Uit en tuis: ’n e-pos uit Japan

10/09/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Japan

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigiemand wat hul belewenisse wil deel.

Hierdie week gesels ons met Talita Brits wat in Japan woon.

Ek het nog altyd ’n groot begeerte gehad om Japan te besoek, maar ek wou dit nie net as ’n toeris ervaar nie – ek wou die land goed leer ken. My loopbaangeleenthede en inkomste in Suid-Afrika was beperk. As assistentbestuurder het ek net-net die basiese uitgawes gedek, terwyl ek as Engelse assistentonderwyser in Japan gemaklik kan leef, my familie in Suid-Afrika ondersteun én spaar vir reise en besoeke huis toe. Veiligheid het ook ’n groot rol gespeel. Ná alles wat my familie in Suid-Afrika deurgemaak het, het ek besef dat die gevaar en agteruitgang in die ekonomie, gesondheid, infrastruktuur en onderwys nie normaal is nie – al raak ons daaraan gewoond.

Ek werk tans in Japan op ’n drie jaar lange werkspermit as deel van die JET-program wat deur die regering bestuur word. Hierdie program het baie van die papierwerk en administrasie vir my hanteer. My plan is om ná tien jaar vir permanente burgerskap aansoek te doen. Die grootste uitdaging toe ek hier aangekom het, was nie die immigrasieproses nie, maar die streng COVID-prosedures en kwarantynreëls.

Ek was reeds gewoond daaraan om alleen oorsee te gaan, danksy my tyd as uitruilstudent en my jare op skepe. Die groot spanning was eerder dat ek min Japannees kon praat. Gelukkig was daar ’n groep Suid-Afrikaners op dieselfde program en ek het reeds kontak gemaak met die plaaslike buitelandse gemeenskap en my nuwe kollegas. Die eerste drie maande was die moeilikste. Ek moes doelbewus uit my gemaksone klim om nuwe mense te ontmoet en deel te neem aan gemeenskapsaktiwiteite.

Die stilte. Japan is ongelooflik stil in vergelyking met Suid-Afrika. Selfs in openbare ruimtes word jy versoek om sag te praat. ’n Ander uitdaging is om vriendskappe met Japannese mense te bou – hulle is baie gasvry, maar dit bly meestal by gasvryheid, nie diep vriendskappe nie. My naaste vriende hier is ander buitelanders.

Sonder twyfel die veiligheid. Ek kan laat in die aand deur agterstrate stap en steeds veilig voel – iets wat ek in Suid-Afrika nie sou waag nie. Ook die natuurskoon, somerfeeste, vuurwerke en die vryheid om as enkellopende vrou alles te ervaar sonder vrees.

As ek kunsklas het, neem ek die trein na ’n naburige dorp, geniet daarna ’n soesji-ete en koop kruideniersware. Ander Saterdae lyk baie soos in Suid-Afrika: huis skoonmaak, sportbyeenkomste bywoon, vriende ontmoet, strand toe gaan of Japannees studeer. Party Sondae ry ek stad toe vir kerk en maak sommer ’n uitstappie daarvan.

Ek gee Engelse klasse, saam met ’n Japannese onderwyser, vir hoërskoolleerders in ’n klein dorpie in Nagasaki-prefektuur. Terugvoer oor werk is skaars en baie indirek – jy moet spesifiek vra. Die werksomgewing is ook formeel, van kleredrag tot hoe jy mense aanspreek. Buitelanders word vergewe vir foute, maar dit help om moeite te doen.

Verblyf is kleiner en pryse verskil baie tussen stede en dorpe. In groot stede soos Tokio is huur hoog, maar in kleiner dorpe is dit meer bekostigbaar. Kospryse is oor die algemeen vergelykbaar met Suid-Afrika, maar vrugte, veral appels, is duur. Vis is volop en goedkoper. Ek woon in gesubsidieerde behuising en my totale maandelikse koste beloop tussen R12 000 en R15 000, insluitend my motorhuur.

Om nie oor alles te stres nie. Vra vrae, kry antwoorde, doen jou bes en laat gaan. Dinge verloop selde presies soos beplan, maar dit help nie om slapelose nagte daaroor te hê nie.

Japan het drie fases: elementêr (7–12), junior hoër (13–15) en hoërskool (16–18). Uniforms is verpligtend vanaf junior hoër en word by die skool gekoop. Die skooljaar begin in April, het drie kwartale en sluit vakansies in Maart/April, Desember/Januarie en ’n lang somervakansie in Julie/Augustus in. Sport en studies gaan dikwels gedurende vakansies voort.

Gyudon (beesvleis op rys), tempoera en soesji – veral kammossels, tuna en makriel. Ek het ook paling geproe (heerlik, maar duur) en selfs perdevleis probeer.

Vir drie jaar het ek net ’n fiets en die trein gebruik. Hierdie jaar het ek ’n motor gekry, wat sekere dinge baie geriefliker maak. Ek is besig om my Japannese bestuurderslisensie te kry; met ’n internasionale permit is dit hoofsaaklik papierwerk.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels