Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Carlien van Aardt Kotzé wat in Nederland woon.
Hallo, Carlien. Van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Nederland te gaan woon?
Ek het grootgeword op ’n plaas naby Oranjeville in die Vrystaat, maar nadat ek en my man op Potchefstroom ontmoet het, het ons vir byna 12 jaar in Middelburg, Mpumalanga gewoon. My man is in Januarie 2022 gekontak deur ’n personeelagentskap uit Nederland wat spesifiek Suid-Afrikaanse ingenieurs wou aanstel. Emigrasie was glad nie op ons radar nie en ek het nooit die behoefte gehad om oorsee te gaan woon nie, maar as jy vir die soveelste keer om politieke beleid oor die hoof gesien word vir ’n posverhoging, dan is so ’n aanbod iets wat jy makliker oorweeg.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ek en my man Fritz is albei 38. Hy is ’n meganiese ingenieur en ek is ’n hoërskoolonderwyseres. Ons het twee seuntjies, Friedrich (7) en Richan (2). Ons hou van uitstappies as gesin, of dit nou is na ’n dieretuin of na ’n museum is. Ons wil ons kinders se lewens vul met ervarings. Ons bly gelukkig naby die see, so dit is maklik om vir twee of drie uur op ’n dag bietjie strand toe te gaan.
Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?
Ek het nie besef dat ons kultuur soveel van die Nederlanders s’n verskil nie. Die taal is ’n groot aanpassing, dit is maklik vir ons om hulle te verstaan, maar hulle vind dit moeilik om ons te verstaan. Alles is anders, die plante, die voëls, selfs die goggas. Om inkopies te doen, is anders, want hulle produkte verskil van ons s’n, so om alternatiewe te vind vir dit waaraan jy gewoond is en mee vertroud is, is nogal ’n stryd. Na ’n jaar hier het ek baie geleer en die aanpassing raak makliker. Ek kan dit nie anders beskryf as om te sê dat jy soos ’n Marsman op planeet Aarde voel nie.
Wat beteken jou Afrikaner-erfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?
Baie mense wat nie emigreer nie is van mening dat ons weg is uit die land omdat ons nie van Suid-Afrika hou nie. Dit is glad nie die geval nie, maar as jou land dit vir jou moeilik maak om te oorleef, dan fokus jy op dit wat vir jou en jou gesin belangrik is. Ons wou nie net oorleef nie, maar LEEF. Ek voel meer trots om ’n Afrikaner te wees vandat ons hier woon. Ek dink my taal, kos, kultuur en maniere is beter. Dit is steeds moeilik om “Nkosi Sikelel’ iAfrika” te sing sonder dat jou lip begin bewe. Jou hart brand van verlange na Suid-Afrika.
Wanneer ons ’n verjaarsdagpartytjie hou, sing ons eers in Afrikaans “Veels geluk liewe maatjie” en dan daarna die Nederlandse “Lank zal hij lewe”. Ons braai gereeld saam met ’n groep Suid-Afrikaners en luister dan na Bok, Appel en Jo Black. My seun se skool het my so ’n ruk gelede gevra om ’n Afrikaanse les by hulle skool te kom aanbied. Ek was so trots en die kinders was heel ontvanklik en wou meer leer oor ons land en kultuur.
Hoe het jy die emigrasieproses na Nederland ervaar?
Aangesien ons deur ’n personeelagentskap genader is, het hulle die grootste deel van die proses gedryf en gereël. So vir ons was die emigrasieproses redelik maklik. Daar was ’n paar struikelblokke (lang toue by Binnelandse Sake vir paspoorte) en dokumente wat deur die Hooggeregshof gesertifiseer moes word, maar daar is gelukkig agentskappe wat ’n mens help hiermee. Die personeelagentskap wat ons oorgebring het, het regtig uit hul pad gegaan om ons te help om verblyf te kry, bankrekeninge oop te maak en selfoonkontrakte te kry. Jy het die gevoel gekry dat hulle regtig dink dat jy waarde tot hulle land sal toevoeg deur hier te kom bly.
Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir julle kinders? Van watse Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?
Ons praat nog Afrikaans by die huis en tussen ons Afrikaanse vriende hier. Ons is ’n groep van vyf Suid-Afrikaanse families in ons dorpie wat gereeld saam kuier.
In Mei hierdie jaar is die eerste Afrikaans kerkdiens gehou en hierdie naweek gaan ons braai, rugby kyk en ’n boeresportdag saam met ons geloofsfamilie hou. Die skool het ons ook aangemoedig om Afrikaans met ons kinders te praat sodat hulle ’n goeie taalfondasie kan bou. Ons wil nie Nederlanders word nie; ons wil Afrikaners wees wat in Nederland woon. Gelukkig het ek my Kook en Geniet saamgebring uit Suid-Afrika, so beskuit bak en eie vetkoekdeeg maak is iets wat ek hier moes leer.
Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?
Hier is ’n paar Suid-Afrikaanse winkels. Ons naaste winkel is Kuier Kos in Bloemendaal, so wanneer die lus vir biltong, koeksisters en Oros groot raak, kom hulle darem tot ons redding. ’n Bekende supermark hier (Lidl) het gereeld ’n ‟African week” en dan verkoop hulle Mrs. Ball’s-blatjang, Ceres-vrugtesap en malvapoeding, maar jy moet vinnig spring, want hier was al ’n paar vuisgevegte oor ’n bottel blatjang.
Het jy enige raad vir iemand wat wil emigreer?
Moenie die aanpassing (en die Europese winter) onderskat nie. Wanneer die aanvanklike wittebroodsfase van in ’n nuwe land woon verby is, het jy ’n goeie ondersteuningsnetwerk nodig wat ook al deur emigrasie is en wat jou perspektief kan gee en kan herinner aan die aanvanklike rede waarom julle besluit het om te emigreer. ’n Vriend van ons wat sowat vier jaar al in Ierland woon, het eendag gesê “An accent is a sign of bravery.”
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Dit is lekker om in ’n land te woon waar die kinders in die buurt wegkruipertjie kan speel en die speeltuine meer populêr is as die inkopiesentrums. Kinders loop nie met selfone rond nie, maar met glimlagte. Hier word almal aanvaar en die vullisman en die prokureur word met dieselfde hoeveelheid respek hanteer.
Hoe vorm of behou jou kinders ’n verhouding met hulle grootouers? Hoe gereeld sien julle as familie mekaar?
Gelukkig kan ons maklik ’n WhatsApp-video-oproep maak, maar dit is soms moeilik om te luister na ’n ouma wie se stem breek as sy met haar kleinkinders praat en hulle nie ’n drukkie kan gee nie. Ons was in Desember terug Suid-Afrika toe vir Kersfees en dit was lekker om te sien dat dit so maklik is. My ma het vir die somervakansie vir ons kom kuier. Tegnologie het die wêreld eintlik baie klein gemaak.
Vertel ons iets interessants van Nederland.
- Die kinders loop nie kaalvoet nie en dis vir hulle die vreemdste ding wanneer hulle sien iemand loop kaalvoet. Ek is al ’n paar keer gestop deur iemand wat heel bekommerd aan my sal vra: ‟Blote voete?” en dan antwoord ek maar net: “Ja, Tannie, dis Afrika-voete.”
- Die honde blaf nie! Die honde is so goed gemanierd hier, om honde in klerewinkels, slaghuise en supermarkte te sien, is glad nie vreemd nie.
- Jy kry nie ‟charcoal” te koop in die winter nie. Blykbaar is braai net ’n someraktiwiteit.
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.