Erfenismaand is ’n tyd van viering, refleksie en die herontdekking van die skatte wat ons kultuur en identiteit uitmaak. Vir Afrikaners wêreldwyd bied hierdie maand die ideale geleentheid om nie net hul ryk erfenis te herleef nie, maar ook om dit aan die volgende geslag oor te dra.
Hoe behou jy jou wortels in die buiteland?
Om jou wortels te behou terwyl jy in die buiteland woon, vereis ’n bewustelike keuse om in kontak te bly met jou kultuur en taal. Kultuur en taal is iets wat mense oor landsgrense heen saambind. Dit is ’n gedeelde stel waardes wat sê “Dit is wie ek is”. Identiteit, soos ’n taal, is iets wat jy kies deur dit op te neem en jou eie te maak. Wees jouself; wees Afrikaans.
Dit is ’n refleksie van wie ons is, ongeag waar ons onsself bevind. Dit is die taal wat ons praat, die kos wat ons eet, die natuurskoon wat ons bewonder, en die ryk geskiedenis wat ons koester. Dit alles vorm ons identiteit as Afrikaners.
Afrikaners het baie om op trots te wees
Afrikaners het ’n rykdom van tradisies en waardes om op trots te wees. Van die klank van Afrikaans wat oor ’n braaivleisvuur weerklink tot die gasvryheid wat ons as gemeenskap kenmerk – dit alles dra by tot die unieke identiteit wat ons as Afrikaners bind. Ons gedeelde humor, liefde vir die natuur, en die vermoë om ’n gemeenskap te bou waar ons ook al gaan, is getuienis van die diepgewortelde waardes wat ons met ons saamdra.
Vier jou kultuur: Praktiese maniere om jou erfenis lewendig te hou
Erfenismaand bied ’n wonderlike geleentheid om op kreatiewe maniere jou kultuur en taal te vier. Hier is ’n paar voorstelle om jou Afrikaanse wortels lewendig te hou:
1. Sing in Afrikaans
Of dit nou in die stort is of saam met vriende om ’n vuur, laat jou stem die liedere van jou hart se taal sing.
2. Kuier in Afrikaans
Nooi vriende en familie oor en kuier gesellig saam in Afrikaans. Woon Suid-Afrikaanse byeenkomste soos Afrikaanse musiekfeeste in jou omgewing by. Teken in op AfriForum Wêreldwyd se Kollig-nuusbrief en bly so op hoogte van alle gebeure in jou omgewing. Het jy geweet AfriForum Wêreldwyd bied ’n gratis diens waar jy enige Afrikaanse byeenkomste of feeste op ons platform kan bemark? Laat weet ons by wereldwyd@afriforum.co.za van enige lekker Afrikaanse byeenkoms in die buiteland.
3. Raak betrokke in Afrikaans
Sluit aan by Afrikaanse gemeenskapsgroepe of organisasies soos AfriForum Wêreldwyd om deel te bly van die gesprekke wat ons kultuur en taal lewendig hou. Afrikaans is die polsende hart van ons gemeenskap, ongeag waar jy woon. As ’n internasionale lid van AfriForum help jy om hierdie kosbare erfenis te beskerm en te bevorder. Sluit aan en hou jou taal lewend vir toekomende geslagte.
4. Betrek kinders en vertel hul van hul kultuur en erfenis
Deel oulike staaltjies, sing ou liedjies en moedig hulle aan om in Afrikaans te leer en te speel.
5. Ondersteun Afrikaanse ondernemings
Ondersteun ondernemings wat in Afrikaans sake doen. Dit bevorder nie net die taal nie, maar versterk ook die gemeenskap. Besoek AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids om Afrikaanse ondernemings in die buiteland op te spoor.
6. Neem verantwoordelikheid vir jou eie erfenis
Lees Afrikaanse boeke, kyk na Afrikaanse films, en maak ’n punt daarvan om die taal en kultuur aktief te leef.
Lees ook: Vier jou Afrikaanse erfenis, ongeag waar jy woon
Wees trots op jou kultuur hierdie Erfenismaand
Hierdie Erfenismaand, maak ’n bewustelike besluit om jou erfenis te vier en uit te leef. Of jy nou in Suid-Afrika woon of in die buiteland, jou kultuur is deel van jou identiteit. Die waarde wat jy aan jou erfenis heg, maak nie net jou lewe ryker nie, maar bou ook aan ’n nalatenskap vir die volgende geslag.
Vier jou kultuur, hou Afrikaans lewendig, en wees trots op die rykdom van jou erfenis.