid-Afrikaanse vroue bak in hul vrye tyd vir kinders se partytjies: melktert, koeksisters en piesangbrood. Jy kan ook vars groente daarin sit. Mense stop, koop wat hulle wil hê en los die geld in ’n blikkie. Só veilig is dit hier.”

Ons het geleer om verandering te verwelkom. Om suksesvol te emigreer verg tyd en geduld – dis beslis nie altyd maanskyn en rose nie, maar dit leer jou aanpasbaarheid en dankbaarheid.

Afrikaans bly my taal. Ons praat dit steeds by die huis, en ek probeer my Engelse kleinkinders ook Afrikaans leer.

Guernsey Gâche – ’n heerlike soet vrugtebroodjie wat tradisioneel vir ontbyt geëet word – dis beslis een van my gunstelinge.

Ja, gelukkig! Daar is ’n Suid-Afrikaanse winkel wat ons van ons weeklikse “fix” voorsien – van Mrs Balls en speserye tot lekkers. Daar is ook heelwat Suid-Afrikaanse dokters, onderwysers en prokureurs op die eiland.

My familie – veral dat ek nie altyd by troues, begrafnisse en spesiale geleenthede kan wees nie. En natuurlik die kos, sonskyn en ons mense – niks proe of voel presies dieselfde nie.

Om met verskillende mense en kulture oor die weg te kom, was aanvanklik moeilik, maar dit leer jou baie. Immigrasie is nie maklik nie, maar as jy ’n beter geleentheid vir jou gesin kan skep, moet jy dit met albei hande aangryp. Ons wou ’n plek vind met beter sosiale en politieke stabiliteit – en dit het ons hier gevind.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels