Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Vandeesweek gesels ons met Sené de Waal, wat in Nieu-Seeland woon.
Hallo, Sené! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Nieu-Seeland te gaan woon?
Ons is oorspronklik van Bellville, Kaapstad. Ek en my man is albei onderwysers en ons het ’n standvastiger toekoms vir ons en ons kinders gesoek.
Julle eerste emigrasie was na Pole. Wat het julle laat besluit om van Pole af Nieu-Seeland toe te emigreer?
Pole was nooit vir ons ’n langtermynplan nie; dit was vir ons ’n geleentheid om in Europa te werk en te toer terwyl ons gewag het vir Nieu-Seeland se grense om ná Covid te heropen.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ek is nou amper vyf jaar getroud met Rynhardt, die liefde van my lewe, en ons het onlangs ons eersteling, Boden, verwelkom. My man is ’n LO-hoërskoolonderwyser by die enigste hoërskool in die dorp, en ek is ’n kleuterskoolonderwyseres. Ons geniet die buitelewe en toer graag in Nieu-Seeland rond. Ons woon tans op ’n baie oulike kleinhoewe in ’n klein dorpie genaamd Hokitika (slegs 3 000 inwoners), sowat 1 km van die see af.
Julle seuntjie, Boden, is onlangs gebore. Hoe het jy jou swangerskap in die buiteland aangepak?
Dit was uiteraard ’n groot aanpassing en baie moeilik omdat ons familie so ver was. Die proses in Nieu-Seeland is baie anders as in Suid-Afrika. Hier kry jy ’n vroedvrou; sy was ’n groot steunpilaar gedurende die swangerskap. Ek en my man het mekaar baie ondersteun en dit het die hele proses baie maklik gemaak.
Hoe het jy tydens jou swangerskap met jou familie en vriende in die buiteland in kontak gebly?
Ons het elke dag deur middel van video-oproepe en WhatsApp-boodskappe met ons familie en vriende gesels.
Het jy ’n ondersteuningsnetwerk noudat Boden gebore is en ekstra aandag en liefde verg?
My man is beslis my grootste ondersteuner. In ons dorpie is hier heelwat Suid-Afrikaners wat ons al ontmoet het; party werk saam met my man. Hulle help graag en ons almal ondersteun mekaar waar ons kan.
Hoe gereeld sien julle familie mekaar?
Ek het my ouers aan die begin van 2022 laas gesien, maar ons is bevoorreg dat hulle die komende Desember vir ons gaan kom kuier om hul eerste kleinkind te ontmoet. My skoonouers het verlede Desember by ons kom kuier. Hulle het intussen Kanada toe verhuis om my skoonsuster met haar eersteling te ondersteun.
Praat julle nog Afrikaans met mekaar?
Ja, ons praat slegs Afrikaans met mekaar en praat gereeld Afrikaans met ander Suid-Afrikaners in die dorp.
Is daar enige Suid-Afrikaanse tradisies wat julle vir Boden wil leer?
Ons gaan probeer om soveel moontlik Suid-Afrikaanse tradisies vir Boden te leer. Hy gaan definitief saam met sy pa braai, visvang, vir die Springbokke skree en leer om te sokkie. Ons gaan ook slegs Afrikaans met hom praat, want ons weet kinders tel Engels vinnig in die skole en voor die televisie op.
Watter Afrikaanse hulpmiddels gebruik julle?
Daar is baie Afrikaanse kleuter- en Bybelstories op YouTube. My ouers bring ook Desember vir ons ’n klomp Afrikaanse storieboeke wat ons dan vir hom gaan lees. Ons luister ook graag Afrikaanse musiek in die huis en in die motor.
Jou man is ’n LO-hoërskoolonderwyser en jy werk in vroeë kinderontwikkeling. Hoe verloop ’n tipiese werksdag?
As ’n kleuterskoolonderwyser werk ek nege-uurskofte en begin elke dag op ’n ander tyd omdat elke onderwyser ’n geleentheid kry om oop en toe te sluit. My man werk elke dag van 08:00 tot 16:30; hy gee 20 ure klas per week en die res van sy tyd is vir administratiewe werk. Almal in Nieu-Seeland begin later in die dag werk en daarom maak ons eers laatmiddag klaar. Dit is dus moeilik om al mens se draaie ná werk te kry, want die meeste van die winkels en dokterspreekkamers maak 17:00 toe. Slegs die supermark bly oop tot 21:00 in die aand.
