Alhoewel haar lewe nie altyd maklik was nie, het Kendylle Mulder gekies om die beste daarvan te maak. Kendylle het gedurende haar matriekjaar elke middag na skool as kelnerin gewerk om finansieel tot die huishouding by te dra en sy kon uiteindelik haar matriekafskeid bywoon en self vir haar matriekafskeidrok betaal.
Gedurende Kendylle se matriekjaar is haar ma met borskanker gediagnoseer en alhoewel haar ma vandag in remissie is, is haar ma steeds nie gesond genoeg om permanent in diens geneem te word nie. Dit was egter nie die einde van haar struikelblokke nie. Kendylle het kort na matriek haar pa verloor en haar ma het finansieel afhanklik geraak van haar.
Kendylle het direk na matriek betaalstaatkursusse (“payroll courses”) gedoen wat haar gehelp het om in ʼn betaalstaat-omgewing werksaam te wees. Dit is hier waar sy haar passie vir rekeningkunde ontdek het en besluit het dat sy haarself met ʼn BCom-graad in Rekeningkunde wil onderskei sodat sy haar droom om as rekenmeester te werk, kan verwesenlik.
Sy het daarna ʼn Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde aan Akademia verwerf terwyl sy voltyds as ʼn betaalstaatadministrateur by MBB Consulting gewerk het en nauurs by ʼn ander rekenmeestersfirma in Kaapstad, terwyl sy laataand tyd vir haar studies ingeruim het.
Kendylle se paaie het in 2020 met die Helpende Hand Studietrust (HHST) gekruis toe sy aansoek gedoen vir ʼn rentevrye studielening om haar BCom Bestuursrekeningkunde-studie aan Akademia te befonds.
Klik hier om haar te help.