Van Randfontein tot Auckland: ’n Reis van verlange, geloof en nuwe begin
Ek het ’n behoefte om my storie te deel.
Deur Janél Pretorius
Ons woon nou al ses jaar in Nieu-Seeland. Op 20 Januarie 2020, toe ek 31 was, het ons met twee klein kindertjies van vier en vyf jaar geland. Net twee maande later, in Maart, het die wêreld toegemaak.
Die dag toe ek my ouers op die lughawe gegroet het, was my laaste woorde: “Sien julle in Junie.” Hulle kaartjies was reeds bespreek, die visumaansoeke ingedien en ons het gewag … tot 19 Maart 2020, toe Nieu-Seeland hul grense sluit. Die Here het ander planne gehad, en ek het nooit die voorreg gehad om my ouers te wys watter lewe ons van nuuts af hier opgebou het nie.
Elke immigrasiepad is anders, die redes vir die besluit, die aanpassing, die oomblikke van viering en verlies. Dis moeilik om te verduidelik hoe mens tegelykertyd dankbaar kan wees en kan rou; hoe mens gelukkig en hartseer kan wees. Daar is dae wat ek wens ek kon my hart vir ’n rukkie uit my bors haal en op ’n rak bêre, net om nie die seer te ervaar nie. Tog weet ek, sonder twyfel, dat ons is waar ons moet wees, al weet ek soms nie of dit ’n besluit, ’n keuse, ’n gewoonte of bloot vrede is nie.
Ek is ’n onderwyser. Ek het tien jaar in Suid-Afrika skoolgehou en nou al ses jaar hier. Ons het gekom nadat ek ’n pos gekry het. Ons het op ’n Woensdag geland en op Donderdag – ná 28 uur se vlug en trane – het ek voor my nuwe klas gestaan.
My man, ’n ware “Jack of all trades”, het tydens Covid besluit om ’n kwalifikasie te voltooi. Vandag floreer hy in ’n beroep wat nooit vir hom moontlik sou wees in Suid-Afrika nie. Daar het ons van hand tot mond geleef , hier leef ons goed en ek besef watter seën dit is, want nie almal kan dieselfde sê nie.
Ons kinders is trots Suid-Afrikaans, trots Afrikaans. Dalk meer as wat hulle sou wees as ons in Suid-Afrika gebly het. My seun se 10de verjaarsdagpartytjie het selfs ’n Springbok-tema! Hulle sê altyd trots: “Ons praat nie ‘South African’ nie, ons praat Afrikaans.” En wanneer iemand hulle “Africans” noem, stel hulle dit reg: “Ons is Afrikaners.”

By die skool waar ek werk, is 11 van die 17 hoërskoolonderwysers Suid-Afrikaners. In my eie klasse is meer as die helfte van die kinders Suid-Afrikaners. My eie kinders leef op die sportveld. Dit is waar ons meeste van ons vriende ontmoet het. My seun se rugbyspan het sewe Suid-Afrikaners gehad en my dogter se hokkiespan vier.
Die Kiwi’s is wonderlike mense, maar ons sosiale kring bestaan hoofsaaklik uit Suid-Afrikaners. Dit was nie ’n besluit nie, dit is net hoe die lewe gebeur het. Partymaal het ons wel saam met vreemde gesinne gebraai, maar mens besef gou: nie almal is eende van jou dam nie.
In ons huis praat ons net Afrikaans. Die kinders hoor genoeg Engels deur die dag. Baie ouers verander van taal vir die “aanpassing”, maar ons het nie. Soms vertaal hulle uit Engels en sê dinge snaaks, maar ons help hulle reg. Dis óns verantwoordelikheid om Afrikaans lewendig te hou. Hulle was klein toe ons getrek het, met beperkte woordeskat, en dit is ons werk om hul Afrikaans te laat groei.

Laas week het my seun na ’n tier verwys as ’n “streep-perd”. Ná ons almal klaar gelag het, het hy verduidelik: “Maar dis dan mos soos ’n luiperd!”
Daardie eerste twee jaar was die moeilikste. Ek onthou drie dae wat vir altyd in my hart ingeëts sal bly.
Die eerste was my seun se verjaarsdag, skaars twee maande ná ons aankoms. In Suid-Afrika was verjaarsdae altyd gevul met mense, lag en koek, hier was dit net ons drie. Ek het die skool gebel en gesê ek is siek. Ons het na die diere gaan kyk, roomys geëet en toe by ’n Suid-Afrikaanse winkel gaan inloer. Die reuke van Oros, melktert en kaaskrulle het my oorweldig. Ek het in trane uitgebars en die tannie agter die toonbank het my net stilletjies kom vasgehou.
Die tweede was ons eerste Kersfees hier. In Suid-Afrika was dit altyd groot – familie, musiek, kos, lag. Hier het ons viertjies om die boom gesit, vingeretes geëet en uit die Bybel gelees. Dit was die eerste Kersfees sonder my pa en sonder my ma se teenwoordigheid.
Die derde was my tweede verjaarsdag hier, die eerste een waar my pa se oproep nie meer gekom het nie. Ek was ver van my ma af en die dag het leeg gevoel.
Maar ons is bevoorreg. My skoonsuster en haar gesin het twee jaar ná ons hierheen verhuis. Nou is Sondae, verjaarsdae en sportdae nie meer so stil nie. Daar is altyd iemand wat die kinders se “Grandparents’ Day” bywoon en as sy nie kan nie, sorg ander engele dat hulle nooit alleen sit nie.
Ons het ook familie hier: my niggie, my man se niggies en al sien ons mekaar nie gereeld nie, dit help om te weet hulle is hier. Ons kon selfs deel wees van my skoonsuster se swangerskap en my kinders het nou ’n nefie hier in Nieu-Seeland.
Ses jaar later kan ek eerlik sê: ons is gelukkig. Ons het ons plek en ons mense gevind. Ons kinders floreer. Ek is dankbaar vir my werk. My man groei daagliks. Ons werk hard, maar ons leef.
Groete
Janél Pretorius
Auckland, Nieu-Seeland
Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.
Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.
Lees ook: Waar ‟huis” nuwe waarde kry: Natasha Agenbag se volgende hoofstuk in Nieu-Seeland
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



























