Waar “huis” nuwe waarde kry: Natasha Agenbag se volgende hoofstuk in Nieu-Seeland

16/10/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Waar “huis” nuwe waarde kry: Natasha Agenbag se volgende hoofstuk in Nieu-Seeland

’n Jaar gelede het Natasha Agenbag haar eerlike ervaring van emigrasie in ’n ope brief met AfriForum Wêreldwyd se lesers gedeel – die onsekerheid, die afskeid, en die lang pad om haar voete in ’n nuwe land te vind.

Nou, ’n jaar later, deel sy haar volgende hoofstuk: Die skuif in die nuwe land self. Dit gaan nie meer oor bagasie en paspoorte nie, maar oor wortels en groei – oor hoe “huis” stadig ’n nuwe betekenis kry.

’n Jaar gelede het ek aan julle geskryf oor die woelige immigrasiewaters – die onsekerheid, die afskeid van mense en plekke, en hoe ons as Suid-Afrikaners ons voete in ‘n nuwe land probeer vind het. Daardie storm het gaan lê, en nou is dit tyd vir die volgende avontuur: Die trek na ’n ander dorp in die nuwe land. En liewe aarde, dis ’n reis op sy eie!

Op ’n koue oggend sit ek met ’n vrou en gesels in ’n sonnige kantoor waar die winterson vrolik deur die blinders loer. Sy lag en sê: “Om na ’n ander dorp te trek, voel amper erger as om te emigreer!” Ek knik instemmend, want om jou nuutgevonde gemak uit te ruk, vriende te groet, en jou kinders na nuwe plekke te skuif, is ’n groot ding. Dit verskil van die groot sprong om jou land te verlaat, want hier het jy alreeds met sweet en harde werk ’n veilige netwerk en lewe geweef.

Dan kom die trekproses: Jy grawe weer daai ou PEP-sakke uit, pak dit weer vol met jou belangrike goedjies, en wanneer die treklorrie weg is, staan jy in verwondering en kyk hoe tien sakke skielik tot ’n hele huis vol goed gegroei het! Maar soos ons Suid-Afrikaners is, pak ons dit met ’n glimlag aan. Soos die Afrikaanse idioom sê: ‟’n Boer maak ’n plan!”

Lentebloeisels en groen velde roep, en ná daardie laaste braai spat ons uitmekaar, elkeen na ’n nuwe blyplek, nuwe uniforms, en nuwe paadjies om te gaan verken.

Immigrasie bring verlange en eensaamheid, baie onsekerheid en soms depressie, maar dit bring ook ’n koel oggend met ’n vars lentebries wat na kersiebloeisels ruik. Dit bring golwe op swart strande en geleenthede waarvan ons in Afrika net kon droom. Dit gee ons families, veral ons kinders, die kans om die wêreld uit ’n ongelooflike perspektief te sien en te beleef – om vars sneeu te sien val en klein kinderhandjies te help sneeuballe rol. Dit is ’n geskenk wat ons harte met verwondering vul.

Ek sien dikwels op sosialemediaplatforms kommentaar soos ‟Gaan terug Suid-Afrika toe!” en dit tref my, want ek het ’n klankbord geword vir ander wat dieselfde voel. Baie van ons gaan nie terug Suid-Afrika toe nie. Hier kry ‟huis” ’n nuwe betekenis – dit is nie net ’n plek nie, maar die mense, die nuwe herinneringe, en die lewe wat ons hier bou.

’n Paar maande terug kom ek op Facebook af op die blad ‟Saffa Kiwi Mamma”, en ek sien duisende van ons in haar stories raak. Elke video laat ons vrouens en mammas lag, leer, en saam die reis van ouerskap en immigrasie beleef. Haar stories is soos ’n warm kombers – dit vou om die uitdagings van kinders grootmaak in ’n nuwe land, vier die klein oorwinnings, en dra die gedeelde liefde vir Suid-Afrika. Dit wys my hoe ons gemeenskap, selfs ver oor die see, soos familie bymekaar bly.

Wees jouself en jou mense sal jou vind. Of dit nou mede-Suid-Afrikaners of immigrante van elders is, die beste vriende kom uit onverwagte hoeke. Hulle verstaan jou reis en verryk jou lewe met hul kultuur.

Stap, stap, stap! Die buitelewe hier is ’n absolute geskenk. In Suid-Afrika het ons soms met ’n tikkie vrees gaan stap, maar hier voed dit die siel. Veral nou, in Geestesgesondheidsweek, is ek opgewonde om saam met ander te stap en mekaar op te beur.

Ons stories dra littekens, maar ook krag. Ons maak soms grappies en lag oor die drie keer wat ons beroof is, die mes teen die keel, die gesteelde kar. Maar daardie wonde word nou met sorg verwerk, nie net afgelag nie. Dit maak my hart warm om te sien hoe Suid-Afrikaners hier hulp soek en hul genesing omarm.

Ons dra ons erfenis met humor. Ek giggel altyd vir die name wat ons Suid-Afrikaners vir plekke uitdink: Perthfontein, Perthville, Rollesville, Christfontein. Ons dra ons erfenis met ’n knipoog saam!

Hierdie nuwe land bring vars uitdagings, maar ook ’n wêreld vol moontlikhede. Ons bly veerkragtig, bly onsself, en bou nuwe lewens met dieselfde gees wat ons in Suid-Afrika gevorm het.

Met ’n hart vol hoop en avontuur
Natasha Agenbag


Natasha se woorde herinner ons daaraan dat emigrasie nie ’n enkele sprong is nie, maar ’n aanhoudende reis van aanpassing, groei en herontdekking. Dis die klein dingetjies – ’n lentebries, ’n vriendelike gesig, ’n herkenbare geur – wat nuwe plekke stadig in tuistes verander. Natasha se storie herinner ons: ‟’n Huis is nie ’n plek nie, maar die mense en herinneringe wat ons saamneem.” – Sue-Ann de Wet


Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.

Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels