Uit en tuis: ’n e-pos uit Kanada

03/09/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Kanada

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer na Suid-Afrika teruggekeer het. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Hierdie week gesels ons met Thelma Coetzee wat in Kelowna, Brits-Columbië in Kanada woon.

Ons het in April 1994 na Vancouver geëmigreer, net voor die verkiesing. Ons het gevoel ons sien nie kans vir die onsekerheid en politieke onstabiliteit wat voorlê nie, en wou ’n beter toekoms vir ons kinders bou – ons seun was toe drie en ’n half jaar oud en ons dogter agt.

Ons het met agt groot tasse, min geld, geen meubels en sonder werk vertrek. Ons het die immigrasieproses deur prokureurs gedoen, wat die meeste van ons fondse opgeslurp het, maar ons was vasberade. Die proses self het verbasend vinnig verloop – ses maande van begin tot einde.

Ons het twee kinders. Ons seun, wat binnekort 35 word, was ’n professionele yshokkiespeler wat deur die Detroit Red Wings (NHL) geteken is totdat hy ernstige beserings opgedoen het. Daarna het hy meganiese ingenieurswese gestudeer en werk nou in die lugvaartbedryf in die VSA. Sy droom is om uiteindelik by NASA of SpaceX betrokke te wees. Hy is getroud met ’n Amerikaanse vrou wat ook Kanadese burgerskap het en hy beplan om binnekort vir dubbele burgerskap aansoek te doen.

Ons dogter is getroud en het vier seuns. Die oudste het pas gegradueer. Sy bestuur ’n diereversorgingsalon van haar huis af – ’n suksesvolle onderneming wat haar in staat stel om self haar kinders se aktiwiteite soos basketbal, hokkie en “scouts” by te woon. Hulle woon in Alberta, ’n naburige provinsie waar behuising meer bekostigbaar is.

Definitief. Dit het ons verbaas dat goed soos fietse en plante oornag buite winkels kon bly sonder dat dit gesteel word. Daar was ’n gevoel van veiligheid en vryheid wat ons nie geken het nie. Vroue ry alleen in busse om 23:00 saans. Daar is geen tralies of slotte aan vensters nie. Ons het die eerste keer ure in ’n kruidenierswinkel spandeer – elke produk moes bestudeer word, want alles was vreemd. Maar ons het vinnig aangepas.

Kanadese is vriendelik en behulpsaam, maar daardie diep, spontane “boerekuiers” tot laatnag is skaars. Ons vriendekring bestaan grotendeels uit ander Suid-Afrikaners – daar is baie hier!

Ons is albei afgetree. My man was ’n swaardienswerktuigkundige en ek het gewerk as ’n tegnikus in ’n olie- en gereedskapslaboratorium, en later in interne verkope. Suid-Afrikaners is bekend vir hul harde werk en ons het dikwels gevoel ons werk harder as ander – maar dalk is dit net ons persepsie. Salarisse is goed, maar afleggings is algemeen hier. Jy voel verneder, maar dis normaal. Werk is gewoonlik weer vinnig beskikbaar. My man het vier maande na ons aankoms nog werk gesoek, maar intussen het hy enige werk aanvaar, selfs koffie skink of vloere mop. Ek het binne twee weke werk gekry – vroue kry gewoonlik vinniger werk.

Die land self – daar is net een Afrika. Die mense, die klimaat. Ons het Vancouver gekies juis omdat dit ons aan Kaapstad herinner – berge en see. Nou woon ons in Kelowna met ’n droër klimaat, maar dis steeds pragtig. Kon ek die Krugerwildtuin net in my tas prop! Ek wens.

Lewenswyse: Mense is gemaklik. Jy sien mense in sweetpakke en plakkies in winkels. Niemand gee om nie. Geen oordeel nie. Jy kan net jouself wees.

Lewenskoste: Alles was aanvanklik duur omdat ons in rand gedink het. Maar sodra jy in dollars begin verdien, raak dit makliker. Vleis is nog altyd vir ons duur. Motors, huur, huise – alles is duurder, maar baie eks-Suid-Afrikaners floreer hier. Ons ook.

My man en ek praat nog net Afrikaans met mekaar – daarom ons sterk aksent! Ons het van die begin af Engels met die kinders gepraat om hul aanpassing te vergemaklik. Vandag praat hulle nog goed Afrikaans en lees dit ook, maar skryf is moeiliker.

Ons het Engels met die kinders in die huis gepraat. Ons dogter het “English as a Second Language” op skool geneem wat haar baie gehelp het. Teen die tyd dat ons seun skool toe is, kon hy reeds goed Engels verstaan – danksy sy suster se hulp en die taal in die huis.

