Uit en tuis: ʼn e-pos uit Nieu-Seeland

18/10/2022
| Deur AfriForum Wêreldwyd
miranda

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Miranda Boshoff wat in Nieu-Seeland woon.

Hallo, Miranda. Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek is van die mooie Laeveld – Nelspruit om meer spesifiek te wees. Gebore en grootgeword daar.

Ek het as tiener gedroom om oorsee te werk, en ek het nie soos al my ander klasmaats geweet wat ek wou swot nie. So ek het besluit om te gaan au pair in die VSA. Almal gaan met matriekvakansie en ek klim op my heel eerste vlug na die VSA vir een jaar.

Toe ek terugkom was die sêding “As jy eers die beter water geproe het wil jy niks anders drink nie,” die absolute waarheid. Want dís toe ek besef hoe ons net met alles tevrede is in SA. Hoe ons altyd sê; “Dit kon soveel erger gewees het” of die al te bekende sêding: “Gelukkig het hulle ons nie seer- of dood gemaak nie”. Nee, nie gelukkig nie, dit moes nooit in die eerste plek gebeur het nie.

Nou ja, so het ek besluit ek gaan swot en dan terugkeer na die VSA, want dis mos nou bekend vir my.

Intussen ontmoet ek my man, ons trou en besluit toe saam ons wil emigreer. Ek het die skool gekontak van die kindertjies vir wie ek au pair het en die hoof het toe vir my werk aangebied. Toe ons al die logistieke van die proses uitvind, het ons besef dat my man vir drie jaar nie gaan mag werk nie en ons het toe net daar en dan besluit om eerder ander lande te oorweeg. Want hoe oorleef mens in elk geval op een salaris in vandag se tyd?

Ons het gekyk na Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Kanada was ons eerste keuse want dit sou my die geleentheid gun om weer terug te keer na die VSA en om dan vir my man te wys waar ek gewoon het.

So het ons deur die proses gegaan, baie navorsing gedoen, Engels-toetse geskryf, en dokumente begin regkry wat ons weet lank vat om te kry soos onverkorte huwelik- en geboortesertifikate. Ons was ’n paar keer amper gevang deur kastige “immigrasieagente” wat weghardloop met jou geld. Soos die proses aangaan het ons besef daar was net te veel op die spel. ’n Mens moet alles verkoop en dan jouself vir drie maande kan onderhou (let wel, in dollars) en dan weet ek nog steeds nie of my graad daar aanvaar gaan word nie. Daar was net te veel op die spel.

Toe is dit tussen Australië en Nieu-Seeland, en net toe ons besluit om Kanada te los toe kontak ’n Nieu-Seelandse werwingsagentskap my om te hoor of ek werk soek daar. Dit was die maklikste opsie tussen die twee lande en so het ons alles moontlik in plek gekry om oor drie maande te vlieg.

Raai wat? Toe slaan Covid … twee jaar later en my Nieu-Seelandse onderwysregistrasie verval amper, en ons is nog steeds nie daar nie. So het my werwingsagent ook sy werk verloor en niemand kan in Nieu-Seeland ingaan nie.

Ek het besluit in 2022 Covid moet seker iewers ophou en ek het toe begin CV’s uitstuur dat dit hop. Ten minste tien ’n dag was my doelwit elke dag. Uiteindelik begin ek onderhoude kry en net die regte werkgewer wat vir my baklei om op ’n “critical purpose visa” in te kom. So werk die Here se genade … Maart 2022 toe vlieg ons op ons nuwe lewensreis na Nieu-Seeland. Het ons die regte besluit geneem, wel wie weet?  

Watter emosie het jy die meeste ervaar tydens julle emigrasiereis?

