As ek aan Kersfees in Australië dink, is hierdie The twelve days of Aussie Christmas–liedjie onmiddellik in my gedagtes. Ek het dit die eerste keer gehoor net toe ons hier aangekom het, en dit het net glad nie sin gemaak vir my nie (On the twelfth day of Christmas my best mate gave to me: twelve surfing Santas, eleven cricket legends, ten sweatie swaggies, nine daggie dingoes, eight jolly jumbucks, seven cheeky chooks, half a dozen snags, five rusty utes, four footy fans, three meat trays, two jackaroos and a platypus up a gum tree.) Agt jaar later luister ek nou met ’n glimlag na die liedjie en deel ek graag 12 van ons Kers-ervarings hier vanuit down under!
Kersboomervaring
As mens immigreer, dan voel die dag waarop hulle die skeepshouer met jou trekbesittings aflaai, soos Kersfees. Groot was ons verbasing toe hulle ons laat weet ons houer is goedgekeur en hulle gaan hom kom aflaai en dat daar geen probleme was nie, maar dat hulle net nie ons Kersboom kon kry wat ons gesê het in die houer was nie … Eers toe als afgelaai en uitgepak is, het ons agtergekom wat die misverstand was: hulle het nie besef ons bedoel met ons Kersboom eintlik ’n pragtige groot Afrika-kremetartboom van draad nie. Ons geniet ons Kremetartkersboom elke jaar en is so bly hy het saam gekom om ons veral in Kerstyd ’n bietjie te ondersteun.
Kersfeesliggieservarings
Een van die mooiste Kersfeeservarings wat ons al gehad het was om Kersliggies in Melbourne self te gaan kyk op ‘n lieflike somersaand. Op Federation Square is daar ’n 16 m hoë versierde Kersboom en hulle het spesiale Kerstemas wat teen die geboue geprojekteer word terwyl daar oral Kersmusiek speel. Hulle het ook ’n pragtige waterorrel in die Jarrarivier wat mens gratis in die aand kan gaan kyk.
Daar is natuurlik ook huise in woonbuurte wat baie mooi versier word en strate wat toegemaak word oor die Kerstyd sodat mense verby kan stap, kan kyk en foto’s kan neem. Ons gesin geniet dit om roomys te eet terwyl ons deur die strate ry, Kersmusiek in die motor luister en ons verkyk aan al die liggies.
Kindweeservaring
In Melbourne is ons Myer-winkel se Kersfeesvensterstorie ’n ervaring op sy eie, want hulle versier die winkelvenster met ’n uitbeelding van ’n kinderboekstorie en mense staan elke jaar geduldig in lang rye om die storie te kyk. Die winkel het ook ’n hele Kersvloer waar klein kindertjies op ’n Santaland express-treintjie kan ry. Al is ons kinders nou groter, keer dit nie die kind in ons elkeen om deur hulle kinderspeelgoedafdeling te stap en te sien waarmee kinders nou kan speel nie! Ek dink om ’n speelgoedmaker te word, is nog steeds een van die beste beroepe wat mens kan beoefen.
Saamsingervaring
Carols by Candlelight is ’n Australiese Kerstradisie wat in 1938 begin is en dit is ’n wonderlike ervaring waar mense gewoonlik in die buitelug in parke bymekaar kom en dan saam met orkeste en ander kunstenaars sing in die aand.
Ons het die St. Paul-Kerssimfoniekonsert laas jaar bygewoon in die katedraal en dit was ’n besonderse ervaring en ongelooflike spesiale atmosfeer om te ervaar. Ons sal dit graag deel van ons Kerstradisies wil maak en elke jaar saam bywoon. (https://rmp.org.au/concert/2024/carols-in-the-cathedral-2024/)
Saameetervaring
Ons gesin geniet, eet en proe eintlik so aan al die lekker Kersgeregte deur die hele Desember. Ek dink die Kerstafels hier is minder formeel maar definitief nog steeds baie mooi gedek.
Ons Oukersaandete is gewoonlik koue vleise, broodjies, slaai en vrugte. Op Kersdag is dit ’n tradisionele ete van gerookte ham, seekos, waatlemoen, vrugtekoek en gemmerbier. Elke jaar is die groot vraag: pavlova of meringue: wat is jou gunsteling? En daar is nou soveel ander geure om van te kies: lemon myrtle pavlovas, Bailey’s flavoured pavlovas, lemon meringue, chocolate & raspberry meringues en dan praat ek nie eers van al die geure roomys nie!
Iets wat my ook opgeval het, is dat ons baie “bring a plate”-Kersgeleenthede het, waar jy dan ’n bordjie van jou gunstelinggereg met ander kan deel. In Melbourne is daar soveel immigrante en dit is wonderlik om te sien en te proe wat ander mense se gunstelingkos is.
Kuierervaring
Noudat dit later donker word en die skoolaktiwiteite minder word, is daar meer tyd om sommer net te kuier. Dit is baie lekker om net so ’n entjie langs die see te gaan stap met jou honde, of iemand oor te nooi vir ’n lekker stukkie vrugtekoek en koffie. Ons ondersteun graag Annemarie’s Cakes want sy maak met soveel liefde die mooiste Kerskoeke elke jaar.
Kunservaring
Dit is so lekker om elke jaar die nuwe Kersversierings te sien. Een van ons Kerstradisies is om elke jaar een spesiale versiering te koop om ons te herinner aan die jaar wat verby is. Ons ondersteun ook graag kunstenaars by die Kersmarkte en dit bly my verbaas hoe hulle Kersfees in Australië interpreteer en uitbeeld. Hier is ook nog ’n baie sterk tradisie om handgeskrewe Kerskaartjies vir almal wat jy ken, te gee of te pos (veral in die skole). Dis in ons gesin ook ’n tradisie om ’n Kerspakkie of briefie oorsee te stuur vir ons familie wat buite Suid-Afrika woon en in dié tyd ook wens om ’n somer-Afrika-Kersfees te beleef.
Natuurervaring
Alhoewel ons Kersfees in die “somerseisoen” val, is ons weer baie onvoorspelbaar en kan dit reën en baie koud wees ook, so almal is maar voorbereid in hulle Kersbeplanning.
Mense versier hulle huise met immergroen plante soos varings of palmblare en met kleurvolle blomme wat dié tyd van die jaar hier blom, soos die Christmas Bush en Christmas Bellflower, nasturtiums, wisteria en kanferfoelieblomme. Ek geniet my krismisrose (Hydrangea) en Ster van Bethlehem-blomme (Agapanthus) baie dié tyd van die jaar.
Internasionale verlang-ervarings
Ek is bly ons vier Kersfees in Melbourne, want dan is ons Kersfeestyd met al die verskillende tydsones dwarsoor die wêreld ’n bietjie langer. As ons op Kersdag kerk toe gaan en ons Kersete geniet, word Suid-Afrika net wakker nadat ons klaar ons middagslapie gevat het. Ons is dan uitgerus om mooi Kerswense en lekker Kersgesprekke met ander te hê. In Kerstyd is dit wonderlik om met almal in jou lewe kontak te maak en dan besef mens eintlik eers hoe baie vriende en familie almal ook dwarsoor die wêreld bly en na ’n bietjie bekendheid en koestering op Kersdag spesiaal verlang.
Ons gesinservaring
In ons gesin sou ons graag al die Kersfeesgoedjies wat elke jaar so mooi weggepak word, al in November wou begin uitpak, maar prakties is dit net nie moontlik nie want ons lewe is nog baie besig met die laaste stukkie skool. As ons Kersfeesbokse oopmaak, maak ons seker ons is rustig, ons Kersmusiek is aan en ons het genoeg tyd om oor al die Kersversierings, maar ook “oor alles en nog wat”, te gesels. Ons het ook ’n Kerstradisie waar ek die vorige jaar elkeen se spesiale Kersversierings vir die volgende jaar klaar toegedraai en gebêre het toe ons die vorige jaar Kersfees opgepak het. Dit is ’n groot verrassing om dan die geskenkversierings vir die nuwe Kersfees oop te maak en op te hang. Ons Kersversierings is ook nie noodwendig “tradisioneel” nie, want dit is ietsie wat vir ons spesiaal is en wat met ons praat.
Oukersaand eet ons almal saam en dan lees ons die Kersverhaal uit die Bybel, sing ’n paar Kersliedere en dan sê ons elkeen waarvoor ons spesiaal die jaar baie dankbaar was (en ek probeer dit op video vir elkeen vasvang om later te onthou vir eendag). Die kabouters (kinders) deel dan die geskenke uit en ek neem elkeen met sy geskenke af (’n snaakse foto waar hulle die geskenkies balanseer of ’n toring bou en om dit loer, ens.), want dit gaan vir ons om die idee dat jy bevoorreg is om ’n geskenkie te kry, maak nie saak wat dit is nie. Almal maak dan hulle geskenke oop en sê dankie vir mekaar. Ons eet almal saam lekker nagereg en die kinders speel met hulle geskenke en as dit later rustiger word, sit ons grootmense en gesels in die donker, met net die Kersliggies en sagte Kersmusiek, om die Kersboom. Vir my is dit tradisie om dan ’n glasie Van Der Hum-likeur te geniet saam met “After Eight”-sjokolade en ons kuier tot ons nie meer kan wakker bly nie.
Ons het Kersoggend nie Kerskouse nie, maar kussingslope met klein bederfies in vir die kinders: gewoonlik ietsie om te eet (iets van die Suid-Afrikaanse winkel) en ’n klein ietsie om mee te speel.
Ons probeer om voor ons die Kersdiens bywoon, ’n mooi foto van ons as gesin saam te neem, wat ons later die wêreld kan instuur met ons mooiste Kerswense. Dan kan mens ontspan en die Kersdiens geniet, lekker met almal om jou kuier voor ons aansit vir ons Kersete en natuurlik die Kersmiddagslapie vat voor Suid-Afrika wakker word.
Ons het al heeltemal alleen Kersfees beleef, maar was ook al bevoorreg om Kersfees hier saam met familie en vriende te geniet en dit sal altyd ’n baie besonderse en kosbare onthou in ons harte bly, net soos om vir Kersfees terug Suid-Afrika toe te kan gaan.
Die saamwees-gemeenskap-ervaring
Om alleen in ’n land te wees en te hunker na ’n gevoel van bekendheid en tuishoort was vir ons baie moeilik en emosioneel. Ek weet nie of die mense wat na ons toe uitgereik het en bietjie van hulle tyd, gesels en omgee met ons gedeel het, ooit sal besef wat ’n wonderlike Kersgeskenk dit vir ons was nie. Ek dink as ons in Suid-Afrika was, sou ons seker net met ons bekendes en geliefdes gekuier het, maar in so ’n oorsese situasie kry mens die geleentheid dat ander hulle oor jou ontferm en dat jy dan ook weer daardie selfde liefde aan ander kan uitdeel.
Ek dink om so alleen of weg van mens se bekende familie en vriende te wees, is eintlik ’n wonderlike geleentheid om te dink watse Kerstradisies mens wil begin in jou eie gesin. Ek het besef elkeen hou Kersfees op ’n ander manier en een is nie meer reg as ’n ander nie.
In Melbourne het ons vanjaar vir die tweede keer die geleentheid gehad om ’n Afrikaanse Kerssangdiens by te woon en ons hoop om dit ’n jaarlikse tradisie te maak. Dit was wonderlik om in Afrikaans te kon praat, sing en kuier terwyl mens ander Suid-Afrikaanse gesinne ontmoet wat ook van heinde en verre gekom het om deel te wees van hierdie unieke saamweeservaring.
Kontak met SA-ervaring
“Ons groet die Oupa’s, die Ouma′s, die neefies, die niggies, die oomies, die tannies, die Kersboom se liggies gaan aan, en af. Onthou al die stories, Onthou al die grappies…” (https://www.youtube.com/watch?v=5AWLVF33KDc, Robbie Wessels, Pinochio se dam).
Vir ons is daar is baie oorweldigende emosies wat saam met Kersfees en die dink aan Suid-Afrika gaan. In die Kerstyd dink ons baie aan almal vir wie ons lief is in Suid-Afrika, en spesiaal aan al die oupas en oumas wat alleen is. Hulle Kerstradisies het ook noodwendig verander en ek weet as gevolg van omstandighede buite mens se beheer het my ouers byvoorbeeld 25 jaar laas al ons kinders saam met hulle om hulle Kersboom gehad.
Ons probeer rustig tyd saam deurbring so oor die internet, as ons tydsones kruis. Ons maak ’n spesiale Kersvideo waarna veral die oupas en oumas weer en weer kan kyk en wys hulle hoe die kinders geskenke oopmaak.
Ek sien Kerstyd as ’n kosbare tyd vir stil word, ’n tyd vir dankbaarheid en ’n tyd vir mekaar … of jy hier in Melbourne woon of op enige ander plek in ons wêreld.
Geseënde Kerstyd van ons Du Toits in Melbourne vir julle elkeen!
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Melbourne