Ons nuwe lewe oorsee: Die dinge wat niemand jou vertel nie

07/05/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Ons nuwe lewe oorsee: Die dinge wat niemand jou vertel nie

Ope brief uit Nieu-Seeland

Ek skryf hierdie brief met ’n oop hart om iets van ons lewe as Suid-Afrikaanse immigrante te deel. My hoop is om lig te werp op die aspekte van emigrasie wat ons nie altyd verwag ná die eerste opwinding van ’n nuwe begin in die buiteland nie.

Toe ons uit Suid-Afrika vertrek het, was ons vol hoop op en drome van ’n beter lewe. Ons het gedink alles gaan maklik in plek val. Maar ’n paar maande later besef ons: daar is soveel dinge wat jy eenvoudig nie kan voorsien nie.

Die sogenaamde “wittebroodfase” van immigrasie is ’n werklikheid – vol energie, planne en optimisme. Maar soos die nuwigheid begin afneem, maak die werklikheid sy verskyning. Een van die moeilikste verrassings vir ons was dat van die seerste oomblikke juis van ander Suid-Afrikaners af gekom het. My man het by sy werk tye beleef waar sy landgenote hom eerder afgekraak as ondersteun het. Of dit jaloesie was, of mense wat hul plek probeer vaslê (onsekerheid oor hul eie plek), weet ons nie. Maar dit tref jou hard as dit van mense kom wat jy gedink het jou sou verstaan.

Ons het regtig ons bes probeer om deel te word van die gemeenskap hier – van klubs en partytjies tot spontaan gesels met enigeen wat wou luister en belangstel. Al was mense meestal vriendelik, het ons tog dikwels gevoel soos buitestaanders. Dit was soos ’n onsigbare muur wat ons nooit heeltemal kon oorkom nie. Stadig maar seker het ons gevoel ons word bietjie eenkant toe geskuif, en daardie gevoel van “hier hoort ek” bly maar moeilik om te kry.

Vir my persoonlik was dit ’n groot aanpassing om skielik ’n tuisblyma te wees. In Suid-Afrika was ek altyd besig en betrokke. Hier sukkel ek om werk te kry – die een “Nee, jammer”-brief na die ander laat jou selfvertroue kwyn. Dit is hartseer hoe dit jou breek. Kleutersorg is ook ’n groot uitdaging – of dit is onverkrygbaar, of dit is so duur dat dit nie eens ’n opsie is nie. En wanneer my man vir werk moet reis, sit ek soms alleen in ’n vreemde land – sonder iemand om mee te praat. Die eensaamheid kan swaar lê.

Ons mis Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse “vibe” intens. Die reuk van ’n lekker braai, die sonsondergange wat jou laat stilhou en net waardeer, die bedrywigheid in ons winkels. Soms hoor ons Afrikaans hier rond, maar dit is nie dieselfde sonder die lekker dialekte van al die provinsies nie. Ons gesels dikwels oor Oudtshoorn se ongelooflike gevoel en Hartenbos se strand in Desember – daardie herinneringe bly spesiaal. Maar, al mis ons dit, weet ons ons gaan nie terug nie. Ons familie en vriende kom kuier gelukkig hier vir ons, en die beste van alles? Ons kinders is so gelukkig hier – en dit maak alles die moeite werd.

Ek skryf nie hierdie brief om te kla nie, maar om te deel – dalk help dit iemand om beter voorbereid te wees. Ons fokus so op visums, vlugte en huisvesting dat niemand jou vertel hoe eensaam dit kan wees of hoe diep jy jou wortels sal mis nie. Ek glo AfriForum Wêreldwyd kan ’n verskil maak – dalk deur aanlyn groepe waar mense mekaar kan ondersteun, raad kan gee oor werk of vriendskappe, en net daardie gevoel gee dat jy nie alleen is nie.

Ek help tans ander Suid-Afrikaanse gesinne wat besig is om te immigreer, want ek weet hoe belangrik ondersteuning is.

Dankie dat julle my storie gelees het. Ek hoop dit gee dalk ’n bietjie inspirasie om ons Suid-Afrikaners in die buiteland nader aan mekaar te bring. Ons soek ’n nuwe begin, maar bowenal soek ons ’n plek waar ons voel ons hoort – en dalk kan ons mekaar help om dit te vind.

Vriendelike groete
Natasha Agenbag

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels