Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Tanja du Plessis wat in Nenagh, Ierland woon.
Waar woon jy?
Ons bly al byna vyf jaar in Ierland aan die buitewyke van ’n dorpie met ’n bevolking van so ongeveer tienduisend mense. Dis ’n plaasgemeenskap wat hoofsaaklik melkerye bedryf. Die dorp se naam is Nenagh, uitgespreek as “Nina”.
Wat was die grootste aanpassing?
Die kontras tussen winter en somer. Die feit dat die somer bitter kort is en 28 grade as ’n hittegolf bestempel word. Vir iemand wat in Pietersburg gebore is, toe op Musina en daarna 20 jaar in Noord-Natal gewoon het is dit amper ’n belaglike gedagte. Dit bly lig buite tot 23:00 die aand en die son kom weer vroeg op. Die wintermaande, wat baie langer is, is koud en nat met slegs ses ure lig per dag. Dit het my slaappatroon totaal en al omver gegooi, selfs met die blindings voor die vensters. Probeer jy vir ’n 3- en 5-jarige verduidelik dis nou aand en slaaptyd as die son doer bo sit. Daar was slegs twee keer donderweer gewees wat slegs ’n ligte dreuning was. In die vyf jaar hier het ek geen weerlig gesien nie.
Die Ierse mense praat vinnig en so uit die hoek van hulle monde uit, so dit is baie moeilik om hulle te verstaan aan die begin.
Die paaie is baie nou sodra jy van die hoofweë afklim. Dit vleg in elke rigting met ’n verrassing om elke draai, soos koeie wat stap oor die pad.
Wat doen jy as jy verlang na die huis en sy mense?
Ek bedink die redes waarom ons die skuif gemaak het en sukkel om myself te oortuig dat dit steeds die moeite werd is. Ek het dit veral moeilik gevind gedurende die pandemie. Daar is iets spesiaal daaraan om tussen jou eie mense te wees. ’n Mens aanvaar dit as vanselfsprekend en onderskat die waarde daarvan heeltemal. Net dít skenk ’n gevoel van veiligheid en aanvaarding wat ek nie in Ierland ervaar nie. Dis net die wete dat daar mense is wat dieselfde verwysingsraamwerk as jyself het. Die bekendheid van om iewers te behoort kan nie met geld gekoop word nie.
En as ek klaar is daarmee dan sit ek Afrikaanse musiek aan en sing en dans saam met my twee seuntjies. Die lewe is makliker hier maar die verlange gaan nie weg nie. Die leemte word groter vir my.
Wat doen jy vir ontspanning?
Ek geniet dit om saam met die kinders in die woud te gaan fietsry of om op die plaas te gaan stap.
Het jy enige raad vir enigiemand wat wil emigreer?
Doen genoeg navorsing vooraf. As geloof vir jou belangrik is, wees bewus daarvan dat dit oorheersend Rooms-Katoliek is hier.
Daar is regtig ’n tekort aan behuising, dis ’n groot probleem en natuurlik beïnvloed dit die prys van eiendom geweldig, vir beide huur en koop.
As jy sterk voel oor jou taal, kultuur, sonskyn en gemeenskap, moet eerder nie emigreer nie. Dit vreet ’n mens lewendig op. Ek het ’n nuwe waardering vir als wat Suid-Afrika bied, ten spyte van die negatiewe realiteite. Ek is selfs opgewonde oor die toekoms. Maak seker oor wie jy is en wat jy bereid is om op te gee, want dit is ’n duur prys om te betaal, in my opinie.
Wat is jou gunstelingwoord in Afrikaans?
Ek gaan eerder ’n gesegde gee wat my so lekker laat glimlag. Soms as my seuntjies met hulle Ierse maatjies speel dan hoor ek “Mis-mis-paddavis!” ’n Juffrou by die skool het my eenkeer gebel om uit te vind wat dit beteken want sy was bekommerd.
Wat is jou gunstelingding om te doen om jou nuwe land?
Ons is mal daaroor om die land te verken. Die landoppervlakte van Ierland is byna so groot soos KwaZulu-Natal! Dis maar klein en mense is altyd geskok as hulle daardie perspektief kry. As gevolg daarvan kan mens heelwat van die land sien in vyf jaar. Die Iere is soort van teleurgesteld as ’n mens vir hulle sê hul land is so groot soos een van Suid-Afrika se provinsies!
Is daar ’n Suid-Afrikaanse winkel naby jou, en indien wel, wat is die winkel se naam?
Protea Café naby Limerick braai worsrolle op Saterdae in die somermaande. Hulle verkoop boerewors, droëwors en biltong onder andere.
Wat sal jy in ’n pakkie wil hê: biltong of melktert?
Lekker vet biltong.
Watter interessanthede het jy ontdek van Ierland, wat jy nie vantevore geweet het nie?
Daar is ’n Boereoorlogmonument in Dublin.
Die GAA (Gaelic Athletic Association) -klub in ons area was eers De Wets genoem, vernoem na die Boereheld. Dis nou Lahorna. Mense van die omgewing het my vinnig ingelig oor die brokkie inligting.
Parallelle kan tot ’n mate getrek word tussen die Boere en die Iere en die verhouding met Engeland. Die gevoel is amper dieselfde.
Ierse hokkie (Engels: hurling) is groter as rugby in Ierland. Dis hulle nasionale sport. Aan die begin het ek gedink dis vreemd, die klomp wat met sulke reuse “paplepels” of dan “hurleys” rondhardloop en ’n balletjie rondslaan. Dis amper asof daar geen reëls is nie. Dis ’n baie rowwe en vinnige spel. Daar is telkens bloed betrokke. As jy hurling speel of ondersteun, of saam met hulle opgewonde raak daaroor, dan word jy aanvaar in die gemeenskap.
LEES OOK: ’n e-pos uit Al Ain
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook ’n Uit en tuis-rubriek vir ons skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.