Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Clara Jones wat in Kanada woon.
Hallo Clara, dit is heerlik om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en hoekom het julle besluit om juis na Kanada te emigreer?
Ons is oorspronklik van Tweeling, Oos-Vrystaat en het tussen Reitz en Tweeling geboer. Verskeie faktore soos veiligheid, die toekoms van my dogter en van Suid-Afrika het gelei tot ons besluit om te emigreer. My man het ná ’n besoek aan Kanada goedkeuring gekry om hom as ’n entrepreneur in Manitoba te vestig. Hy het sy eie loodgieteronderneming in Brandon.
Hoe het jy die emigrasieproses ervaar? Was daar iets wat jou verras het of wat moeiliker was as wat jy verwag het?
Dit was ’n stresvolle tyd vandat ons die proses om te emigreer begin het. Alles het op sy tyd gebeur. Ek was erg opgewonde vir wat die toekoms vir ons in die nuwe land sou inhou. My tienerdogter was egter minder opgewonde. Die eerste twee jaar was die gemis na familie en vriende die ergste gewees.
Hoe het julle julself gevestig in die gemeenskap? Was dit maklik om jul voete te vind en nuwe vriende te maak?
Ons was in ’n bevoorregte posisie toe ons hier gekom het want ons het vriende van Reitz gehad wat reeds gevestig was en hulle het ons gou betrek by die Suid-Afrikaanse groep. Dit het dit makliker gemaak.
Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Kanada. Het julle al ’n netwerk of sosiale kring opgebou daar? Kom julle soms bymekaar?
Die groep Suid-Afrikaners hier in Brandon is baie groot. Ons het voor ons hierheen geskuif het, kontak gehad met ander Suid-Afrikaners wat ook later in dieselfde jaar as wat ons hier aangeland het na Manitoba sou emigreer. Ons het by die nuwe Suid-Afrikaners aanklank gevind en kom nou gereeld saam om te braai en verjaarsdae asook Kersfees, Dankseggingsdag en nuwe jaar te vier. Ons vriendekring gaan elke jaar met Vadersdag-naweek Clear Lake toe om saam te kuier.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Dalk iets kleins wat ander dalk nie sou verwag nie?
Na 11 jaar hier mis ek die Suid-Afrikaanse spontaneïteit en vriendelikheid. Daar is geen taal soos Afrikaans wat iets so goed kan beskryf of die regte sêgoed het vir situasies nie. Ek is lief vir handwerk en mal oor vlooi-/kunsmarkte. Suid-Afrikaanse markte is een ding wat ek regtig mis. Jy kry nie dieselfde kwaliteit en verskeidenheid van handgemaakte artikels by Kanadese markte as in Suid-Afrika nie.
Wat het jou verras of beïndruk van die Kanadese leefstyl of kultuur?
Die leefstyl van Kanadese is baie gemaklik. In die begin het dit my verras dat hulle met hul “lounge pants” (pajamas) en wolpantoffels sommer gou winkels toe sal gaan.
Wat doen jy en jou gesin vir ontspanning daar? Is daar iets uniek aan Kanada wat julle geniet?
Dit is baie veilig en die son gaan laat onder in die somer. Ons hou daarvan om fiets te ry ná werk. Daar is oral geplaveide roetes langs die strate waar jy met jou fiets in die stad kan ry. Naweke kuier ons by vriende ongeag of dit somer of winter is. Suid-Afrikaners laat hulle nie weerhou van ’n braai nie.
Watter lesse het julle as gesin oor julself, aanpassing, of julle nuwe omgewing geleer sedert julle verhuis het?
Dat die mens maklik aanpasbaar is.
Praat julle nog Afrikaans by die huis? Hoe belangrik is dit vir jou om die taal en kultuur te behou?
Ja, alhoewel my man Engelssprekend is praat ons nog Afrikaans in die huis. Dit is baie belangrik vir my om my taal en kultuur te behou. Ek is ’n paar jaar na ons hier aangekom het genader om ’n eksaminator in Manitoba te wees vir Afrikaans vir spesiale taalkrediete. Sedertdien het ek verskeie leerlinge getoets in die vaardigheid van Afrikaans om sodoende ekstra krediete te bekom vir hoërskool.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar, of moet julle kreatief raak om produkte van die huis te kry? Het julle al professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat, soos dokters, prokureurs of selfs onderwysers?
Die naaste Suid-Afrikaanse winkels is in Winnipeg en Saskatoon. Ons het al droëwors en biltong gemaak. Vriendinne bak beskuit en koeksisters so ons ondersteun hulle. Ons het in die begin altyd produkte van Suid-Afrika gekry met die koerier of produkte probeer kry by die kruidenierswinkels se internasionale afdeling. Daar is ’n groot groep Suid-Afrikaanse dokters hier in Brandon en ek is baie gelukkig dat my en my man se huisdokter Afrikaanssprekend is.
As jy aan hierdie emigrasiehoofstuk in jou lewe ’n titel sou gee, wat sou dit wees, en waarom?
Omhels elke uitdaging – mens moet ’n oopkop hê wanneer jy emigreer en elke uitdaging wat op jou pad kom, aanpak en positief bly.
Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?
Ek het besef dat ek meer rustig en tevrede is met my lewe en ’n positiewer uitkyk het oor waar ek tans in my lewe is.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel – iets wat jy wens jy geweet het voor julle vertrek het, of raad vir ander wat oorweeg om dieselfde pad te stap?
Emigrasie is nie maklik nie. Wanneer jy besluit om te emigreer moet jy doelgerig wees om daarvan ‘n sukses te maak. Dit is nie goedkoop nie. My man sal se dat as jy masjienery soos draaibanke en sulke goed het, kry maar die versendinghouer (shipping container) en bring saam. Ons nie eendag spyt ons het die besluit geneem nie maar ongeag waar jy in die wereld bly elke land het sy uitdagings.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan. AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Lees ook: Van die Vrystaat tot Queensland: ’n Lewe van aanpassing en dankbaarheid – AfriForum Wêreldwyd























