Geskiedenisbrokkie: Die onverskrokke Helena Herbst Wagner
Deur Madelein van der Walt
Die geskiedenis is vol kleurryke figure waarvan ’n mens nie altyd weet nie, omdat hulle dade deur die jare in die vergetelheid versink het. Die Amerikaner Mary Anne Patten het byvoorbeeld op negentien jaar, terwyl sy agt maande swanger was, die eerste vrou geword wat kaptein van ’n klipper (seilskip) was, terwyl sy in die proses ’n muitery suksesvol teengestaan het en die vrag veilig aan land besorg het.
Dan was daar die gedekoreerde Britse soldaat, Mad Jack Churchill (nie familie van Winston Churchill nie) – ’n onverskrokke vegter wat in die Tweede Wêreldoorlog die vyand met ’n swaard, pyle en boog aangevat en oorwin het.
In ons eie land ontbreek die voorbeelde van sulke dapper en eksentrieke mense nie, soos Madelein van der Walt bewys met haar vertelling oor Helena Herbst Wagner.
Aan die einde van die negentiende eeu, was die posisie van vroue nie soos sake vandag daar uitsien nie. Hulle is dikwels in ’n minderwaardige rol geplaas, met mans wat al die belangrikste besluite geneem het – nie net in die samelewing nie, maar ook binne die huis. In die patriargale struktuur was vrouens se vernaamste rol in die gemeenskap gesien as moederskap en daar is gewoonlik van hulle verwag om kinders groot te maak en die huis te versorg.
Tog was daar vroue wat teen hierdie norme in opstand gekom het.
Ek wil julle graag die inspirerende verhaal van Helena Herbst Wagner van Zeerust vertel. Dit is ’n verhaal wat deur die jare vergete is. Die twee berigte wat ek oor haar kon opspoor, het in die Daily Express van Donderdag 17 April 1902 en die Mail and Guardian van Augustus 1998 verskyn. Ek kon ongelukkig nie meer artikels oor haar vind nie.
Helena se man was ’n polisiekonstabel wat op 25-jarige ouderdom opgeroep is om aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deel te neem.
In sy afwesigheid het Helena ’n karige bestaan gevoer. Die winter het haar hard getref en haar enigste kind is helaas oorlede weens wanvoeding. Eensaam en honger het sy ’n brief aan haar man geskryf. Sy was vasberade om hom ook te gaan help in die oorlog.
Wagner het egter teruggeskryf dat hy haar persoonlik sou doodskiet as hy haar naby die gevegsfront sou vind.
Alhoewel haar man haar gewaarsku het oor dié gevaar, het sy hardnekkig besluit om haar deelname aan die oorlog deur te voer. Sy het haar hare kort geknip en haar man se klere verstel sodat dit haar pas.
As ’n soldaat het sy volgens haar latere vertellings met die mans ’n tent gedeel. As hulle vir haar ’n pyp aangegee het, moes sy rook, en as die mans gesnuif het, moes sy ook snuif.
Sy het drie maande lank vermom as ’n man saam die ander mans geveg, onder meer by Spioenkop en Pontdrift.
Dit is eers toe sy verneem het dat haar broer gewond is, wat sy aansoek gedoen het om verlof om na Johannesburg te gaan om na hom om te sien.
Later het sy teruggekeer na Zeerust, waar sy ’n pos by die plaaslike telegramkantoor beklee het.
Daar is baie min inligting oor haar lewe na die oorlog. Het sy haar man gevind en het sy later dalk weer kinders gehad?
Een ding weet ek verseker, naamlik dat ons selfs in Zeerust ongelooflike vrouens in die geskiedenis gehad het wat ’n groot impak gemaak het.
Hierdie vrou het nie net haar liggaam en gees op die spel geplaas nie, maar ook grense oorgesteek om ’n verskil te maak.
Laat dit ’n herinnering wees aan elke vrou in Zeerust en elders dat ons ook daardie moed en krag in ons dra.
Madelein wil spesiaal dankie sê aan Marius en Chané Kruger, wat haar bewus gemaak het van dié fenomenale vrou uit Zeerust se plaaslike geskiedenis. As iemand dalk enige verdere inligting oor Helena het, sal Madelein dit baie waardeer as jy dit met ons kan deel. Dit sal wonderlik wees om meer oor haar lewe en bydrae uit te vind.
Bron: https://mg.co.za/article/1998-08-07-the-boervrouens-battle/
Madelein is een van AfriForum se Zeerust-tak se entoesiastiese lede wat Zeerust en omgewing se erfenisskatte help bewaar. AfriForum se hoofkantoor en takke is deurentyd betrokke by erfenisprojekte en help so om die toekoms van ons verlede te verseker. Ondersteun AfriForum met hierdie groot taak – sluit aan as lid as jy nog nie een is nie.
Foto: Links: Mnr. Wagner. Regs: Mev. Berrett (anders bekend as Helena Herbst Wagner)/ Bron: www.repository.up.ac.za
Deel op
Nuutste artikels