’n Mens beleef elke emosie wat bestaan. Skuldgevoelens omdat jy almal agterlaat en vir jouself en jou toekomstige kinders ’n beter lewe wil hê. Sommige dae voel ’n mens jy maak die beste besluit van jou lewe en ander dae huil jy en wonder of jy die regte ding doen. Vernaamlik omdat ons toe-oë hier ingegaan het en nog nooit voorheen in Nieu-Seeland was nie. Dit is soos ’n warrelwind. Baie vrae en wat as … wat as dit nie uitwerk nie? Om al ons goed te verkoop was vir my een van die ergste dinge om te doen en dan nog om ons “kind”, Mowgli ons kokketiel, agter te laat.

Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe julle geëmigreer het?

Eerlikwaar sou ek nog minder ingepak het, want hier kan jy alles kry wat jy nodig het. Mense het gesê die kwaliteit van klere hier is nie dieselfde nie maar ek stem nie saam nie. Die keuses hier is eindeloos en jy kan van amper enige land klere invoer. En China en Japan is net om die draai. Op die ou einde word die meeste goed in elk geval in China geproduseer.

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika en was daar enige verskuilde kostes waarvan julle nie geweet het nie?

Ek verdien baie meer geld hier as in Suid-Afrika, nie omdat ’n mens dit oorskakel nie, maar oor hoe baie ek kan doen met my salaris en hoe baie ek kan wegsit aan die einde van die maand. Huishuur is vreeslik duur en inkopies kos amper dieselfde. Uiteet en luukshede is redelik duur. Karre is baie goedkoop en ’n mens betaal dit sommer af binne drie jaar. Maar hier verdien ek nou dollars so ek dink nie ’n mens moet dit vergelyk nie.

Daar was nie regtig verskuilde kostes nie – dit is net goed waaraan ’n mens nie dink nie. Soos dat jy jou lisensie moet oorskakel en kar koop en herregistreer, jou visas wat jy moet kry, soos verblyfreg. Alles gebeur nogal vinnig. ’n Mens moet gereed wees vir dinge wat voorval en moontlik kan gebeur terwyl jy nog jou voete vind.

Hoe is die weer in Nieu-Seeland?

Ons het nog nie somer hier beleef nie, maar almal sê dit is lekker warm en sonnig. Die winters is koud en nat en hierdie winter was blykbaar ekstra nat, so dit help glad nie as ’n mens “homesick” voel nie.

Praat julle nog Afrikaans?

Ja natuurlik! Ons gaan ons kinders Afrikaans grootmaak ook, dis wie ons is en ek voel reeds hartseer dat Suid-Afrikaanse kinders hier so min Afrikaans praat. Ek is so bang ons taal sterf uit.

Noem vyf dinge wat mense jou nie vertel het van emigrasie na Nieu-Seeland nie.


1.
Om te emigreer gaan die moeilikste ding wees wat jy ooit in jou lewe doen, en niks of niemand kan jou daarvoor voorberei nie.
2.
Moenie dink almal gaan kontak hou en vir jou kom kuier soos hulle belowe het nie. “Out of sight, out of mind”. Tot familie vergeet van ’n mens, jy sal net van mense hoor wat doelbewus moeite doen. Almal se lewens gaan aan.
3.
Jy huil baie. Al weet jy jy wil nie teruggaan nie, bly dit moeilik en vreemd vir lank.
4.
Dat jy nie alle Suid-Afrikaners net kan vertrou omdat jy dink hulle verstaan jou situasie nie. Kon jy almal vertrou in Suid-Afrika? “I rest my case.” Hier is mense met slegte intensies ook. Almal het nie ’n goeie hart soos jy of soos jy wil glo nie.
5.
Onderwys in Nieu-Seeland is niks soos ons gewoond is nie en dit was vir my ’n ongelooflike skok en aanpassing om aan dinge gewoond te raak.

Enigiets wat jy wil byvoeg?

Gaan lees gerus my blog op my Instagram @miranda_verster en kontak my vir enige vrae. Ek help graag. Ek weet hoe moeilik en deurmekaar dit vir ons was.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels