Mamma Mia, son en see

19/07/2017
| Deur Pieter de Lange
Pieter-de-lange-1024x683

“Ek wil tog nie in die wind en reën trou nie,” het my dogter René ons destyds laat verstaan. Dis vir ons Suid-Afrikaners wat in die VK bly nogal ’n dilemma wanneer ons kinders wil trou, want hoewel ons families en harte in Suid Afrika is, is ons kinders se vriende, kennisse en toekomstige skoonfamilies hier op die Moddereiland. Toe René en Martin verloof raak, het hulle besluit op Sani, ’n lieflike oord in Halkidiki, ’n skiereilandgebied in noordelike Griekeland. Hulle het ’n verkenningsvakansie gehad en die Sweedse trouebeplanner Anna daar ontmoet. Die uiteinde was ’n klein, intieme troue langs ’n knoets van ’n olyfboom met die manjifieke blou Middellandse see in die agtergrond en die massiewe berg Olimpus in die verte. Die meeste mense het darem vir ’n week of wat langer gebly en mens het meer tyd gehad om die ander gaste te leer ken.

Drie jaar later was dit weer ’n Griekse bestemming vir Simon, ons jongste, en Lucie se troue: dié keer die Mamma Mia-eiland, Skiathos. Hulle het ook na ’n trouskou (wedding fair) gegaan en ’n wye reeks trouplekke dwarsoor Europa het vir hulle gewink, maar Skiathos het hulle dadelik beïndruk. In die onlangse geskiedenis is die fliek Mamma Mia – gebaseer op ’n suksesvolle West End-toneelstuk – daar verfilm met Meryl Streep en Pierce Brosnan in die hoofrolle. Met al dié media-aandag het die hoeveelheid toeriste drasties toegeneem en die deesdae is daar altyd een of ander superseiljag in die hawe op anker. Soos destyds met René en Martin se troue het die meeste gaste die geleentheid benut om minstens ’n week lank vakansie te hou. En die pragtige eiland het inderdaad baie om te bied: 60 strande, talle hotelle, tavernes, restaurante en buitedrinkplekke soos net die Suid-Europeërs dit kan doen. Die meeste strande is op die busroete en dis ’n plesier om die netjiese, betroubare en bekostigbare busdiens te benut. In die winter, wanneer dit verstommend genoeg op dié eiland kan sneeu, daal die inwonertal na omtrent 4 000, terwyl dit in die somer met al die besoekers en seisoenwerkers maklik na 70 000 kan toeneem.

Die eiland beslaan maar sowat 46 km2. Dit was omstreeks 700 vC toe die eerste inwoners – baie beïndruk met die hoeveelheid bome op die eiland – dit Skiathos (skia is skaduwee in Grieks) genoem het. Die geskiedenis word weerspieël in die talle kloosters en die kasteel Bourzi wat in die 13de eeu deur die Venesiërs gebou is om die toegang na die hoofhawe te beheer. Die kerke en kloosters getuig van ’n kosbare Christelike geskiedenis wat in die jaar 531 met die bou van die eerste kerk begin het. Ons het Evangelistria besoek, ’n dinamiese, werkende kerk en klooster waar mens ’n wye reeks produkte kan koop wat deur die monnike vervaardig word. Hulle kweek hul eie vrugte en groente en maak hul eie wyn. Wanneer mens in die stiller boomryke straatjies van die eiland gaan stap, weg van al die blink plekke af, is dit opmerklik hoe baie mense groot groentetuine en baie vrugtebome het. Daar is klaarblyklik nie ’n tekort aan water nie en die plaaslike vrugte is heerlik.

As jy meer avontuurlik is, kan jy ’n Jeep of ’n buggy huur en die meer afgeleë strandjies en restaurante besoek via die talle grondpaaie wat dié bergagtige eiland deurkruis. (Simon en sy goeie vriend Matt het op die vooraand van sy huwelik met ’n kwadfiets juis een van die bergpaadjies aangedurf, die pad byster geraak en in die digte bosse langs die afgrond beland. ’n Paar voertuie was ingespan om die kwad weer uit te sleep. Dit kon ’n tragedie gewees het as dit nie so ruig was nie.) Die seremonie self het in die hotel se binneplein begin en die eerste halfuur of so het ons in die Griekse son gebak terwyl die voorlesings gelewer is. Die wettige deel van die seremonie is later deur ’n staatsamptenaar gehanteer. Die ete was heerlik en die feesvieringe het tot baie laat aangehou. Weereens het die skilderagtige Middellandse See in die verte, die lang somersaande en die welige plantegroei die ideale feesmilieu gevorm. Die kerklike seëning gaan in die Mint-familie se tuiskerk in Engeland plaasvind.

Ongelukkig kon nie baie van ons familie of vriende uit Suid-Afrika die troue bywoon nie; hulle kans sal egter kom wanneer ons ander seun Christiaan en sy aanstaande Harriet volgende jaar in Kaapstad trou.

Deel op

Nuutste artikels