Uit en tuis: ’n e-pos uit Londen

27/06/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Picture2-1-scaled

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Dorette Vermeulen wat al vir ’n jaar lank saam met haar man in Londen woon en werk.

Hallo, Dorette. Van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Londen te gaan woon?

Ek en my man, Christopher, het albei in Pretoria gewerk. Weens afleggings by my maatskappy in 2021 het ek werkloos geraak. Ek wou nog altyd vir ’n paar jaar oorsee werk en dit het gevoel asof die tyd reg was vir ’n avontuur.

Ek het as ‘n locum terapeut in Pretoria gewerk terwyl ons gewag het vir ons visums om in Engeland te werk. Ek het ’n pos gekry om as arbeidsterapeut in die skolesektor in die Londense middestad, Sentraal Londen. Christopher is ’n trou-videograaf en fotograaf en kan dus vryskutwerk doen.

Was dit moeilik om daar aan te pas of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Ons was vreeslik bevoorreg om vinnig aan te pas en vriende te maak. Eerstens het vriende aangebied om ons vir die eerste drie weke te huisves totdat ons ’n woonstel kon kry. Hulle het ons gehelp om die vervoerstelsel te verstaan, gewys waar om huis te soek, verduidelik hoe om bankrekeninge oop te maak, en nog vele ander noodsaaklikhede. Ons sal hul ewig dankbaar wees. Ons het ’n pragtige woonstelletjie in Wimbledon en woon vreeslik lekker hier.

Ons skryf dit alles toe aan die Here se genade. Al ons nuwe Suid-Afrikaanse vriende in Londen het ons “per toeval” ontmoet. Ons wou byvoorbeeld ’n Springbok-rugbywedstryd by ’n kroeg gaan kyk. Die kroeg was vol en ’n vriendelike paartjie was gaaf genoeg om hul tafel met ons te deel. Hulle was toevallig Suid-Afrikaners en nou is ons goeie vriende.

Die feit dat almal Engels praat, maak die aanpassing aansienlik makliker. Christopher is Engelssprekend en hy het dus makliker as ek by die Britse humor en aksente aangepas. Ek moet gereeld vir kelners of winkelassistente vra om hulself te herhaal.

Jy is ’n gekwalifiseerde arbeidsterapeut en jou man ’n professionele fotograaf en videograaf. Vertel ons ’n bietjie meer van jou werk en of die werkskultuur ’n aanpassing was.

Ek verskaf arbeidsterapie in skole vir leerders met spesiale leerbehoeftes en gestremdhede. ’n Groot kultuurskok vir my as arbeidsterapeut was die Britse gesondheidstelsel. Ek sukkel om dit te verstaan en na ’n jaar voel ek steeds soms onseker. Ek leer geweldig baie en is beïndruk met die hoeveelheid ondersteuning wat die staat aan leerders met spesiale behoeftes in die hoofstroomskole bied. Engeland het ’n geweldige tekort aan gesondheidswerkers en ons is dikwels almal oorwerk.

Christopher sê die mark hier is aansienlik vriendeliker met vryskutwerkers en die betaling beter. Engeland het baie streng reëls en regulasies rakende veiligheid en versekering. Die wetgewing oor hommeltuie is ook vreeslik streng, wat dit moeilik maak om lugskote van die trouvenues te kry. Tegnologiese toestelle soos kameras en videokameras is aansienlik goedkoper in Engeland as in Suid-Afrika, wat dit makliker maak om die nuutste tegnologie aan te skaf. Dit was wel uitdagend om sy onderneming in Engeland te begin aangesien hy van voor af ’n kliëntebasis moes opbou. Hy moes hard werk aan sy bemarking en sosiale media.

Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Ek dink die grootste aanpassing is om te aanvaar dat die Weste ’n totale ander verwysingsraamwerk het as ons in ontwikkelende lande. Ons weet dat dinge nie vanselfsprekend is nie en is gewoond daaraan om self planne te maak.

Ons het soveel empatie vir immigrante nou omdat ons verstaan hoe dit voel om deel te wees van ’n land, maar terselfdertyd soos ’n buitestander te voel. Omdat ons taal en kultuur van die plaaslike bevolking s’n verskil, hanteer en benader ons situasies heeltemal anders as hulle en word dikwels verkeerd verstaan. Ek moet gereeld verduidelik hoekom ek dinge op ’n sekere manier sê of uitdagings op ’n sekere manier aanpak. Aanvanklik was ek selfbewus oor my aksent, maar ek gebruik dit nou met trots. Ek hou aan om “ag shame” te sê, want ek is en sal altyd Suid-Afrikaans wees.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Die reuk van braaivleisvure, braaibroodjies, en om te kan swem op ’n warm dag. Ek het in trane uitgebars toe my ma vir my ’n boksie Ultramel-vla gestuur het. Mrs. Balls-blatjang en Wellington’s Sweet chilli-sous is goud in ons huis. Ek wens ek kon my hele gesin in my tas pak. Die verlange is party dae baie erg. Ons mis Sondae se braai en stoepkuiers saam met die familie en die Suid-Afrikaanse humorsin en tale. Ek mis dit om Afrikaans, Zulu, Sotho en isiXhosa te hoor.

