Uit en tuis: Van braaivleis tot bitterbal – My lewe as ’n Suid-Afrikaner in Nederland
Deur Mariaan Saayman-Gunnink
As jy vir my 30 jaar gelede sou sê ek sou trou met ’n regte Hollander en amper drie dekades later nog steeds in Nederland woon, sou ek waarskynlik my koffie uitgespoeg het van die lag. Ek is gebore in Pretoria, grootgeword in Rustenburg (waar my ouers nog steeds bly), en ná matriek het ek my waagmoed bymekaar geskraap en vir ’n jaar as au pair in Bilthoven gaan werk. Daardie jaar het my lewe verander – ek het nie net Nederland leer ken nie, maar ook die man ontmoet wat later my man sou word. En so het hierdie boertjie haar wortels in Holland geplant.
Van son en stof na mis en melk
Ek weet dit is afgesaag, maar ek sê dit steeds: die weer bly die grootste aanpassing. In Suid-Afrika is die son jou konstante metgesel, maar hier is dit ’n skaars gas. In Januarie vanjaar het ons selfs twee weke aaneen mis gehad; ek het amper begin glo ek leef in ’n melkglas! Ek mis die Afrika-son, die blou lug, die rooi grond van Rustenburg en daardie onbeskryflike reuk van die Bosveld ná reën. Dis dinge wat geen tulpeveld kan vervang nie.
Kultuurskokke en Nederlanders
Die Nederlanders is prakties, direk en, as jy my vra, partykeer té gemaklik met hul liberaliteit. Ek moes eers gewoond raak aan goed soos om self jou petrol in te gooi (waar is die petroljoggie as jy hom nodig het?) en dat jy in ons dorpie groente kan koop by ’n onbemande stalletjie met net ’n boksie vir geld. Ek het aanvanklik gedink dis ’n sosiale eksperiment, maar nee – dis net vertroue, iets waarby ons Suid-Afrikaners nog soms ons oë groot trek.
En dan is daar natuurlik die Nederlandse verjaarsdae – ’n kultuurervaring op sy eie! Hier sê jy nie net vir die jarige geluk nie; nee, jy moet ál die gaste gelukwens met die jarige. Soos in: “Baie geluk met jou buurvrou se verjaarsdag!” Die eerste keer toe ek dit beleef het, het ek gedink iemand maak ’n grap. En dan sit almal in ’n groot kring, asof ons in ’n gemeentevergadering is. Eers word daar koffie met koek bedien, dan ’n tweede koppie (dis belangrik, moenie te vinnig oorskakel na wyn nie), en daarna kom die borreltyd met kaas- en worshappies.
Toe ek onlangs 50 geword het, het my man natuurlik die tradisie eer aangedoen deur ’n reuse “Sara”-pop in ons tuin te sit. Dis hier die gewoonte om die hele dorp in te lig dat jy nou die groot vyf-nul bereik het. Ek moes letterlik lag en huil tegelyk toe ek daardie plastiekvrou met haar breë glimlag en voorskoot sien; my jongste het gesê sy lyk effens te vrolik vir iemand wat pas vyftig geword het!
Ons huis is intussen ’n vrolike mengelmoes van tale – Nederlands, Afrikaans en Engels vlieg deur die lug. My man en kinders praat vlot Afrikaans, maar hulle weet ook: as ek skielik van Nederlands na Afrikaans oorskakel, is dit beter om stil te bly en mooi te luister.

Skool, sport en … fietsry (of nie)
Die Nederlandse skoolstelsel is ’n wêreld op sy eie. Kinders begin op twee by “peuterspeelzaal”, daarna volg agt jaar “basisschool”, en dan vier tot ses jaar “middelbare school”, afhangend van jou vlak. Die grootste verskil? Skole hier doen niks aan sport of kultuur nie – dis alles buite skooltyd. En natuurlik ry almal fiets. Ek nie, dankie! My kinders moes daagliks sewe kilometer fietsry skool toe. Ek verkies stap of draf; iemand moet immers die familie se balans herstel.
Wat ek mis
Waar begin ’n mens? My ouers en susters, natuurlik. Maar ook biltong, egte braaivleis (nie “BBQ” nie, asseblief), en my pa se boerewors en pap vir aandete. En ja, die Bosveld se stilte. Gelukkig is daar Die Spens in Amersfoort waar ek soms my verlange kan stil – of ten minste vertroos met ’n pak beskuit.
Wat ek geleer het
Om in Nederland te woon het my onafhanklik gemaak. Ek het gou besef ek kan nie sommer net by my ouers gaan huil oor ’n moeilike dag nie; mens leer om jou eie potjie te krap. Ek het ook ontdek dat Nederlanders, agter daardie reguit gesigte en hul “doe maar gewoon”-houding, eintlik wonderlike mense is met groot harte.
Die grootste verandering? Ek het nie net ’n nuwe land leer ken nie, maar ook myself. En my kinders, Jan-Danie (23) en Elma (20), is op hul beurt baie meer internasionaal georiënteer as wat ek ooit was op hul ouderdom.
My raad aan nuwe “landverhuisers”
Moenie net by Suid-Afrikaners kloek nie. Ja, dis aanloklik – ons verstaan mekaar sonder om iets te sê – maar sluit ook aan by plaaslike verenigings, sportklubs of kultuurgroepe. Dis hoe jy werklik deel raak van die gemeenskap. En glo my, Nederlanders is nie so angsaanjagend soos hulle soms lyk nie.
Slotgedagte
Ek het nou al langer in Nederland gewoon as wat ek ooit in Suid-Afrika was, maar die Afrikaner in my is onwrikbaar. Ek volg steeds die Springbokke én Bafana Bafana met trots, en as ek hoor iemand sê “lekker man”, dan weet ek: jy kan die meisie uit Suid-Afrika haal, maar nooit Suid-Afrika uit die meisie nie.

Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Isle of Wight





















