Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Marli Strydom wat in Darmstadt, Duitsland woon.
Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?
My ouers het baie rondgetrek en dus het ek al in vele plekke in Suid-Afrika gebly. Die invloedrykste jare vir my was my hoërskooljare in Oos-Londen, en ek het nog steeds ’n baie sagte plekkie vir die stad. Ek het my studentedae in Stellenbosch deurgebring en tot vandag toe nog kyk ek terug na dié tyd as van die beste tye van my lewe.
Julle woon al vir 19 jaar in die buiteland – eers in Kanada en nou in Duitsland. Vertel ons hoe het jy die emigrasieproses ervaar. Was dit ʼn groot aanpassing?
Die groot aantrekkingskrag van Kanada in daardie stadium was dat dit die land was waar vroue die meeste gelykheid in die lewe ervaar het. As ’n meisie wat ingenieurswese geswot het, het ek maar altyd bietjie soos ’n buitestaander gevoel, omdat my drome nie regtig ooreengestem het met die drome wat ek by ander meisies gehoor het nie. Dit was dus vir my ’n groot avontuur om bietjie te gaan sien hoe dit voel om nie in die minderheid te wees nie.
Die ding van oorsee wees, is dat ’n mens gou leer dat alle mense regoor die wêreld eintlik maar dieselfde is. Mense praat anders en lyk anders, maar almal het maar dieselfde behoeftes en drome. Die vroue in Kanada het wel meer geleenthede gehad as die vroue in Suid-Afrika – maar as ’n mens bietjie dieper krap, wou hulle maar dieselfde dinge hê wat vroue in Suid-Afrika ook wil hê. Dit was ’n goeie les om te leer.
Kanada was op die ou end vir my net te ver gewees van my familie in Suid-Afrika. Veral die tydverskil het dit amper onmoontlik gemaak om kontak te behou met almal in Suid-Afrika. Toe ek die geleentheid gekry het om Duitsland toe te trek, het ek dit met albei hande aangegryp. My drie jaar in Kanada (Vancouver) was meer soos ’n vakansie – dit was eers nadat ek Duitsland toe getrek het dat die hele emigrasieproses en wat dit regtig beteken, begin insink het.
Gelukkig hou ek van tale en was dit vir my wonderlik om Duits te leer – ’n taal wat so baie in gemeen het met my geliefde moedertaal. Om jou land te verlaat is een van die verskriklikste dinge wat mens kan beleef. Ja, dit kom met geweldig baie positiewe dinge, maar die prys is ontsaglik hoog. Die enigste manier hoe ’n mens ’n sukses daarvan kan maak, is as ’n mens jouself so veel moontlik integreer. Leer die taal. Leer die taal. Leer die taal. En raak dan gewoond daaraan dat jy die taal nooit 100% sal baasraak nie! ’n Mens leer dat niemand jou ooit weer regtig sal kan verstaan nie – jy pas nie meer 100% in wanneer jy in Suid-Afrika is nie, maar jy sal ook nooit 100% by jou nuwe land inpas nie. ’n Mens raak egter gewoond daaraan en jy begin om plesier te vind in dinge wat ander Duitsers goed vind, soos om aspersies en ham te eet!
Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan/reis?
Ek is te lank hier om vergelykings te tref met my werk in Suid-Afrika, maar ná Covid lyk my dag veel anders as voor Covid. Ek werk in hierdie stadium van die huis af. Ek en my man het ons dag haarfyn beplan sodat ons die kinders kan optel by die skool en daar genoeg tyd is om te werk. Daar is glad nie so baie tyd om te ontspan nie, want hier is nie iets soos huishulpe of mense wat in jou tuin werk nie. Jy doen alles, en dit vat tyd.
Reis is natuurlik baie makliker en ek het al die wonderlikste geleenthede gehad om plekke soos Israel, Turkye, Spanje en Italië te sien. Dis verskriklik lekker dat ’n mens amper spontaan kan besluit om hierdie interessante plekke te gaan besoek en dit kos glad nie so baie geld nie. Wanneer jy juweliersware sien wat 5 000 jaar oud is, of geboue wat in die tyd voor Christus gebou is… dan bly dit jou by vir die res van jou lewe en jy besef hoe onbenullig ons almal is.
Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Duitsland. Kom julle soms bymekaar?