Is die lewe rustiger daar en het julle meer tyd om te ontspan en te reis?
Die lewe is baie rustiger; mens voel nooit gejaag nie en daar is geen druk van die werk se kant nie. Hulle is baie op jou geestestoestand gefokus en maak altyd seker dat jy gelukkig is. Ek sou nie sê daar is meer tyd om te ontspan of te reis nie, maar met die lewenskostes is dit beslis moontlik om ’n paar vakansies per jaar in te werk. Jy maak tyd om ander dorpe te gaan ontdek, maar alles is baie ver uit mekaar; so, dit gebeur nie soveel as wat ons dit graag sou wou hê nie.
Hoe verskil die skoolstelsel in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?
Die skoolstelsel verskil soos dag en nag. Dit het ons omtrent twee jaar geneem om aan die stelsel gewoond te raak. In kleuterskole fokus hulle meer op spelgebaseerde leer, en daar is geen werksvelle of assesserings nie. Daar is bitter min laer- en hoërskole wat skoolfonds hef – die meeste skole in Nieu-Seeland is gratis. Op laerskool het die leerders slegs drie vakke tot en met graad 5 (jaar 6) naamlik, lees, skryf en ondersoek (reading, writing en inquiry). Daar is assesserings op laerskool, maar kinders mag nie teruggehou word nie, tensy die ouers voel dat hulle die kinders wil terughou. Graad 6 en 7 kry die kinders tegnologie as ’n vak by, waar hulle leer om te kook, naaldwerk te doen, te kodeer en ook houtwerk te doen. Op hoërskool werk dit baie soos Suid-Afrika, maar daar is minder toetse en eksamens. Daar is ook geen detensies nie en bitter min nagevolge vir leerders se aksies.
Julle woon in ’n baie klein dorpie aan die weskus van Nieu-Seeland en die Suid-Afrikaanse gemeenskap is baie groot daar. Hoe het die gemeenskap julle laat tuis voel?
Slegs ’n paar weke nadat ons hierheen verhuis het, het een vrou wat saam met my man werk vir my ’n groot ooievaarstee gereël. Ons het daar gaan braai en die hele groep Suid-Afrikaners daar ontmoet. Ons was so om en by 40 mense.
Kom julle soms bymekaar?
Ja, daar is gereeld ’n braai by iemand se huis en daar is ook nou en dan ’n sokkie wat gereël word.
Wat doen julle wanneer julle bymekaar kom?
Braai en kuier lekker saam. Ons luister na goeie Afrikaanse musiek en na almal se stories.
Watter interessanthede het jy van Nieu-Zeeland ontdek?
Die “eilandtydleefstyl”: Die mense is ongelooflik ontspanne oor alles en is nooit gejaagd nie. Die groot ongerepte natuur is orals en vir mense wat van die buitelewe hou, is daar so baie om te doen.
Watter soort buiteleweaktiwiteit is daar in Nieu-Seeland om te doen?
Daar is so baie om te doen, dat ek net ’n paar gaan noem: Staproetes in die natuur; bergfietsroetes; roei; branderplank ry; jag; visvang; in die berge gaan ski; en sneeubord. Dan is daar ook sporte waarby jy betrokke kan raak, soos rugby, netbal, korfbal, sagtebal, rolbal, ens.
Wat doen julle vir ontspanning?
Ons gaan gereeld see toe, gaan op staptogte en besoek plekke waarheen ons nog nie was nie.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Ons mis die kos sekerlik die meeste. Hier is nie so ’n groot verskeidenheid smaak soos in Suid-Afrika nie. Ons mis die gees van Suid-Afrikaners as dit kom by sport. Ons mis veral die pragtige wynplase van die Kaap hoe naby alles aan mekaar is. Ons mis ook die weer en die wild.
Wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika?
Die gees en die manier hoe Suid-Afrikaners enigiets saamkom en vier.
Enige lesse wat julle geleer het?
Ons het geleer om familietyd te koester en nie oor dinge te stres wat ons nie kan beheer nie.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Hoewel daar baie goeie dinge in Suid-Afrika is, was dit vir ons ’n maklike besluit om na Nieu-Seeland te verhuis. Daar is net so baie goeie goed uit Nieu-Seeland wat oorheers, naamlik die algehele veiligheid, stabiliteit en vryheid. Ons sal graag weer in die nabye toekoms Suid-Afrika vir ’n vakansie wil besoek.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Duitsland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs uit die buiteland teruggekeer? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Deel op
Nuutste artikels