Vyf dinge om in gedagte te hou wanneer jy migreer

06/05/2025
| Deur Alana Bailey
Vyf dinge om in gedagte te hou wanneer jy migreer

Deur Alana Bailey

Omdat al meer mense deesdae migreer, dit wil sê tydelik of permanent na ’n ander land verhuis, neem ’n mens aan dat hulle ook ingelig sal wees oor die verantwoordelikhede wat dié stap meebring. Ongelukkig is dit nie die geval nie en hoor ’n mens dikwels van iemand wat een van die noodsaaklike stappe in die proses vergeet het. Hiermee dus ’n lys van vyf minder voor die hand liggende kwessies waaroor jy jou moet vergewis voordat jy migreer én tydens jou verblyf in die buiteland.

1. Gesinsake

      Wanneer jy in die buiteland gaan werk of studeer, kry jou gesinslede nie outomaties die vergunning om jou te vergesel en self ook onderrig te kry of te werk nie. Hulle sal waarskynlik ander verblyfpermitte benodig om saam met jou daar te woon. Let baie noukeurig op die voorwaardes vir hulle onderrig en verblyf, asook op die vervaldatums van hulle permitte, wat dalk nie dieselfde is as die broodwinner of res van die gesin nie.

      2. Dokumente

        Pas alle tersaaklike dokumente en veral jou paspoort baie goed op. Hou ook foto’s daarvan en van enige geldige permitte daarin op verskeie toestelle. ’n Verlore paspoort tussen vlugte kan beteken dat jy toegang tot verdere vlugte geweier word en as jy op aanvraag iewers nie jou paspoort kan toon, of kan bewys dat dit weg is en jy reeds aansoek vir die vervanging  daarvan gedoen het nie, mag jy as ’n onwettige immigrant beskou en behandel word.

        3. Belasting

        Maak seker of die land waarheen jy gaan en Suid-Afrika enige belastingooreenkomste het wat sal verseker dat jy nie inkomstebelasting in beide sal moet betaal nie. Maak ook seker wat die vereistes aan die Suid-Afrikaanse en buitelandse kant is vir belastingplig in die finansiële boekjaar.

        4. Arbeidswetgewing

        Weet wat jou regte as werker in die land is waarheen jy gaan. Mense maak die fout om te dink dat lande in die Eerste Wêreld wetgewing het wat baie meer beskerming as Suid-Afrika bied, maar dit is nie noodwendig die geval nie. Jy mag selfs vind dat die wette ontoereikend is en jou eintlik blootstel.

        5. Die aanskaf van eiendom

        In Suid-Afrika is dit redelik noodsaaklik om oor een of ander voertuig te beskik en meeste mense beskou die aankoop van ’n eie woonplek as noodsaaklik. Dit is ook nie oral die geval nie. Lande met goeie vervoerstelsels moedig mense juis aan om byvoorbeeld nie ’n eie motor aan te koop nie en dit mag besonder duur wees om dit wel te doen. Daar is ook lande waar dit meer algemeen is om lewenslank ’n woning te huur. Pas aan by die gewoontes van die land waar jy woon om onnodige koste en moeite te spaar.

        Ten slotte, migrasie is net ’n sukses en aangename avontuur as jy deeglik voorberei daarvoor en jou oor alle aspekte daarvan inlig. Sterkte as jy dié stap oorweeg!

        Deel op

        Watter taal praat jy by die huis?
        Naam en van
        This field is hidden when viewing the form
        This field is for validation purposes and should be left unchanged.

        Nuutste artikels