Uit en tuis: ’n e-pos uit Isle of Wight

10/12/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Isle of Wight

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week ontmoet ons vir Wilma Ryan, ’n trotse Suid-Afrikaner wat tans saam met haar gesin die pragtige Isle of Wight in Engeland haar tuiste noem.

Ons kom oorspronklik van Benoni in Gauteng. Toe ons na die Verenigde Koninkryk verhuis het, het Eddie gesê ons moet gaan waar die weer die beste is – dus het ons sommer heel suid begin! Ons het die eerste jaar in Portsmouth gewoon, in ’n tipiese Britse huis wat baie kleiner was as waaraan ons gewoond was.

Ek het toe baie gebid dat die Here vir ons ’n huis sou gee wat soos ons Suid-Afrikaanse huis voel – met ’n erf vir ons honde en ’n tuin waar ek kan plant en groente kan kweek. Net so het dit gebeur: ’n huis op die Isle of Wight, mét ’n see-uitsig. Ons woon nou al amper drie jaar hier en geniet elke dag van die eilandlewe.

Beslis hoe veilig dit hier is. Mense loop letterlik enige tyd van die dag of nag rond, en klein kinders stap alleen skool toe. Hierdie Suid-Afrikaanse mamma het die eerste paar maande elke dag saamgestap!

Ons het begin om elke oggend te stap en dit het deel van ons roetine geword: van die huis af see toe, koffie drink, en dan terug.

Die weer is ook vir niemand hier ’n verskoning nie. Reën kanselleer niks – jy trek net jou reënbaadjie aan en gaan aan.

Ek en Eddie is al 17 jaar getroud en ons het ’n dogter, Kaylee, wat 14 jaar oud is. Eddie is ’n wolk-ekonoom in sagteware, en ek is ’n estetiese praktisyn en inhoudskepper hier op die eiland. Ons is baie hegte gesin, lief vir kos, reis en nuwe avonture.

Toe ons emigreer het, het almal gesê die VK is maar net “grey skies” en koud. Ons het van dag een af besluit om dit anders te sien en die mooi raak te sien. Daarom het ek begin deel hoe ons die land ervaar – om vir ander te wys dit is nie net grys nie.

Ons wys hoe ons leef, waarheen ons reis, die kos wat ons maak, restaurante wat ons ontdek en ons daaglikse gewoontes. Ons wil net “real wees – geen voorgee nie.

Ek deel ook gereeld my liefde vir Biscoff, en toe mense my begin “tag” in resepte, het “Biscoff Friday” ontstaan. Elke Vrydag maak ek iets lekker daarmee, en Eddie het ons eie Biscoff-liedjie geskryf!

Ons is verlief op Amerika en gaan elke tweede jaar terug. Ons probeer elke keer ’n nuwe staat ontdek, maar Florida sal altyd ons gunsteling bly – dit voel soos die seevakansies waarmee ons grootgeword het.

’n Ander plek wat ons bekoor het, is Kreta in Griekeland: warm water, warm weer, ongelooflike kos, en bekostigbaar. Ek sal elke dag ’n Griekse slaai eet daar – hulle tamaties is uit die boonste rakke!

Definitief Amerika. Ons harte sal altyd daar wees –  die kultuur, kos, mense, leefwyse, kerke … alles net besonders.

Die rustigheid van die eiland is vir ons ’n groot seën. Dit voel soms asof ons permanent op vakansie is. Daar is geen hoofweë nie, alles gebeur rustiger.

Ons stap orals: strand toe, restaurante toe, dorp toe. Dis heerlik om saans te stap om te gaan eet, en dan terug te stap huis toe.

Selfs ná drie jaar is daar steeds plekke wat ons nog nie verken het nie – die eiland verras ons steeds.

Op 5 Oktober het Eddie ’n beroerte gekry terwyl hy bestuur het. Hy was heeltemal verlam aan sy linkerkant. Hy is later met ’n helikopter na die vasteland geneem waar ’n bloedklont verwyder is.

Met God se genade was Eddie binne 24 uur weer homself – sonder enige newe-effekte. Om dit voor my oë te sien, was die grootste getuienis van God se goedheid.

  • Jy kan nie na ’n nuwe land trek en presies dieselfde lewe verwag nie. Nuwe roetines vat tyd.
  • Ons sal altyd immigrante wees – maar ons bly trots Suid-Afrikaans.
  • Respekteer die land waar jy woon en sy kultuur, moenie probeer verander nie.
  • Hier word harde, eerbare werk opreg beloon.
  • Om elke dag voluit te leef en elke geleentheid aan te gryp, maak die reis soveel ryker.

• Die mense en daardie spontane inloer-kuier wat altyd ’n braai word.
• Suid-Afrikaanse kos
• Ek mis Dunked Wings en Spur!
• Eddie mis Karoo-skaaptjops en ’n kaasburger van Fireplace Roadhouse.
• Kaylee mis sushi van Fireroom.
• Ek mis Sarah – ons huishulp. Hier doen jy alles self of betaal duur vir net twee uur se skoonmaak.

Ja! Ons tandarts is Suid-Afrikaans, sowel as Kaylee se hokkieafrigter en wiskunde-onderwyseres. Die kinders se monde het oopgehang toe hulle hoor hoe hulle in vlot Afrikaans gesels!

Ons praat steeds Afrikaans in die huis, en Kaylee is trots Afrikaans (al klink haar Engels baie Brits!).

Ons hou van braai met braaibroodjies of my “braai pie”, en ons maak gereeld beesstert-potjie. Afrikaanse musiek speel altyd, en ek soek gereeld nuwe Suid-Afrikaanse treffers.

Rugby is natuurlik deel van ons DNA. Ons “44 Suid-Afrikaners”-plakkate by Twickenham het groot aandag op sosiale media gekry!

Bid daaroor en seker maak dit is waar God jou wil hê. Wanneer jy gaan, maak die deur agter jou toe. Baie mense los iets in Suid-Afrika agter wat hulle terughou om hul nuwe land voluit te geniet.

Omhels die nuwe land met ope arms, soek die mooi in elke dag, en geniet elke geleentheid wat oor jou pad kom.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels