Maak seker van vangnette voor jy emigreer

24/04/2025
| Deur Alana Bailey
Maak seker van vangnette voor jy emigreer

Namate emigrasie uit Suid-Afrika toeneem, neem die aantal gevalle waar emigrante in die buiteland in noodsituasies beland, ongelukkig ook.

Die slegste voorbeeld in die verband was toe die pandemie-inperkings in 2020 en 2021 geheers het. Skielik is mense se werkspermitte opgeskort, hulle het hulle inkomste en dikwels ook blyplekke verloor, en terugvlugte of ander vervoer na Suid-Afrika was nie geredelik beskikbaar nie. Die owerhede van die meeste lande het toe probeer saamspan om almal se burgers te repatrieer, maar steeds het mense baie spanning, onsekerheid en ongerief ervaar, asook finansiële verliese gely.

Dit was uitsonderlike omstandighede en na afloop van die pandemietyd het sake na “normaal” teruggekeer.

Nou raak mense soos tevore weer gestrand buite die landsgrense as gevolg van:

  • Slenters waarmee hulle gevang word deur mense wat sogenaamd vir hulle werksgeleenthede en -permitte, of studiegeleenthede en -permitte aanbied, wat nie werklik bestaan nie;
  • ’n Sameloop van omstandighede waardeur die geleenthede wat aangebied is, skielik wegval;
  • Gesondheidskrisisse wat opduik en waar die gasheerland nie die koste van die mediese sorg kan dek nie;
  • Egskeidings of verhoudings wat skeefloop;
  • Die dood van ’n lewensmaat en/of broodwinner;
  • Nood tuis, soos wanneer ’n ouer of kind in Suid-Afrika skielik sorg benodig;
  • Wetsoortredings, soos dwelmsmokkelary (wetend of onwetend), motorongelukke, die versuim om verblyfpermitte betyds te hernu, ensovoorts;
  • Gyselaarsituasies, wanneer hulle deur misdadigers of terroriste-organisasies vir lospryse aangehou word;
  • Oorlogsituasies en natuurrampe.

Ongeag of die persoon of persone wat gestrand geraak het, skuldig of onskuldig in die penarie beland het, is daar weinig hulpbronne waarop hulle tuis kan staatmaak. Hulle bly emosioneel en finansieel aanspreeklik vir die situasie.

Sommige mense het die geleentheid en vermoë om vooruit vir sulke noodgevalle te beplan. Hulle het die nodige reis-, mediese of ander versekering en wanneer ’n krisis opduik, kan hulle die nodige hulp in die land waar hulle hulle bevind bekostig tot hulle hulleself kan repatrieer. Ander se familie of vriende kan help. Ongelukkig is daar egter ook vele gevalle waar die geliefdes hulleself in enorme bedrae skuld moet dompel om hulle mense veilig tuis te kry, of waar hulle glad nie kan help nie.

Die staat se verantwoordelikheid teenoor mense in sulke noodgevalle, is beperk. Soms sal hulle aangehoudenes of siekes besoek en advies aanbied, maar selfs dit is nie altyd moontlik nie. Die staat kan nie hulp aanbied met uitgawes in die gasheerland of repatriasiekoste soos vlugkaartjies of ander vervoer nie. Dit geld nie net vir Suid-Afrikaanse owerhede nie, maar vir die meeste lande ter wêreld.

Instellings soos AfriForum is ook nie in staat om hierdie kostes te dra nie. Mense wat probleme ervaar, vergeet soms dat elke land sy eie wette het en al beskik AfriForum byvoorbeeld oor ’n paneel kenners van Suid-Afrikaanse wetgewing, is hierdie mense nie kundig wat die wetgewing van ander lande aanbetref nie. Om iemand wat om watter rede ook al buite die grense gestrand is, met regshulp by te staan, sal deskundiges in daardie land wat daardie stelsels ken, gebruik moet word, wat letterlik van honderdduisende tot miljoene rande mag kos. AfriForum se fokus is hulp aan ons mense in die land en dus is ons nie gemagtig om uitgawes van sodanige omvang buite die grense aan te gaan nie. Dit geld ook vir redding uit rampsituasies en hulp met mediese noodgevalle.