Was Londen se klimaat ’n groot aanpassing? Het jy ’n oorlewingslysie daarvoor?

Ons het in die somer gearriveer, en dit was wat ons nou ’n sagte landing sal noem. Ons het die parke en die lang someraande vreeslik geniet. Die winter was ’n ander storie. Ek is baie lief vir blou lug en sonlig. As jy 16:30 van die kantoor af trein toe stap en dis al pikdonker, sak my moed so ’n bietjie in my skoene. Die tekort aan vitamiene D het ons beslis gevang en ek kon voel hoe my gemoed lig wanneer die son ’n bietjie uitkom.

Londen se weer herinner my aan Kaapstad. Dit is net ’n bietjie meer bewolk in die winter. Een ding wat ons onkant gevang het, was hoe alles in die winter muf. Ons moes die vog in die huis beheer en die mure en plafonne weekliks was sodat die dak en hoeke van die huis nie muf nie.

Jy moet maar altyd ’n sambreel byderhand hê en in die winter moet jy in lagies aantrek. Jou winterbaadjie en skoene moet warm, reën- en windbestand wees.

Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?

Ek dink nie ek was al ooit so trots daarop om Afrikaans te wees soos nou nie. Christopher is Engelssprekend, maar ons het besluit om soveel as moontlik Afrikaans by die huis te praat om die taal te behou. Ons is lief daarvoor om Afrikaanse woorde vir ons Britse vriende te leer.

Afrikaanse digkuns en my Afrikaanse Bybel was nog nooit mooier nie. Ons het wel nog nie kinders nie, maar ons kinders gaan beslis by die huis Afrikaans praat.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?

Ek sal sê dat ons ’n beter inkomste verdien in die buiteland. Die uitdaging op die oomblik is die lewenskoste. Om in Londen ’n blyplek te huur, is vreeslik duur, en die elektrisiteit en kospryse het in die laaste jaar aansienlik gestyg. Ons mis Suid-Afrikaanse restaurante. Restaurante in Londen is dikwels ’n hit or miss. Jy betaal soms vreeslik duur vir kos wat net gemiddeld is. ’n Mens leer maar die plekke ken waar jy weet jy goeie waarde vir geld kry.

Die gerief van openbare vervoer, die pragtige parke en tuine, en die argitektuur, kuns, museums en Londense geboue is seker ons gunsteling.

Een ding wat ’n mens moet aanvaar, is dat jou woonstel of huis aansienlik kleiner gaan wees as in Suid-Afrika en dat dit ‘n luuksheid is om ’n tuin te hê.

Enige lesse wat julle geleer het?

Hou vas aan jou geloof en die beginsels wat jou ouers jou geleer het. Daar is sekere waardes wat ons as Suid-Afrikaners het wat geweldig skaars is. Ons werksetiek, bereidwilligheid om te help, vasberadenheid en eerlikheid staan beslis uit. Ek is vreeslik dankbaar dat my ouers my geleer het om vas te byt, moeilike take aan te pak en nooit op te gee nie.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings soos winkels, restaurante of dienste naby wat julle graag ondersteun?

Snoggys en theSAVANNA by Wimbledon-treinstasie verskaf al die items wat ons die meeste mis, of dit nou ’n groen Sparletta, Oros, Mrs. Balls of boerewors is. Limpopo Biltong lewer die lekkerste biltong by jou huis af. By The Beskuit Factory UK koop ons die lekkerste tuisgebakte beskuit.

Christopher se foto- en video-onderneming is Nobleman Sparrow Productions, en ons neem troues af in Suid-Afrika, Engeland en Europa.

Watter interessanthede het jy oor die Verenigde Koninkryk ontdek wat jy nie vantevore geweet het nie?

Die Britte weet hoe om fees te vier en groot geleenthede te organiseer. Een van die groot sondes teen die Britse mensdom is om in ’n ry in te druk. Ek mis glad nie die rye by Binnelandse Sake in Suid-Afrika nie. Die Britse queues is so georden en almal wag geduldig hul beurt af.

Londen is ’n geweldig diverse stad. Mense van reg oor die wêreld woon en werk hier. Hulle het beslis daarin geslaag om ’n samelewing te skep waar almal ’n plekkie het. Ek is seker daar is steeds rassisme en diskriminasie, maar ons voel tog dat Londen baie inklusief is.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ek dink die groot vraag is dikwels: Was/Is dit die moeite werd? Is die gras groener aan die ander kant? Op sulke vrae het ons nie antwoorde nie. Op die ou end gaan dit oor wat vir jou belangrik is en wat jy daaruit wil kry. Vir ons was dit ’n geleentheid om te reis en verdere werksondervinding op te doen.

Elke land het sy eie kwessies en uitdagings. Ek dink ’n mens moet die kopskuif maak om Suid-Afrika nie met Engeland te vergelyk nie. Die twee verskil hemelsbreed. Beide lande het hulle voor- en nadele. Ons het Suid-Afrika nie verlaat omdat ons hopeloos voel oor die land nie. Ons is baie lief vir Suid-Afrika en het baie hoop vir die land alhoewel ons nog ’n ver pad moet stap. Ons sal Suid-Afrika altyd loof en prys wanneer ons mense van ons land vertel.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Ierland

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels