Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Vandeesweek gesels ons met Pieter le Roux, wat in Queensland, Australië, woon.
Hallo, Pieter! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Australië te gaan woon?
Ek kom oorspronklik van Vryheid in KZN en my vrou is van Bloemfontein. Ons het by Tuks ontmoet en in Pretoria gewoon voordat ons na Australië verhuis het in Maart 2022. Ons het altyd ‘n sterk band met Suid-Afrika gehad, maar die onsekerheid oor die toekoms het ons bekommerd gemaak. Veiligheid, werk en ons kinders se toekoms was groot redes. My werk het my ’n paar buitelandse opsies gegee. Na die onluste in 2021 het ons besef dat dit tyd was vir ’n verandering. Ons het lank en hard gepraat oor ons opsies en uiteindelik besluit dat Australië die beste pas by ons behoeftes.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ons is ’n gesin van vier: Ek, my pragtige vrou, Anzette, ons seun Ruben (9) en ons dogter Olivia (7). Ek is nou nie so seker of ’n mens ’n dame se ouderdom moet noem nie, maar Anzette en ek is albei kinders van die 80’s – onderskeidelik 1987 en 1986. Julle kan maar self besluit wie die oudste een is. Ons is ’n gesin wat altyd op soek is na ’n nuwe avontuur, of dit nou ’n 4×4-rit na een van die eilande is of ’n eenvoudige braai in die agterplaas. Ons kinders hou ons besig met hul energie en ons is dankbaar vir elke oomblik saam.
Was dit moeilik om aan te pas, of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Hoe vinnig jy aanpas, hang af van jou. Ons het by die rugbyklub aangesluit en gou vriende gemaak. Ek was toe sommer gou-gou ook ’n afrigter by die klub! Om nie net met ander Suid-Afrikaners uit te hang nie, het gehelp om vinniger deel van die gemeenskap te word. Aussies neem dalk ’n bietjie tyd om jou te vertrou, maar as jy eers in is, is jy lewenslank ’n maat. Om nuwe mense te ontmoet en dinge te probeer is die beste manier om aan te pas.
Jy het genoem dat jy twee kinders het. Hoe oud is hulle en hoe het hulle in die nuwe land aangepas?
Soos enige ouers was ons aan die begin maar bekommerd oor hoe ons kinders sou aanpas by ’n nuwe land en skool. Ruben was net 7 en Olivia 5 toe ons hierheen is. Ruben het graad 1 in ’n Afrikaanse skool in Pretoria begin, maar het hier na graad 2 geskuif. Dit boonop nog in Engels. Olivia het ook ’n graad gespring. Ten spyte van die groot verandering het hulle albei baie vinnig aangepas. Rugby vir Ruben en dans vir Olivia het hulle ook gehelp om vinnig nuwe maatjies te maak. Nou, amper twee en ’n half jaar later, is hulle so gewild dat ons huis nooit stil is nie!
Hoe verskil die skoolstelsel in Queensland, Australië, van dié in Suid-Afrika?
Die verskillende geboortedatums wat bepaal wanneer ’n kind skool toe gaan, was vir ons ’n nuwe konsep. In Suid-Afrika is die afsnydatum vir ’n graad gewoonlik Desember, terwyl dit hier in Junie is. Dit beteken dat ons kinders, wat in Februarie gebore is, hier ’n jaar voor is in vergelyking met hul Suid-Afrikaanse maatjies. Die gratis staatskole en die verminderde huiswerklas is beslis voordele van die Australiese onderwysstelsel. Die integrasie van tegnologie, soos iPads, in die klaskamer is ook ’n positiewe aspek wat ons waardeer. Hier word erken dat elke kind op ’n ander manier leer. Daarom word daar baie moeite gedoen om seker te maak dat elke kind die ondersteuning kry wat hulle nodig het
Hoe vorm of behou jou kinders ’n verhouding met hul grootouers? Hoe gereeld sien julle as familie mekaar?
Een van die grootste aanpassings na ons verhuising was om afskeid te neem van ons uitgebreide familie. Gelukkig het tegnologie dit vir ons moontlik gemaak om in kontak te bly. Ons het ’n vaste tyd elke tweede Sondag vir ’n video-oproep. Die kinders vertel dan alles wat hulle by die skool beleef het. Ons deel ook gereeld foto’s en video’s in ons gesins-WhatsApp-groep. Die handgemaakte geskenke van Ouma, soos die warm truitjies, is ’n besondere aanraking wat die kinders aan hulle herinner.
Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir jul kinders? Van watter Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?
Ons het ’n bewuste besluit geneem om Afrikaans as ons huistaal te behou, ten spyte van die feit dat ons kinders in ’n Engels-medium-skool is. Ons glo dat dit belangrik is vir hulle om hul kulturele identiteit te behou. Ons speel gereeld ’n verskeidenheid Afrikaanse musiek, van die ou “classics” tot die nuwe treffers, om hulle met hul erfenis te verbind. Nog ’n tradisie wat ons steeds behou, is die tandemuis wat nog steeds by ons kinders kom kuier (nie die tooth fairy nie). Ongelukkig vir Mamma en Pappa betaal hy hier nie meer in rande nie maar wel in dollar.
Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?
Ons Afrikanererfenis is ’n belangrike deel van wie ons is. Ons is bekend vir ons gasvryheid, en ons probeer om hierdie waarde in ons lewens hier in Australië ook te beoefen. Ons geniet dit om tradisionele Afrikaanse kos te maak, soos ’n Jan Ellis-poeding, en om dit met my vriende te deel. Ons luister ook graag na Afrikaanse musiek en ondersteun ons rugbyspanne (Sharks en die Springbokke) met groot ywer. Alhoewel ons in Australië woon, sal ons nooit ons Afrikaner-wortels en -beginsels vergeet nie.
Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan/reis?
Een van die grootste verskille tussen Suid-Afrika en Australië is die werk–lewe-balans. Hier in Brisbane het ons die geleentheid om meer tyd met ons gesinne deur te bring. Die kantore is goed toegerus en die werknemers word aangemoedig om ’n gesonde leefstyl te handhaaf. My vrou se werkbuigsaamheid beteken dat sy haar tyd kan bestuur om al haar verpligtinge na te kom, soos om ons dogter na haar danslesse te neem. Dit is duidelik dat die kwaliteit van ons werk, eerder as die kwantiteit, hier baie belangrik is. Ons maak graag van ons tyd gebruik om nuwe plekke en ervarings te ontdek.
Hoe vergelyk die verblyfopsies in Australië met dié van Suid-Afrika?
Behuising in Australië is een van die grootste uitdagings waarmee nuwe immigrante te kampe het, en dit geld ook vir baie plaaslike inwoners. Die behuisingstekort maak die koop- en huurmark uiters mededingend, en het ’n impak op die pryse.
Ten spyte hiervan is daar ’n wye verskeidenheid opsies beskikbaar, van stadswoonstelle tot ruim huise met erwe. Jy sal beslis iets vind wat by jou behoeftes pas. Ons woon self in ’n huis met vier slaapkamers in Chuwar, ’n woonbuurt in die weste van Brisbane.
Een van die grootste verskille wat ons opgemerk het, is die gebrek aan sekuriteitsmaatreëls by huise hier. By ons kan iemand direk van die straat af na die voordeur loop. Ons het net ’n lae heining rondom die agtererf, en geen sekuriteitshekke of -tralies by die vensters nie. Dit is amper ongelooflik hoe veilig ons buurt is. Ons Amazon-pakkies word net so voor die deur gelos, sonder enige probleme
Die plek waar jy woon, bepaal ook watter skool jou kinders kan bywoon. Elke staatskool het ’n spesifieke opvanggebied, en jy moet jou kinders na die skool in jou gebied stuur.
Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong kan koop?
Ons is so gelukkig, want daar’s ’n paar plekke waar ons al ons Suid-Afrikaanse gunstelinge kan kry! Die Biltong Shop in Kenmore is net om die hoek en dis waar ons Aromat, braaisout, blatjang, rooibostee, Zoo-koekies en mieliemeel vir my pap koop. En natuurlik, hul biltong en droëwors is heerlik. Maar daar’s ook ’n paar aanlyn winkels soos Steyn’s Biltong wat heerlike geelvetbiltong verkoop. En soms kan jy selfs Ouma-beskuit en ander produkte by Coles of Woolworths kry.
Is daar enige professionele diensverskaffers (byvoorbeeld dokters, prokureurs en tandartse) waar jy woon wat jou in Afrikaans kan help?
Jy kan omtrent enige beroep hier vind as jy ’n Suid-Afrikaner soek. Ons het dit maar ’n bietjie oorgelaat aan ons geluk en nie spesifiek na Suid-Afrikaanse diensverskaffers gesoek nie. Maar dit is lekker om te weet hulle is hier as ons hulle nodig het. Ons het byvoorbeeld my vrou se nuwe Hyundai by ’n baie vriendelike Suid-Afrikaanse verkoopsman gekoop.
Enige lesse wat julle geleer het?
Wat ’n avontuur dit is om na Australië te trek! Alles was so anders, van die hitte en spinnekoppe tot die nuwe werk en skoolstelsel. Ons het aanvanklik elke geluid in die nag vertolk as ’n inbreker, net om dan uit te vind dit is ’n buidelrot (Engels: possum). En die eerste paar keer toe ons in die donker gery het, het ons by elke verkeerslig gevoel ons moet steeds op die uitkyk wees vir moontlike kapers. Maar met ’n bietjie tyd het ons besef dat immigrasie eintlik ’n baie opwindende tyd in ons lewe is. Anzette het so vinnig aangepas by die werkomgewing hier, en sy het vinnig geleer hoe om haar LinkedIn-profiel tot haar guns te benut vir goeie werkgeleenthede.
Toe ons besluit het om na Australië te verhuis, was dit ’n groot stap buite ons gemaksone. Natuurlik het ons getwyfel, maar ons het nog nooit spyt daaroor gevoel nie. Dit was ’n avontuur wat ons lewens heeltemal verander het
Wat doen jy vir ontspanning in Queensland, Australië?
Hier is soveel om te doen! Oral is daar parke en plekke waar ons kan gaan stap of ’n bal kan skop. En dan is daar al die markte soos Eat Streat waar ons lekker kan smul. Ons is ook mal daaroor om met die 4×4 na die strand te gaan, veral Moreton Island of Stradbroke Island. Hier kan ons lekker op die strande en natuurpaaie ry en op plekke stop waar daar nie ander mense is nie. Anzette kyk ook gereeld op Facebook vir plekke en aktiwiteite in en om Brisbane. Sy het hoeka die naweek wat verby is ’n oulike boeremark in Harrisville op Facebook gesien, waarheen ons gegaan het. En dan het ons nog die Sunshine Coast en Gold Coast op ons voorstoep. Ons het jaarpasse vir temaparke gekry, soos Movie World, Sea World en Wet n Wild. Ons kan nou so dikwels gaan soos ons wil.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Leicester
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.