Deur Charné Meiring
Om ma te wees, is nooit maklik nie – maar om ma te wees ver van jou mense af, sonder die bekende hulp van oumas, tannies en vriende, vra ’n ander soort moed. In ’n vreemde land waar jou village nie meer om die hoek is nie, leer jy gou dat ou raad en ou liefde nie altyd binne bereik is nie. Charné Meiring deel eerlik en met ’n tikkie humor haar ervaring as ’n mamma in die buiteland wat haar eie nuwe village moes bou – een wat oor grense, tydsones en kulture strek.
Hulle sê: “It takes a village to raise a child.” Dis waar – Ouma bring poeding, tannie Clarise hou die baba, en iemand bring altyd lasagna.
Maar wat gebeur as jy wegtrek van jou village? Wat gebeur as jou village nou uit ’n paar WhatsApp-groepe en ’n slim bottelmaker bestaan?
Baie ekspat-mammas ken daardie gevoel. Ek is een van hulle. En glo my – dis nie vir sissies nie. Die oumas en tannies sien net die oulike foto’s wat jy haastig tussen doeke en koliek plaas. En wanneer jy kla oor min slaap of ’n huilende baba, kom daar gewoonlik terug: “Ag toggie, man … ja, dis maar erg.”
Dis die digitale weergawe van ’n halfhartige drukkie – sonder die koppie tee.
En daar sit jy dan: alleen, in ’n vreemde land, met ’n klein mensie wat glo jy weet wat jy doen – terwyl jy stilletjies wonder of jy ooit weer gaan slaap, of net weer gaan voel soos … jy.
Ek het gou op “Ouma Google” begin staatmaak vir raad. Sy het antwoorde vir alles – behalwe hoe om trane af te vee of ’n baba aan die slaap te wieg sonder dat jy self huil. En sy’t my beslis nie gewaarsku oor daardie drie-uur-in-die-oggend-stilte nie, wanneer jy besef: jy’s ’n ekspat-mamma sonder jou village.
Die tydsverskil help ook niks. My bekommernisse begin saans om elfuur, en teen die tyd dat iemand in Suid-Afrika my boodskap lees, het ek al ’n hele sirkus agter die rug – huilende baba, koue tee en ’n man wat sy bes probeer om te troos.
Maar toe gebeur iets moois.
My village het begin groei – stadig, maar seker. ’n Paar wonderlike ekspat-mammas met moeë oë en warm harte. Ons het stories gedeel, raad uitgeruil en saam gesoek na daardie legendariese “boudroom” wat glo net in Suid-Afrika bestaan. Ons het gelag oor hoe die plaaslike weergawes soos skuurmiddel ruik, maar darem werk. En voor ek my oë kon uitvee, het ek ’n klomp nuwe maats gehad – elkeen met ’n baba in een arm en ’n koppie koue koffie in die ander.
Later het liewe Tish, my seuntjie se oppasser, deel van my village geword – ’n sagte, geduldige vrou met raad oor alles – van papvlekkies tot peuternukke. En raai wat? Ook ’n ekspat! Sy het my gewys dis nie waar jou village vandaan kom wat saak maak nie – dis dat jy een het.
Vandag weet ek: “It takes a village” beteken nie jou village moet in dieselfde land, tydsone of selfs halfrond wees nie. Party bly in jou WhatsApp-groep, party bring tee (of wyn), party stuur vir jou memes om jou aan die lag te hou op dae wanneer jy net wil huil. En party word sommer familie – sonder dat jy dit beplan het.
Miskien is dit juis die mooi van die ekspat-lewe: jy bou jou village van vooraf. Met mense van oral, almal met hulle eie maniere om liefde te wys. En tussen die chaos, heimwee en humor ontdek jy iets besonders:
Jy’t nie jou village verloor nie.
Jy’t hom net wêreldwyd gemaak.
Elke mamma oorsee weet: dis nie maklik om sonder jou village te wees nie – maar dis ook nie onmoontlik nie. Jy leer dat gemeenskap nie altyd fisies is nie; soms woon dit in boodskappe, glimlagte en gedeelde stories. Charné se verhaal herinner ons dat, al voel jy soms alleen, daar altyd iewers iemand is wat verstaan en dat die mooiste dorpie soms die een is wat jy self bou, een koppie koue koffie op ’n slag.
Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.
Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.
Lees ook: Ons bly vriende, al stuur jy net ’n meme






