Die Suid-Afrikaners is redelik versprei en ons kom nie gereeld bymekaar nie. Ek is in die gelukkige posisie dat daar die afgelope paar jare ’n paar Suid-Afrikaners by my firma begin werk het, en van toe af sien ek darem meer Afrikaanssprekende mense – en dit is baie lekker. Dit is asof daar in die afgelope vyf jaar ’n ontploffing van Suid-Afrikaners in Duitsland was, nadat daar vir die eerste 10 jaar nie ’n enkele een naby my gebly het nie.
Was dit moeilik om daar aan te pas of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Dit is altyd moeilik om vriende te maak in ’n nuwe plek, en totdat jy nie iets in gemeen het met ander nie, bly dit moeilik. Ek het gelukkig ’n paar goeie vriende gemaak – alhoewel baie van hulle ook emigrante uit ander lande is. My man is Duits en dit help my om beter in te skakel. Die Duitsers is anders as ons, maar ’n mens moet net ’n bietjie soek, dan vind jy Duitsers wat jou sal waardeer vir wat jy is. Om die taal en kultuur te leer is by verre die beste ding wat jy kan doen.
Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?
Ek sukkel nou nog om te aanvaar hoeveel reëls daar vir alles is. Die aantal kere ’n week wat ’n mens mag braai word byvoorbeeld gereguleer en sekere plante mag net in Februarie gesny word. Ek sal ook nooit vergeet hoe geskok ek was om uit te vind dat ’n mens hier ’n bepaalde aantal ure moet “klas loop” voordat jy aangeneem word by die kerk nie en dat jy dan groot geldbedrae present kry om dit te vier. Die jongmense het daarna uitgewerk hoeveel geld hulle per uur gemaak het, deur aangeneem te word. Dit was vir my uiters vreemd gewees.
Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?
Duitsers is trots daarop dat hulle alles self doen. Hulle maak self skoon, werk self in die tuin, kook elke dag gesonde kos en werk dan nog hard ook. Dit beteken dat ’n mens baie min tyd het vir enigiets anders as net die daaglikse dinge. Sondae is alle winkels toe, so almal hardloop rond soos mal hoenders op ’n Saterdag om alles gedoen te kry. Hulle is baie bewus van klimaatsverandering, wat beteken dat ’n mens met die fiets werk toe ry indien jy kan, of met die trein of met die bus. Ons hoofvervoermiddel is ’n elektriese fiets en dit is die beste ding wat enigiemand nog ooit uitgevind het!
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Die see en rustige kuiertjies by my familie.
Praat jy nog Afrikaans?
O ja! Elke dag van my lewe. My twee Duitse kinders praat redelik vlot Afrikaans en hulle geniet hulle besoeke aan die familie in Suid-Afrika geweldig.
Is dit anders om inkopies te doen in Duitsland in vergelyking met Suid-Afrika?
Haha. Hier is niemand wat jou inkopies inpak nie, en niemand wat geduldig vir jou wag om jou eie inkopies in te pak nie. Elke keer wanneer ek by die kassier kom, is dit asof ek myself moet staal vir die naelloop wat begin … want sodra hulle die eerste item opgelui het, dan is dit ’n resies teen tyd om jou goed weggepak te kry voor hulle dit klaar opgelui het! En alhoewel ek nou al lank oefen, wen hulle elke liewe keer. En dan staar hulle na jou en jy kan die ongeduld in hulle oë voel. Die beste metode is maar om alles net weer terug in die waentjie te gooi en dit dan in rus in vrede in die sakke te gaan pak by jou kar.
Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?
Ongelukkig nie. Ek ondersteun wel ’n dame in Holland wat baie lekker beskuit bak en waarskynlik ’n groot gedeelte van Europa voorsien van mueslibeskuit.
Watter interessanthede het jy ontdek van Duitsland, wat jy nie vantevore geweet het nie?
Dit was verrassend dat winkels toe is op ’n Sondag in ’n industriële land soos Duitsland. Dit was ook vir my wonderlik om uit te vind dat mens hier ’n jaar ouerskapverlof kan neem ná die geboorte van jou kind, en dat die regering jou betaal om by die huis te bly om jou eie kind op te pas. Die Duitsers het ’n snaakse liefde vir homeopatie wat ek nog nêrens anders gesien het nie, en hulle is bang vir oop vensters, want hulle glo dat ’n trekkie deur die huis jou siek gaan maak.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Ek sou enigiemand wat dit oorweeg om sy geboorteland te verlaat aanraai om baie navorsing te doen voor jy die besluit maak. Dink mooi aan wat jy dink jy gaan kry in jou nuwe land – emigrasie is sekerlik een van die moeilikste projekte wat jy ooit sal aanpak. Die prys is hoog. Maar as jy besluit om dit te doen, doen dit heelhartig.
LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.