Dikwels het insidente van dié aard tragiese gevolge. Dit is bitter moeilik om vir ’n huilende familielid of vriend te verduidelik dat daar geen instelling is wat fondse vir iemand se repatriasie beskikbaar maak nie. Selfs kommersiële banke sal sekuriteit vereis voordat lenings toegestaan word. Ons harte breek vir die situasies wat soms onder ons aandag gebring word.

Om hierdie rede waarsku AfriForum Wêreldwyd deurgaans dat voornemende emigrante ’n deeglik ingeligte besluit moet neem en nie sommer op die ingewing van die oomblik moet probeer emigreer nie. Hulle moet versigtig wees vir slenters, weet watter arbeidswetgewing hulle in die bestemmingsland gaan beskerm, seker wees van versekering soos vir mediese sorg, al hulle visum- of verblyfpermitte se voorwaardes nakom, gevaarlike of onstabiele bestemmingslande vermy en testamente maak sodat daar sekerheid is oor wat met minderjarige gesinslede sal gebeur as die meerderjariges onverwags wegval.

Soos enige ander verhuising, is hierdie sorg die verantwoordelikheid van die persoon wat besluit om die land te verlaat – met die belangrike uitsondering dat enige onverwagse terugslae in die buiteland baie gevaarliker en duurder gevolge sal hê, as wanneer jou plaaslike verhuising nie soos beplan uitwerk nie.

Nege dinge wat jy in gedagte moet hou voordat jy emigreer:

  1. Bou aan ’n noodbegroting: Maak seker jy het ten minste drie tot ses maande se lewenskoste opsy gesit voordat jy die sprong neem. Noodfondse maak die verskil tussen krisisbestuur en doelgerigte besluitneming.
  2. Hou jou Suid-Afrikaanse bankrekening oop: Toegang tot jou geld in twee lande kan jou uithelp as jy in ’n noodsituasie beland. Oorweeg ook internasionale bankdienste wat vinnige oordragte en buitelandse toegang vergemaklik.
  3. Bêre digitale kopieë van belangrike dokumente: Paspoort, visum, mediese inligting, versekering – al hierdie dokumente moet veilig aanlyn beskikbaar wees, sodat jy dit altyd kan bereik, selfs in ’n noodsituasie.
  4. Sluit aan by gemeenskapsnetwerke: Soek ander Suid-Afrikaners of betroubare diaspora-gemeenskappe in jou nuwe omgewing. In moeilike tye is dit dikwels hierdie mense wat eerste inspring om te help.
  5. Berei jou geestelik voor: Emigrasie is nie net ’n logistieke skuif nie – dit raak jou emosioneel. Isolasie, kultuurskok en verlange is werklikheid en moet nie onderskat word nie. Maak seker jy weet waar om hulp te kry, ook aanlyn.
  6. Dink vooruit oor jou kinders se beskerming: Doen die nodige navorsing oor die oor skole, kinderregte in die nuwe land, veral in geval van verlies aan ouers. Wat gebeur met jou kinders as iets met jou gebeur? Dis ’n moeilike vraag – maar ’n noodsaaklike een.
  7. Wees versigtig met wat jy deel op sosiale media: Moenie jou planne, ligging of persoonlike besonderhede onnodig deel nie. Jy wil nie ’n teiken word vir swendelary of ander risiko’s nie.
  8. Maak testamente wat in beide lande geld: As jy bates in meer as een land het, moet jou testament duidelik en wettig wees in beide jurisdiksies. Dit beskerm jou gesin in geval van ’n onverwagte verlies.
  9. Hê ’n plan B – en dalk ’n plan C: Weet wat jy gaan doen as dinge nie uitwerk nie. Het jy ’n alternatief of veiligheidsnet indien alles nie volgens plan verloop nie? ’n Alternatiewe plan as jou werk, gesondheid of verblyfstatus verander?

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels