Waarop is jy die trotsste?

21/09/2020
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Kultuur-1

Suid-Afrikaners – en natuurlik Afrikaners – het baie om op trots te wees. Sommige van ons is trots op ons tradisionele disse soos koeksisters, melktert en pannekoek. Het jy geweet dat die eerste pannekoeke op warm klippe gebak is? En soos melktert is meeste van ons disse natuurlik van Europese afkoms. Koeksisters kan waarskynlik teruggetrek word na die Nederlandse oliekoek en melktert dateer uit die Middeleeue! (Die Geskiedenis van Boerekos, 1652 – 1806 deur Hester Wilhelmina Claassens, PhD Studie – Universiteit van Pretoria 2003. Koeskister bladsy 354 – 356 en melktert bladsy 361.)

Vir ander is dit sommer net om trots te wees op die mooi van die Afrikaanse taal – of dit nou in ’n gedig, lied of goeie boek is. Van Klipwerf tot Karen Zoid; Irma Joubert tot Deon Meyer; of Langenhoven tot Ingrid Jonker. Ons kan ook nostalgies wees oor alles Afrikaans: Onthou jy Fiela se kind en Kringe in ’n bos? Agter elke man en Die Swart Kat? Wat van Dawie die Kabouter of Walter die Wasbeer? Elke generasie het sy eie nostalgie.

As ons van nostalgie praat, kan ons beslis nie Afrikaners se goeie humorsin uitlaat nie: Spies en Plessie met permissie en Tolla van der Merwe gee mens omtrent heimwee. Afrikaners se trots is egter nie net tot die die kunste en kos beperk nie, maar sluit ook familie in. Groot Kersetes met die hele familie is deel van die kultuur: gasvryheid wat vir niks skrik nie!

Wat kan jy op Erfenisdag doen om te wys hoe trots jy is, of sommer net wanneer jy oorweldig word met die mooi van jou eie kultuur? Hier is ’n paar idees:

Praat suiwer Afrikaans

Trek die woordeboek nader en leer vir die volgende tien dae elke dag ’n nuwe Afrikaanse woord! Dit is ook ’n lekker speletjie saam jou kinders en ’n beproefde wyse om jou algemene kennis te verbreed!

Dra ’n Afrikaanse T-hemp

Dra jou identiteit op jou mou en stoot jou bors trots uit met ’n Afrikaanse T-hemp wat jou liefde vir jou taal wys. Wêreldwyd dra kultuurgroepe gereeld tradisionele drag, maar as jy nie so ver wil gaan nie, kan jy bloot ’n T-hemp dra wat wys dat jy Afrikaans is.

Hou ’n Afrikaanse fliekaand

Familietyd, springmielies en ’n gehalte- Afrikaanse film – dit wys jou kinders dat Afrikaans deel is van die gesin en leer hulle die gewoonte om goeie Afrikaanse kunste te geniet.

Dra tradisionele drag!

As jy reeds ’n Afrikaanse T-hemp in jou kas het, kan jy altyd ’n uitrusting aanpas wat jy op Erfenisdag kan dra. Dalk is daar ’n funksie by jou werk waar almal tradisionele drag moet aantrek; of dalk beplan jy om op Erfenisdag Voortrekkermonument toe te gaan? Dames, skaf vir jou ’n wye rok, voorskoot en ’n kappie aan! Of vir die mans: ’n bruin broek, kruisbande, vellies en tabaksak aan jou sy.

Bak ’n familieresep

As jy huis toe verlang of elders in die wêreld is, is dit altyd lekker om ’n ou kookboek uit te haal en ’n gunstelingfamilieresep op die proef te stel.

Leer jou kinders van die geskiedenis

Die grootste bydrae wat jy kan maak as jy iets vir jou taal en kultuur wil doen, is om moeite doen om geskiedenisverhale te ken en aan jou kinders oor te vertel. ’n Goeie begin is iets soos Die Groot Heldeboek. Kweek by hulle ’n liefde vir hul geskiedenis en versamel bronne wat die geskiedenis akkuraat saamvat. Die geskiedenis van Afrikaners is vol helde en heldinne, groot uitdagings wat oorkom is en bemoedigende stories.

Besoek Orania

As die jy geleentheid op pad see toe het, maak gerus ’n draai in Orania en gaan op ’n dorpstoer! Dit is ’n belewenis om te sien hoe Afrikaners ’n suksesvolle dorp kon oprig wat nie net groen, veilig en gasvry is nie, maar ook reg langs die pragtige Oranje-rivier pronk.

Raak betrokke

As mens oorloop van trots kan jy nie anders as om dit ook te beskerm en uitbou nie. As jy in die buiteland is, kan jy by Suid-Afrikaanse netwerke betrokke raak – en natuurlik by Wêreldwyd. Jy kan by AfriForum aansluit, Maroela Media lees en deel word van die Solidariteit Beweging. Luister Pretoria FM oor die internet en teken in op nuusbriewe sodat jy op hoogte van alles Afrikaans bly!

Kultuur en taal is iets wat mense oor landsgrense heen saambind. Dit is ’n gedeelde stel waardes wat sê “Dit is wie ek is”. Identiteit, soos ’n taal, is iets wat jy kies deur dit op te neem en jou eie maak. Wees jouself; wees Afrikaans; wees ’n Afrikaner!

Deel op

Nuutste artikels