Op 10 Oktober herdenk ons jaarliks die geboorte van oud-pres. Paul Kruger (1825-1904), maar sy begrafnis word selde in herinnering geroep. Tog was dit ’n besonder interessante gebeurtenis.
Kruger is vroegoggend op 14 Julie 1904 in Switserland oorlede. Voor sy bed het sy Bybel oopgelê. Die Britse regering het toestemming verleen dat hy in sy vaderland ter ruste gelê kon word. ’n Reëlingskomitee is aangewys om die plegtigheid te organiseer en omdat hulle gevoel het dat die begrafnis op ’n dag met besondere betekenis moes plaasvind, is op 16 Desember van dieselfde jaar besluit.
Kruger se lyk is gebalsem en in ’n driedubbele kis geplaas. Die eerste kis was van sederhout, die tweede van lood en die derde van eikehout. Dit sou via Nederland per stoomskip (die SS Batavier IV) na Suider-Afrika teruggebring word. Onderweg het reuse skares in onder meer Den Haag by die roustoet aangesluit. Op 31 Oktober 1904 het die skip Rotterdam se hawe verlaat. Aan boord is ’n salon spesiaal ingerig waar Kruger in staatsie kon lê.
Op 30 November het die skip in Kaapstad aangekom. Vriend en vyand is diep daardeur geroer dat die oud-president eers ná sy dood na sy geliefde vaderland teruggekeer het. In die stad het vlae halfstok gehang en weer is die stoet deur die stad deur reuse skares begroet. Die kis is in ’n Vierkleur gedrapeer. In die sinodesaal van die Hugenote-gedenkgebou in Victoriastraat, Kaapstad, het Kruger se oorskot van 30 November tot 6 Desember in staatsie gelê en kon roubeklaers daarby aandoen. Na ’n roudiens in die Groote Kerk, het die kis op 7 Desember per trein na die Transvaal vertrek.
Onderweg na Pretoria is die trein oral deur skares treurendes en nuuskieriges ingewag. Om 09:00 op 10 Desember met die trein se aankoms in Germiston, het die wesies van die Langlaagte-kinderhuis op die stasie hulle eer aan die oud-president kom betoon. Ds. Abraham Kriel (1850-1928) het leiding met die verrigtinge geneem. Daarna het die trein vertrek en om 11:00 uiteindelik Pretoria bereik.
Mense het van heinde en verre na die stad gereis om die begrafnis te kom bywoon. Pretoria het letterlik uit sy nate gebars. Hotelle en losieshuise was stampvol en mense het oral uitgekamp. Om die geleentheid te herdenk, het die koerant De Volksstem selfs ’n spesiale gedenkmunt beskikbaar gestel.
Ten einde ’n geleentheid te skep waar mense formeel afskeid van hulle leier kon neem, is gereël dat sy stoflike oorskot in die Suzannasaal in Vermeulenstraat in staatsie lê. Reuse hope kranse en ander soorte eerbetoon het daar opgestapel. Meer as 1 300 skoolkinders het onder andere tydens skoolure daar aan hom hulde gaan bring. Op 15 Desember is ’n kort diens selfs vir die leerlinge gehou. Kore het ook daar opgetree.
Die Britte het gevrees dat die begrafnis politieke onrus sou veroorsaak, maar op die ou einde was die grootste ontwrigting aan die natuur te danke. Die nag van 15 Desember het ’n rukwind naamlik ’n gedeelte van die dak van die kerk in Bosmanstraat afgewaai. Die kampeerders het dus seker ook ’n onrustige nag beleef.
Só breek 16 Desember 1904 aan met kerkklokke wat om 06:00 deur die stad begin lui het. Die weer het bedaar, maar gemoedere was somber. Tussen vyftien- en twintigduisend mense het in die stad saamgekom. Onder hulle was daar onder andere sowat vyftig predikante. ’n Buitelugdiens is vanaf 10:00 op die oop terrein langs die Gereformeerde Kerk oorkant Kruger se huis gehou. Staanplek is vir die toeskouers in Kerkstraat-Wes voorberei. In die gees van die tyd is afsonderlike ruimtes vir mans en dames met ysterheinings afgeskort.
Om 15:30 het die verrigtinge op Kerkplein ’n aanvang geneem. Die begrafnisdiens is deur ds. Petrus Postma (1854-1919), predikant van die Gereformeerde Kerk, gehou. Postma is tydens die Anglo-Boereoorlog na Ceylon verban waar hy as vir die Boerekrygsgevangenes opgetree het. Verder was daar ook geleentheid vir di. Hermanus Bosman (1848-1933) en Charles du Toit (1842-1932) van die Nederduitse Gereformeerde- en die Nederduitsch Hervormde Kerk om elk ’n rede te hou. In die plek van die Transvaalse volkslied is Frédéric Chopin se dodemars gespeel. Verder het Schalk Burger (1852-1918), wat na Kruger se vertrek na Europa as president van die Transvaal gedien het, asook genls. Christiaan de Wet (1854-1922) en Louis Botha (1862-1919) toesprake gehou. Dit was nie alleen redes van medelye aan Kruger se naasbestaandes nie, maar ook uitings van patriotisme. Daar is nie net oor Kruger getreur nie, maar oor die Boererepublieke se verlies aan vryheid. Tog was daar vele Engelssprekendes en anderstaliges onder die roubeklaers, want Kruger het vriende in alle gemeenskappe gehad. Die koerant, Pretoria News, het hierdie gemeenskappe se gesamentlike afskeid van die staatsman beskou as die begin van ’n nuwe era.
Vanaf Kerkplein het die stoet weswaarts met Kerkstraat na die Heldeakker beweeg, waar Kruger langs sy vrou, Gezina (1831-1901), ter ruste gelê is. Hy was eindelik tuis.
Meer as ’n eeu na sy dood is Paul Kruger steeds ’n kragtige simbool van die stryd teen Britse Imperialisme en die strewe na vryheid. A.G. Visser se gedig “10 Oktober”, verwoord dit treffend in die welluidende Afrikaans van lank gelede:
Hul kon jou tog nie tem nie ‒
Ou Afrikaanse leeu,
Al sterf jy ook ‘n balling!
Na onreg van ‘n eeu!
Al moes jou gryse hare
Met smart ten grave daal,
Jou gees die leef nog hede,
Jou stof rus in Transvaal!
Die vryheidsgees sterf nimmer
In die Afrikaner-ras ‒
Hy rys weer soos die feniks
Verheerlik uit sy as!
Die grootste ryk verbrokkel,
Geen troon bly altyd staan ‒
Die sterkste leërs snewe;
Ons volk sal nie vergaan,
Solank hy vasberade
Eendragtig en getrou,
Soos sy grote Voorman
Sy eie siel behou ‒
“Bewaar,” roep hy, “u sede,
“U Godsdiens en u taal,
“En skep uit u verlede
“U toekoms-ideaal.”
[A.G. Visser, Gedigte, J.L. van Schaik Bpk., Pretoria, 1946, bladsy 172.]