Sy is van nature nuuskierig en leergierig. As uitruilstudent het sy in Denemarke ook hul taal geleer. Sy sê hoe meer tale jy ken, hoe makliker is dit om nog een aan te leer. Ons help haar – praat sinne in Afrikaans en vra dan wat dit beteken. So leer sy.

Daar is so baie! Idiome, grappies, selfs ons unieke sin vir humor wat Kanadese nie altyd snap nie. Ek gebruik gereeld my pa se woorde as die kinders iets vra: “Ek is nie Harry Oppenheimer nie!” Selfs my skoondogter gebruik dit nou.

Praat dit! Ons het Afrikaans met mekaar gepraat terwyl die kinders Engels met mekaar gepraat het. Hulle leer gou watter taal waar hoort. Ons seun bel ons dikwels van die werk af en praat Afrikaans net sodat ander nie hoor nie. Ons dogter doen dieselfde.

Ja, ons humorsin. Dat ons BRAAI (allerhande vleise) en nie BBQ nie (hamburgers en worsbroodjies). Wens hulle kon melktert en koeksisters waardeer. As mens milk tart sê gril hulle. Maar sê custard pie en hulle eet dit. Koeksisters is ver te soet vir hulle. Hul kan dit nie uitstaan nie. Hulle weet nie wat hulle mis nie. Snaaks genoeg, hulle is lief vir boerewors, droëwors en biltong. Hulle verstaan nie beskuit nie. Ouma sou so vies gewees het om dit te hoor!

Ons wens die Kanadese (Noord-Amerika) was meer ingelig oor Suid-Afrika. Eerste wat hulle ons gevra het, was: “Why are you not black?” Volgende vraag was: “Do lions roam the streets or the airport?”  

Soos voorheen genoem ons klimaat aan die weskus is baie matig. Dit ook gesê, huise (dubbelglasvensters) is aangepas by die winters. In ons huis byvoorbeeld, dra ek net ’n ligte truitjie in die winter. As ons uitgaan winkels toe of kuier, dra ek ’n ligte jas met miskien ’n serp en ligte stewels. Die jas moet mens maar uittrek in die winkelsentrums. Dit is warm na ’n rukkie se loop met inkopies. Dit sneeu vier keer per jaar hier in die provinsie en die strate is die volgende dag skoon. Natuurlik soos dit sneeu, kom die munisipaliteit se skrapers uit. In my dogter se provinsie van Alberta, sneeu dit veel meer en is baie kouer maar die son skyn heeldag daar. Hulle dra dikker jasse, maar hulle is oral in die winter. Hulle sit nie in die huis nie. Ysskaats, ski, doen hulle ding.  

Ons somers is besonders lank en is ’n aanpassing. Die son kom so 05:10 in die oggende op en gaan so 21:30 in die aand onder. Partymaal later. Mense is nog teen 21:30 in die aande by die strand (wat hulle hier strand noem … niks soos Durban nie). Soos julle dalk kan verstaan, teen die tyd wat winter aanbreek is ons dankbaar dat ons kan rus. 

Ek dink die grootste misverstand oor Kanada is dat ons verdwyn onder die sneeu of in igloes sit of dat ons bibber en beef heel jaar lank. Dit is so ver van die waarheid. Dis ’n pragtige land … van oos na wes, noord na suid.

My man maak gereeld melktert hier. Hy is baie goed daarmee. Boerewors, pap en sous, bobotie. Ons kry al die bestanddele hier (moes natuurlik soortgelyke bestanddele probeer kry bv. Maizena). Ons kry so elke nou en dan skorsies in die hande. Ons maak ook pampoen, groenboontjies, patats, beesboud en sous (tipiese SA Sondagmaal).

“’n Nuwe land, ’n nuwe lewe.”

Dit neem jare om in te haal wat jy agtergelaat het, maar dit gebeur. Neem so gou moontlik lewensversekering uit – dis goedkoper terwyl jy jonk en gesond is. Werk aaneenlopend – enige gapings beïnvloed jou pensioen. En onthou: Vliegkaartjies is duur. Ons wens ons kon ons ouers meer besoek toe hulle nog geleef het.

Gee dit minstens drie jaar. Hou aan, druk deur. Onthou hoekom jy dit doen. Moenie vergelyk nie. Pas aan. Kry ’n geestelike tuiste as dit vir jou belangrik is. Kry jou kinders betrokke by sport en dis goed vir dissipline en sosialisering. Daar is baie gratis of bekostigbare opsies by skole.

Jy kan dit regkry!

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Deel op

Nuutste artikels