Uit en tuis: ’n e-pos uit Tauranga, Nieu-Seeland

27/08/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Tauranga, Nieu-Seeland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Becky Kairuz wat in Tauranga, Nieu-Seeland woon.

Hallo, Becky! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Nieu-Seeland te gaan woon?

Ons is oorspronklik van Middelburg, Mpumalanga maar het ook in Nelspruit en Klerksdorp gewoon. Ons het na Covid-19 aansoek gedoen vir werk vir my man in Nieu-Seeland, Australië en Kanada. Ons het eerste ’n aanbieding gekry van ’n maatskappy in Nieu-Seeland en toe besluit ons Nieu-Seeland sal dan ons nuwe tuiste word.

Hoe het julle die emigrasieproses na Nieu-Seeland ervaar?

Opgewonde, bang en onseker. Jy vra jouself oor en oor of jy die regte besluit gemaak het. Ons het in ’n land kom bly wat ons nog net op video’s en Google gesien het. Dis nogal ’n vreesaanjaende gevoel, maar ook baie opwindend.  

Wat was die grootste aanpassing?

Die skole is baie anders as Suid-Afrika se skole. Sport is nie deel van die skool nie en word na-ure gedoen. Die weer is ook ’n aanpassing, jy kry soms vier seisoene in een dag. Dit sal reën, dan sal die wind als rond waai en dan skyn die son weer. Ons het al ’n sikloon beleef hier en selfs ’n aardbewing gevoel toe ons net in Tauranga aangekom het.  

Vir my was dit om self brandstof in te gooi en dan ook self my wiele te pomp. Hier dra die mense nie skoene in hul huise nie. As jy by die voordeur kom, trek jy jou skoene uit. Dit werk selfs by van die skole só. My dogter Sanise is nou tien en by haar skool mag hulle nie met skoene in die klas loop nie. Die mense in Nieu-Seeland hou van stap en fietsry. Dit kan reën en hulle sal nog steeds gaan stap of fietsry.

Honde hier is nie waghonde nie, hulle is meer soos een van jou kinders. Honde kan amper oral ingaan, selfs by van die winkels. Jy kry wel nie maklik ’n huurhuis wat honde toelaat nie, jy moet toestemming vra. Hier het ons ook elke drie maande huisinspeksie, dan kom ons huisagent en kyk na alles in die huis.

Vertel ons meer van jou gesin.

My man Lourens doen NDT werk, ek werk by fisioterapeute. My man studeer ook nou. Ons oudste seun speel graag die kitaar en maak musiek, Ryan is deel van die Air Cadets in Tauranga en doen ook rotsklim. Sanise speel hokkie en doen ook rotsklim.  

Jy het genoem dat jy kinders het. Hoe oud is hulle en hoe het hulle in die nuwe land aangepas?

Kiaan is 16, Ryan is 13 en Sanise is 10. Kiaan geniet die vryheid, hy doen werkies en kan baie meer doen as in Suid-Afrika. Ryan is 13 en doen ook werkies soos tuinwerk of hy was karre. Ryan sukkel om Afrikaans te praat, hy het net Engelse maatjies en kan nie altyd ’n volsin in Afrikaans vir ons sê nie. Ons sê dan maar vir hom hy kan in Engels praat. Sanise geniet die see en ook die vryheid, sy stap alleen “diary” (winkel) toe en gaan koop vir haar lekkers met haar bankkaart. Kinders kan hier van 16 af werk en ook hul leerlinglisensie kry, ses maande na hulle hul leerlinglisensie gekry het, kan hulle ’n “restricted” lisensie doen, as hulle dit kry, kan hulle alleen met die kar ry.

Hoe verskil die skoolstelsel in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?

Hemelsbreed … die kinders skryf eers eksamen vanaf jaar 11 in kollege (15 jaar oud), voor dit is daar geen eksamen of toetse nie. Hulle kry amper geen huiswerk nie. Die kinders gaan skool van 09:00 tot 15:00, die meisies mag hulle hare los dra en naellak dra. Seuns hoef nie te skeer nie en hulle hare kan ook lank wees. Dit was nogal vir ons iets om aan gewoond te raak. Ons kinders het gedink skool hier is soos vakansie, geen huiswerk of toetse nie.  

Hoe vorm of behou jou kinders ’n verhouding met hul grootouers? Hoe gereeld sien julle as familie mekaar?

Al drie kinders het in Maart 2024 teruggegaan Suid-Afrika toe vir amper vier weke en het hul grootouers gesien. Dan is daar ook video-oproepe op WhatsApp en boodskappe. 

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in die land verskil van dié in Suid-Afrika.

My man doen NDT, hy sê dit is baie rustiger as in Suid-Afrika. Die spoed van hoe dinge hier gedoen word, is ook vir ons heelwat stadiger. Dit voel soms of daar geen haas is nie. Ek doen kantoorwerk, vir my voel dit dieselfde as dit wat ek in Suid-Afrika gedoen het. Ek sukkel net bietjie met die kommunikasie. As mense inbel verstaan hul nie altyd wat ek sê nie, dis asof hulle nie my aksent verstaan nie.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika?

’n Hadida se geluide. In Suid-Afrika het dit my so geïrriteer, maar noudat ek dit nie hoor nie mis ek dit. Ek mis ook ’n Spar, maar ek mis my familie en vriende die meeste.

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie? 

Hoe mooi hulle biblioteke is en dat die busse vir skoolkinders gratis is.  

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland. Kom julle soms bymekaar?

In Tauranga het ons twee Suid-Afrikaanse gesinne wat ons familie geword het; die Steyns het ek ontmoet by Hatmed in Suid-Afrika toe ons vir ons mediese toetse gegaan het en so het ons in kontak gebly en dan die Terblanche’e, ons het in dieselfde straat gewoon as hulle toe ons in Tauranga aangekom het. Ons drie gesinne hou gereeld Sondagetes saam of piekniek op die strand. Dan het ons familie wat laasjaar oorgekom het en in Auckland bly. Ek het ook my beste vriendin, Marne, wat in Pukekohe woon. Ons is ook deel van die Afrikaanse Christen Kerk in Tauranga en daar is net Suid-Afrikaners.

Hoe verskil die kossoorte in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?

Ek dink Suid-Afrika het ’n groter verskeidenheid as dit by kos kom soos byvoorbeeld die kinders se sapboksies, hier kry jy net swartbessie of lemoen. Hier is die skaapvleis vir my wel vreeslik lekker. Ek het nie in Suid-Afrika skaapvleis geëet nie en hier eet ek dit graag. Groente is baie duur hier.

Bestuur van motors en bestuurderslisensies – hoe verskil dit van Suid-Afrika? Besit julle jul eie motor of maak julle gebruik van alternatiewe vervoer?

Ons het ons eie motor wat ons gekoop het toe ons in Nieu-Seeland aangekom, die kinders kan openbare busse gebruik. Hulle gebruik dit as hul strand toe gaan of flieks toe. Ons het ons bestuurderslisensies oorgesit na die Nieu-Seelandse lisensie en dis geldig vir 10 jaar.

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Die lewe is duur in Nieu-Seeland, huur is een van die grootste uitgawes hier. Ons kry elke tweede week salaris en so betaal ons ook ons huur elke twee weke. Vars groente en vrugte is ook duur. Ons betaal nie skoolfonds nie en dit is ’n groot besparing. Ek dink tog dat die lewenskoste oral duur is.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Emigrasie is moeilik. Ek dink ook dis wat jy daarvan maak. As die verlange erg raak en jy wil net terug, ry rond en onthou hoe mooi jou nuwe land is. Gaan ontdek nuwe plekke of gaan stap. Vir ons is die seesand soos goeie medisyne, as ek af voel en verlang kyk ek net hoe mooi dit om my is en dan is ek dankbaar.

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Queensland, Australië

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels